Die Groot Geloofswoordeboek: Evangelie van Tomas

image_pdfimage_print

Die Evangelie van Tomas – Adrio König

Die Evangelie van Tomas is ‘n apokriewe Evangelie (*Apokriewe Boeke), een van ‘n hele aantal vroeë geskrifte wat nie in die Bybel opgeneem is nie. Hierdie Evangelie is in 1945 in Egipte ontdek in die beroem­de Nag Hammadi-fonds toe ‘n hele aantal baie ou geskrifte in ‘n kleipot gekry is.

Die Evangelie van Tomas bestaan uit 114 uitsprake van Jesus. Dit is nie in verhaalvorm soos die Evangelies in die Bybel nie. Daar is dus geen geskiedenis of dade van Jesus nie, en omtrent geen besonderhede oor waar wat gebeur of gesê word nie. Die meeste van die uitsprake word ingelui met die eenvoudige woorde: “Jesus het gesê.” Daar word ook omtrent geen titels vir Jesus gebruik soos “Here” of “Seun van die mens” nie.

Die meeste van die uitsprake is in die vorm van wysheidspreu­ke. Die indruk word dus gewek dat Jesus ‘n wysheidsleraar was wat rondgeloop het en dinge gesê het om die omstanders te laat dink. So iets was in die tyd van Jesus nie onbekend nie.

Die 114 uitsprake van Jesus word deurmekaar weergegee. Daar is nie struktuur in die geskrif, byvoorbeeld versame­lings van uitsprake rondom ‘n tema soos die Bergrede (Matt 5-8) of die pro­fetiese rede van Jesus (Matt 24, 25) nie. Daarom is dit baie moei­lik om enige verband tussen opeenvolgende uitsprake te kry. Daar ontwikkel ook omtrent nooit ‘n gesprek tussen Jesus en sy vol­ge­linge nie, sodat ‘n mens nie gedagte-ontwikkeling kry nie. Dit alles is natuurlik heeltemal anders as in die Evangelies in die Bybel waar die optrede en die uitsprake van Jesus in bepaal­de situasies aan­gebied word sodat ‘n mens uit die konteks sekere insigte kan kry. Die Tomas-evangelie het geen “lewe” nie. Dis ‘n dooie, starre do­kument.

Dit is goed moontlik dat dit ‘n doelbewuste versameling van uit­sprake van Jesus was waaraan nog later byvoegings gemaak moes word. Daar is ander sulke versamelings bekend.

Die Evangelie van Tomas is moeilik verstaanbaar. Daar is baie uitsprake waaruit ‘n mens nie maklik sin maak nie. Op sigself hoef dit nie vreemd te wees nie. Dit is ‘n eeue oue geskrif uit ‘n vreem­de kultuur. Maar hierdie onverstaanbaarheid kan doel­bewus wees. Die Evangelie begin en eindig met opvallende uitsprake. Aan die begin lees ons dat dit “verborge” uitsprake van Jesus is, en dadelik word vervolg: “Wie die betekenis van hierdie uitsprake ontdek, sal nie die dood smaak nie.” En aan die einde (108) sê Jesus self: “Die verborge dinge sal geopenbaar word aan die persoon wat uit my mond drink.”

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

Outeur: Prof Adrio König

image_pdfimage_print