Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (4)

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (4)

Die heidensending

Die kerk se taak om die evangelie aan alle mense te verkondig is een van die tekens van die nabye we­derkoms van Christus. Jesus het self ‘n duidelike uitspraak: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom” (Matt 24:14).

Beteken dit dat die Here dus nie nou al kan kom nie, of dat sy koms selfs nie eens naby kan wees nie? Daar is baie mense, selfs volke wat nog nie die evangelie gehoor het nie. Maar dit moet ‘n mens tog ‘n bietjie onrustig maak. Sy koms was dan al in die tyd van die Nuwe Testament naby.

Wat het Jesus bedoel? Dis interessant om Paulus se briewe hieroor te lees. Paulus skryf aan die Kolossense oor die evangelie “wat in die hele wêreld vrug voortbring”, “die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is” (1:6, 23), en later lees ons: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor” (2 Tim 4:17). En skielik is dit duidelik waarom Paulus, en al die ander skrywers in die Nuwe Testament, kon verkondig dat die koms van Christus (in hulle tyd) naby was. Hulle was oortuig dat die uitspraak van Jesus deur hulle optrede in vervulling gegaan het: al die nasies (waarvan hulle geweet het) het reeds in hulle leeftyd die evangelie gehoor. En dit was ‘n teken dat Jesus reeds in die tyd van die Nuwe Testament enige oomblik kon kom. Ons kan nie aanvaar dat Jesus onder “al die nasies” iets anders bedoel het as wat die apostels daaronder verstaan het nie.

Gevolgtrekking

Die eindtyd of die laaste dae is dus nie ‘n tyd wat die apostels eers in die (verre) toekoms verwag het nie. Hulle verkondig dat Jesus in die laaste dae gebore is, dat sy opstan­ding die algemene opstan­ding ingelui het wat aan die einde sou plaasvind, dat die Heilige Gees in die laaste dae uitgestort is, dat die gemeente in die eindtyd leef, ja, in die laaste uur. Daarom verkondig hulle dat die Regter voor die deur staan, dat die tyd kort is, dat die einde naby is, dat Christus gou sal kom. Dit was ‘n troos vir die vervolgde gelowiges, en ‘n waarskuwing vir die ongelowiges.

 

• ‘n Vertraging van die wederkoms?

Dit is natuurlik ‘n dringen­de vraag waarom Christus dan nog nie gekom het nie. As sy koms al in die tyd van apostels naby was, as Hy toe al kon gekom het, wat van die 2 000 jaar wat intussen ver­loop het? Kan ons vandag nog met eerlikheid sê dat ons Hom spoedig verwag “op die wolke van die hemel”?

‘n Mens kan skaars ‘n definitiewe antwoord uit die Nuwe Tes­tament verwag. Die apostels het nie hierdie 2 000 jaar sedert die hemelvaart verwag nie. Hulle het in elk geval nie in hul verkondi­ging daarvoor voorsiening gemaak nie.

Daar is wel hier en daar ‘n opmerking wat ons kan help om self ‘n antwoord te soek. Baie belangrik is die een in 2 Petrus 3:8-9: “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

Hierdie opmerkings is geskryf in ‘n situasie waar daar alreeds mense was wat gevra het waarom die Here nog nie gekom het nie. Die feit dat hulle alreeds teen die einde van die eerste eeu so ‘n vraag gevra het, toon hoe sterk die boodskap van die apostels oor die nabyheid van die wederkoms deurgekom het.

Die opmerkings gaan oor die berekening van tyd en oor God se diepste motiewe. Die berekening van tyd word prakties on­moontlik gemaak. Wat vir ons vreeslik lank lyk, kan vir God baie kort wees, en andersom. Duisend jaar en een enkele dag is twee absolute uiter­stes. Die berekening is uit! Om dit te probeer konkretiseer: dit kan vir die Here voel of die hemelvaart van Christus maar net eergister was (twee dae; dus 2 000 jaar). God beleef tyd anders as ons. En verder is sy diepste motief die bekering van mense. Dit beteken dat daar aan ons kant net dankbaarheid kan wees vir hierdie lang “vertraging”.

Intussen het ons sy belofte dat Christus weer sal kom. En ons het die algemene tekens wat voortdurend oor en oor in vervul­ling gaan om ons daaraan te herinner dat Hy enige oomblik weer kan kom. Die spesifieke tekens is reeds vervul, maar is self in ‘n sin ‘n staande herinnering dat Hy enige oomblik weer kan kom. Daar was al heelwat mense wat hulleself as die “Christus” voorgedoen het, en heelwat wat op die allerradikaalste manier die kerk vervolg het, wat telkens weer die boodskap bring dat die Here enige oomblik kan kom. Die verharding van die Jode, die anomalie dat die heidene met Israel se Messias sit, herinner ons ook aan sy koms. Volgens Romeine 11 sal hierdie verharding voortduur tot by die wederkoms.

Die feit dat Christus na 2 000 jaar nog nie weer gekom het nie, is inderdaad ‘n verleentheid. Maar ons laat dit gelowig in God se hande omdat ons nie toegang het tot die agtergrond hiervan nie. Intussen het ons ‘n getuienis wat meer mense kan oorreed om Hom te vertrou en in die vreugde te deel om sy kinders te wees.

Dit is terloops totaal buite die kwessie om 2 Petrus 3:8 se “een dag soos duisend jaar” te beskou as ‘n basis om die ouderdom van die aarde en die tyd van die wederkoms te bereken. Daar is die gedagte dat God die aarde in ses dae gemaak het en die sewende dag gerus het (*Skepping), en dat dit dan sou beteken dat die aarde net 6 000 jaar bestaan (een dag soos duisend jaar) voordat die wederkoms aanbreek met die sewende dag as die *Duisendjarige Vrederyk. Maar dis ‘n willekeurige interpretasie van hierdie teks wat in elk geval dan geen raad sal hê met die tweede deel – “en duisend jaar soos een dag” – nie.

 

Outeur: Prof Adrio König