1

Die Groot Geloofswoordeboek: Fariseërs en Sadduseërs

Fariseërs • Sadduseërs – Adrio König

Die Fariseërs en die Sadduseërs is die twee belangrikste groepe godsdienstige leiers met wie Jesus in sy aardse bediening te doen gehad het. Hulle het nie langs dieselfde vuur gesit nie, en hulle oor­tuigings en oogmerke het dikwels presies teenoor me­kaar ge­staan. Paulus het by geleentheid nogal hiervan gebruik gemaak om hulle teen mekaar af te speel (Hand 22:6 ev). Die Fariseërs het aller­eers in die godsdiens belang gestel en was die streng party wat die wet tot in die fynste besonderhede wou nakom. Daarteenoor was die Sadduseërs eerder in die politiek geïnteresserd en nie so streng oor die wet nie. Hulle was bereid om met vreemde owerhede saam te werk om self politieke mag in die hande te kry sodat hulle gerieflik kon leef. Maar die Fari­seërs het hulle eenkant gehou en daarna gestreef om ’n hei­lige volk te vorm wat gereed sal wees as die *Messias kom. Hulle verwagting was dat Hy die volk van die vyand (in Jesus se tyd die Romeinse oorheersers) sou verlos en self op die troon van Dawid in Jerusalem oor hulle sou regeer.

Die woord “Fariseër” kom van ’n Aramese woord wat beteken “die afgesonderde”. Hulle wou afgesonderd leef van alles wat nie suiwer en heilig in hul oë was nie, selfs van die ander ortodokse Jode. Hulle het hulle veral geïsoleer van die gewone volk wat nie die wet stiptelik gehou het nie, en nog meer van die tollenaars en sondaars wat heeltemal verwerplik was. Dink maar net aan dit wat ons oor hulle in die Evangelies lees (Matt 12:1 ev; Luk 7:36 ev; Joh 8:1-11).

Die woord “Sadduseër” kom waarskynlik van die naam Sadok af, maar dit is onseker wie hy was. Terwyl die Fariseërs uit die gewone mense gekom het, het die Sadduseërs uit die priesters gekom, en juis die priesters kon ’n groter politieke invloed onder vreemde regeerders kry omdat dié nie graag met die godsdiens van die Jode wou inmeng nie.

Daarom sê Pilatus dat hulle Jesus volgens hulle wet moet oor­deel (Joh 18:31). Omdat hulle Jesus wou laat kruisig, was hulle egter van Pilatus se beslissing afhanklik omdat hulle nie die reg gehad het om mense tot die dood te veroordeel nie.

Die Fariseërs en die Sadduseërs het heelwat verskil oor gods­dienstige sake. Die Sadduseërs het net “die wet van Moses”, dit is die eerste vyf boeke van die Ou Testament, aanvaar. Daar­teen­oor het die Fariseërs ook “die profete” en “die geskrifte” aan­vaar, wat so ongeveer ons hele Ou Testament insluit. (*Kanon, *Sep­tua­gint) Dit beteken dat die Sadduseërs nie aanvaar het dat daar ’n opstanding uit die dood sal wees nie (Mark 12:18 ev). Daar staan niks daarvan in die eerste vyf boeke nie. Hulle het ook nie aanvaar dat daar geestelike wesens soos engele is nie, wat vreemd is omdat daar heelwat verwysing daarna in Genesis is. Ons het egter reeds opgemerk dat dit vir hulle nie in die eerste plek om die godsdiens gegaan het nie, maar om die politiek. Hulle het dus selfs die eerste vyf boeke nie so ernstig opgeneem nie.

