Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hel

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hel

Hel/Verderf/Verdoemenis/Vuurpoel

(*Oordeel, *Toorn, *Straf van God) • Doderyk (sjeool, hades) • Hel (gehenna)

Die doderyk (Hebreeus: sjeool, Grieks: hades) kry ons in die Ou Testament en die hel (Grieks: gehenna) in die Nuwe. Verderf, ver­doemenis en vuurpoel is alternatiewe benamings vir die hel.

Ons moet ‘n duidelike onderskeid maak tussen die Ou Tes­ta­ment en die Nuwe. In die Ou Testament is net van die doderyk sprake. Dis eers in die Nuwe Testament dat ons van die hel lees. Volgens die Ou Testament het alle mense na die doderyk gegaan, en was daar geen onderskeid tussen regverdiges en onregver­diges nie. Volgens die Nuwe Testament gaan die goddelose na die hel, ter­wyl die gelowiges uiteindelik na die hemelse heerlikheid van God op die *nuwe aarde gaan.

  • Doderyk (sjeool, hades)

Die voorstelling van die Ou Testament is dat die doderyk onder die aarde is en die teenoorgestelde is van die boaardse, hemelse sfeer van lig en lewe. Dis ‘n plek van duisternis en doodse stilte. Alle dooies gaan daarheen en daar is geen onderskeid tussen hulle nie. Dit is ‘n weer­sinwekkende plek en die gelowiges pleit sonder ophou by God om hulle nie daarheen te laat gaan nie. Volgens Job is die doderyk ‘n stikdonker land, ‘n land van don­ker nag met diep duisternis, waar niks georden is nie, ja, waar die lig self donker is (10:21-22). Die psalmdigter praat van die dooies as dié aan wie God nie meer dink nie en van wie Hy sy hand teruggetrek het, en verderaan vra hy retoriese vrae soos: “Sal U met dooies ‘n wonder laat gebeur? Kan gestorwenes opstaan en U loof? Word daar in die graf (‘n ander woord vir doderyk) vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood, u redding in die land van vergetelheid?” (88:6, 12 ev).

 

Hiskia is die klassieke voorbeeld van hierdie weersin in die doderyk. Hy kry die boodskap van Jesaja dat hy gaan sterf, en dan wend hy hom op ‘n dramatiese manier tot God (Jes 38). Hy pleit om nog langer te lewe. Die Here verhoor sy gebed, en dan kry ons sy lied met sy belewing van sy siekte en sy reaksie teen die dood en veral teen die doderyk (38:9-20).

 

Waarom sien hy nie kans om te sterf nie? Omdat hy na die do­deryk moet gaan. En “in die doderyk kan niemand U loof nie, geen­een wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie! Net hulle wat nog lewe, kan U loof, so doen ek dit vandag” (38:18-19).

Dit klink vreemd om daaraan te dink dat dit juis die vromes is wat nie kans sien om te sterf nie. Waarom nie? Dis duidelik uit die aanhalings wat reeds gedoen is dat dáár geen verwagting meer is van gemeenskap met die Here nie. Hiskia sê: “In die doderyk kan niemand U loof nie. Net hulle wat nog lewe, kan U loof” (38:18-19).

 

Dit is aangrypend dat sy diepste behoefte, wat nie meer in die doderyk vervul kan word nie, is om God te loof. Is dit ook joune?

 

  • Hel (gehenna)

Dié woord kom van die naam van ‘n dal suid van Jerusalem wat die (Ben) Hinnomdal genoem is. Dit was die stad se vuilgoedhoop wat altyd gesmeul het. Volgens die Nuwe Testament is die hel ‘n vreeslike plek waar ‘n onblusbare vuur brand, ‘n donker plek waar mense altyd sal huil en op hul tande kners, ‘n plek wat gemaak is vir die duiwel en sy engele. Dit word ook die verderf, die vuurpoel, en die verdoemenis genoem (Mark 9:43 ev; Matt 25:30; Op 20:14 ev; 2 Tess 1:9).

Die gedagte van ‘n massa mense wat vir ewig in die aller­vrees­likste smarte sal wees, is vir ons moderne lewensgevoel so aanstoot­lik dat dit omtrent heeltemal uit die woordeskat van die Christen­dom verdwyn het. Dis seker net in uitsonderlike gevalle dat daar nog ernstige aandag daaraan gegee word. Dit is ook moeilik om sinvol in verband gebring te word met ‘n God van liefde.

Maar ons moet ook nie ons moderne menslikheidsgevoel ver­absoluteer nie. Daar is inderdaad harde kante aan die boodskap van die Bybel wat waarskynlik eerder bedoel is om ons te waar­sku as om redenasies uit te lok.

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...