1

Die Groot Geloofswoordeboek: God

Die Groot Geloofswoordeboek: God

God

(*Mensvormige spreke oor God, *Here, *Liefde)

  • Geduld Frustrasie Onvergelyklikheid Liefde Mag

Dink. Of luister?

Onder die begrip “almag kyk ons na die gangbare beskouing van mense oor wat God se almag, alomteenwoordigheid en al­we­tend­heid beteken. Daar is met die opmerking afgesluit dat dit nie seker is dat hierdie algemene oortuiging ooreenstem met wat ons in die Bybel oor God lees nie. Verderaan in hierdie be­spreking oor God gaan hierdie begrippe nou weer ter sprake kom, maar dan soos ons hulle in die Bybel kry, en nie soos mense daaroor filosofeer nie.

Daar is ‘n groot verskil tussen dink (filosofeer) oor God, en luis­ter na sy woord. Onder die bespreking van almag is die op­mer­king gemaak dat Christene by sekere Griekse filosowe geleer het om oor God te dink in plaas van om na sy woord te luister. Daarom maak die gangbare siening oor die almag, alwetendheid en alom­teenwoordigheid van God dikwels so ‘n vreemde indruk as ons met die Bybel besig raak. Daar is goeie redes daarvoor. In die By­bel word daar nie oor Hom gedink nie, maar van Hom vertel. In die Bybel word nie teorieë oor Hom opgebou nie, Hy word beleef. Wat ons in die Bybel oor Hom het, is dus nie die resultaat van ons denke nie, maar van sy dade in die geskiedenis van Israel en in Jesus. Die Bybel is hoofsaaklik ‘n geskiedenisboek, nie ‘n filosofieboek nie. Die Bybel vertel verhale, dit gee nie lang, teoretiese beredenerings nie. Die Bybel raak grond, dit sweef nie bo in die lug rond nie.

Wat kry ons dan in die Bybel oor God? In die Ou Testament hoof­saaklik die verhaal van God en Israel. Wat in die verhaal oor­­heers, is die getrouheid van God en die ontrouheid van Israel. God voer ‘n lang en uitmergelende stryd om die hart van sy volk. Hy praat mooi, gee beloftes, vermaan, roep tot bekering, dreig, oor­­deel, straf, maar daar is min positiewe reaksie. Soms reageer hul­le wel so effens, maar meestal bly die bekering weg. Die trou van God en die ontrou van Israel is vir omtrent 2 000 jaar die een oor­heer­­sende tema in die byna 1 000 bladsye van die Ou Testa­ment.

Dit beteken dat Christene nie hoef te sit en filosofeer oor wie en hoe God is nie. Uit hierdie lang geskiedenis kan ons dit aflees. En dan is dit nie wat ons in ons slimmigheid oor Hom uitgedink het nie, maar wat Israel van Hom beleef het en neergeskryf het. Daar is baie dinge, meer as ‘n hele boek vol. Kom ons kies ‘n paar wat gewoonlik nie so prominent in boeke oor God voorkom nie, maar wat uitstaan in sy geskiedenis met Israel: God se geduld, sy frustrasie, sy liefde, sy onvergelyklikheid en sy mag.

 

  • Geduld

Miskien is dit die een eienskap van God wat die sterk­ste uitstaan op bladsy na bladsy in die Ou Testament. Onthou maar net die geskiedenisboeke en die profete. Nog skaars het God met mense begin, of hulle is al klaar ongehoorsaam en ontrou (Gen 3 en 4). Ek wonder of ek nie maar die hele eksperiment met die mens net daar sou gelos het as ek God was nie. Maar God is ge­duldig. Hy gaan aan.

Maar net ‘n paar bladsye verder is die hele mensdom so on­trou en ongehoorsaam dat Hy regtig spyt kry dat Hy ooit met hulle be­gin het (Gen 6:5-7). En as Hy dan die wêreld skoonmaak en ‘n nuwe begin met Noag maak, is daar net twee hoofstukke ver­der al weer ‘n breekpunt: die toring van Babel. Maar God is geduldig, Hy begin weer, nou met Abraham (Gen 12). Maar dis ook nie sonder ernstige probleme nie: Abraham lieg vir die farao om homself te beskerm (Gen 12:10 ev). En hy glo God nie as God beloof om hom ‘n seun te gee nie (Gen 15:2; 16:1 ev; 17:17).

