Die Groot Geloofswoordeboek: Gelykenis

Die Groot Geloofswoordeboek: Gelykenis

‘n Gelykenis is ‘n verhaal uit die gewone lewe om ‘n geestelike of morele waarheid oor te dra. Jesus het baie gelykenisse vertel, maar daar is ook gelykenisse in die Ou Testament (Rig 9:8 ev; Jes 5:1-2). Dit is nie aanvaarbaar om aan elke klein besonderheid in ‘n gelykenis ‘n spesifieke betekenis te gee nie, al is dit ‘n baie ou gebruik. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lees ons dat hy vir die herberg-eienaar twee geldstukke gee om die geslaande Jood nog verder op te pas. Een ou kerkvader het gesê die twee geldstukke verwys na die doop en die nagmaal wat ons nodig het om van ons geestelike siekte te herstel. Dit klink dikwels baie vroom, maar dit is nie wat Jesus oorspronklik bedoel het nie. Hy het eintlik niks be­sonders met die twee geldstukke bedoel nie.

‘n Gelykenis het gewoonlik net een sentrale betekenis. Die ge­lykenis van die tien jong meisies (Matt 25:1-13) beteken dat ons al­tyd gereed moet wees omdat die Here onverwags weer sal kom. Die gelykenis van die bruilof (Matt 22:1-14) is ‘n waarskuwing aan die Joodse leiers om Jesus aan te neem of toe te kyk hoe hulle uit die koninkryk uitgesluit word terwyl die evangelie na die heidene gaan. Lukas se weergawe (14:15-24) beklemtoon dat hulle redes om Je­sus nie aan te neem nie, nie aanvaarbaar is nie. ‘n Ou Bybelvertaling het Lukas se weergawe “die gelykenis van die verskonings” genoem.

‘n Mens kry dikwels die sleutel tot die betekenis van ‘n ge­ly­ke­nis in die sinnetjie direk voor en/of na die gelykenis. Kyk na die in­leidende sinne tot die drie gelykenisse oor die verlore dinge (Luk 15:1-2). Die gelykenisse handel oor die blydskap as iets of iemand wat verlore was, weer gekry word. En dit eindig dan met die oudste seun wat nie bly is nie. Maar die betekenis kom duidelik uit in die inleidende sinne waar ons lees dat die tollenaars en sondaars (die verlorenes) na Jesus kom luister het, maar die Fariseërs (die oudste seun wat nooit weggeloop het nie) aanstoot geneem het. Daarom word daar ook aan die einde niks gesê oor die vraag of die oudste seun toe na sy pa geluister het nie. Dis juis die appèl aan die Fariseërs wat nog nie gereageer het en Jesus aanvaar het nie.

Die betekenis van die gelykenis van die boere en die wingerd kom duidelik uit in Jesus se waarskuwing direk aan die ein­de (Matt 21:43): die wingerd wat aan ander boere verhuur sal word, is die koninkryk wat na die heidene gaan, en die mense wat doodgemaak word, is die leiers van Israel wat deur die Here gestraf gaan word (Matt 21:41 ev).

 

Outeur: Prof Adrio König