Dit is interessant om Jesus se verhouding met hierdie twee groe­pe te bekyk. Aanvanklik speel die Sadduseërs geen rol in Je­sus se le­we nie. Hulle word eers aan die einde van sy lewe ’n fak­tor (Matt 16:1, 6, 11 ev; 22:23 ev), teenoor die Fariseërs wat van die begin af sterk teen Jesus optree. Juis omdat Jesus nie ’n politieke hervormer was nie, maar op die godsdiens gekonsentreer het, was die Saddu­seërs aanvanklik nie in Hom geïnteresseerd nie, maar die Fariseërs wel. Eers nadat Hy die tempel gereinig het en daardeur inbreuk gemaak het op die voorregte van die Sanhe­drin, die Joodse Raad, het die Sadduseërs met die Fariseërs begin saamwerk om Jesus uit die weg te ruim. Die Sanhedrin het hoofsaaklik uit Sadduseërs bestaan. Die hoëpriester was self ’n Sadduseër, en net so die meeste van die ander lede, die “skrifgeleerdes” en die “familiehoofde”.

In ons algemene woordeskat word Fariseër vereenselwig met skyn­heiligheid/huigelary. “Jy is ’n regte fariseër” is geen kom­pli­ment nie! Dit is sekerlik nie waar dat alle Fariseërs skynheilig was nie. Maar dit is wel bekend dat hulle nie net geëis het dat die wet tot in die fynste besonderhede gehou moet word nie, hulle het ook talle en talle ander wette daaruit afgelei en wou mense se lewens deur hierdie detailvoorskrifte beheer. Hierdie houding het ná die ballingskap ontstaan. Hierdie mense was oortuig dat as hulle die wet tot in die fynste besonderhede uitvoer, so ’n vreeslike ramp hulle nie weer sou tref nie. Dit het daartoe gelei dat die wette belangriker geword het as die Wetgewer en die verhouding met Hom. Onthou dat God éérs ’n verhouding met Abraham aangegaan het en toe 430 jaar later (Gal 3:17) die wet vir die volk gegee het. Die wet was dus bedoel om die lewenswyse van die gehoorsame volk van God te reël. Maar dit beteken dat die wet sy sin en betekenis verloor sodra ons verhouding met Hom verbreek is.

Dit is dus nie vreemd dat Jesus se skerpste veroordelings juis teen die Fariseërs gerig was nie. Niks mag in die plek van ons persoonlike verhouding met die Here kom nie.

Jesus beskuldig die Fariseërs veral van drie dinge:

Eerstens, hulle het allerlei onsinnige onderskeidings getref: ’n eed by die tempel is nie bindend nie, maar wel ’n eed by die goud van die tempel. ’n Eed by die altaar is nie bindend nie, maar ’n eed by die offer op die altaar wel (Matt 23:16 ev).

Tweedens, hulle het die maklike deel van die wet gehou, maar nie die moeilike en belangrikste deel nie. Hulle neem die tien­des vreeslik ernstig, gee selfs tiendes van totaal onbenulli­ge dingetjies, maar hulle verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God (Luk 11:42). Hulle wil die reinheidswette tot in die fynste besonderhede hou, maar hulle gee nie om om mense daardeur te vernietig nie (Luk 7:36-50; Joh 8:1-11).

Derdens, hulle eis van die gewone mense om die wet in die fynste besonderhede te hou, maar self doen hulle dit nie. Inteendeel, alles wat hulle doen, is daarop ingestel om eer van mense te ontvang (Matt 23:1-11).

“Huigelaars,” noem Jesus hulle oor en oor (Matt 23). En dit is
waar. Dit is ook waar ons spreekwoord vandaan kom. En ons kan ons natuurlik verlekker oor hulle so huigelagtig en vals was. Maar ons kan ook eerlik kyk na die dinge waarvan Jesus hulle aan­ge­kla het, en ons eie lewe daarin spieël. Hoeveel klein wetjies en gebruikies onderhou ons naarstiglik omdat ons meen dat dit ons in die guns van God hou? En hoeveel makliker is dit nie om hierdie wetjies te hou as om goed te wees vir die mense naby ons en om regtig iets vir die armes te doen nie? En hoeveel van die vroom dinge wat ons doen, doen ons vir ons eie eer?

Is daar nie iewers hier diep in elkeen van ons ’n stukkie Fariseër nie?

Woorde gemerk met ʼn * word ook elders bespreek

 

Skrywer: Prof Adrio König