En so gaan dit aan: die uittog uit Egipte, die intog in Kanaän, die koningskap, die verdeling van die ryk, die voortdurende on­trou en afgodsdiens, die ballingskap, die terugkeer – wat ‘n geskiedenis! Maar God hou aan. Wat ‘n geduld!

 

  • Frustrasie

Hy laat nie alles van Hom afloop soos water van ‘n eend se rug nie. Dis nie waar dat ons ontrou Hom nie raak nie. So het sekere Griekse filosowe wel gedink. Hulle het gedink dit sou onwaardig vir God wees om Hom te laat betrek by ons kleinlike probleme. Hy is hoog verhewe en steur Hom nie aan ons nie. Dit sou Hom in te veel intriges, spanning en frustrasie laat beland.

Maar dis mos nou presies die verskil tussen hulle gedink oor God, en Israel se belewing van God. Die verhaal van God en Israel is juis vol van God se intense betrokkenheid by sy volk. En inderdaad bevind Hy Hom in een frustrerende situasie na die ander. ‘n Mens sou van die pyn van God kon praat. Luister net hoe die profete dit in sy Naam uitkreun oor Israel se ontrou: “Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk ‘n bietjie: Het daar al ooit so iets gebeur dat ‘n nasie sy gode verruil? Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. Selfs die hemel moet hieroor skrik en beef en sidder! sê die Here” (Jer 2:10-12). “Hemel” is hier ‘n eufemisme vir God self. Hy sidder oor Israel se ontrou.

Wat ‘n frustrasie vir God! Israel tree absoluut onsinnig op. Dis soos ‘n boer wat ‘n plaas het met ‘n sterk standhoudende fontein, en dan verruil hy dit vir ‘n plaas met geen water nie behalwe ‘n paar reënbakke, en dié is nog gebars ook (Jer 2:13). Om dit sag te sê: God het nie ‘n lekker geskiedenis met sy volk nie.

 

  • Onvergelyklikheid

Maar Hy hou aan! Maak dit Hom nie on­ver­gelyklik nie? Maak dit Hom nie veel heerliker as die hoë, ver­hewe God van die filosowe wat Hom nie bemoei met die klein­likhede van mense en só sy ewige rus laat versteur nie? Wie het al ooit ‘n God uitgedink wat eis dat die sondaars moet sterf, maar dan uit liefde vir hulle sy eie Seun ‘n “sondaar” maak om in hulle plek te sterf? (2 Kor 5:18-22) (*Versoening)

 

  • Liefde

En juis dit het ons by die wese van God gebring. Waarom hou Hy so aan (geduld)? En waarom is Hy so gefrustreerd met Israel? Waarom los Hy hulle nie? Dit sal Hom oneindig baie moeite spaar.

Hy kan nie. Hy het hulle lief. Sy liefde is die dryfveer agter sy “vreemde”, heerlike optrede. Ons lees dit nêrens duideliker as in Hosea 11 nie. Hier worstel die Here opnuut oor die ontrou van die volk. Hy dink terug aan die tyd toe Hy hulle uit die slawerny van Egipte bevry het. Hy het hulle met soveel liefdesorg behan­del. Maar hulle het agter afgode aangeloop. Hy het voortgegaan met sy wonderlike versorging, “maar Efraim het geweier om hom te be­keer” (Hos 11:5). En dan besluit God Hy gaan hulle laat verwoes. Die vyand sal hulle stede platvee. Maar dan, asof uit die bloute, lees ons skielik: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk” (Hos 11:8).

In die bespreking van die almag van God het ons die populêre siening genoem: God kan enige oomblik enigiets doen wat Hy wil. Hier sien ons hoe daar in die Bybel in heeltemal ander terme oor Hom gepraat word. Hy wil Israel verwerp, maar Hy kan nie! Sy liefde maak dit vir Hom onmoontlik. Hier is ons by die hart van God. Daarom is die kortste “definisie” van God in die Bybel: “God is liefde” (1 Joh 4:8, 16). (Onder die begrip *liefde is breedvoeriger oor God se liefde geskryf.)

 

  • Mag

‘n Mens moet baie versigtig wees met die woord “almag”. Dit skep maklik misverstand. Ons het in die bespreking van *al­mag ge­sien dat mense baie probleme daarmee het en vreemde dinge daaraan toeskryf wat ons nie in die Bybel kry nie. Trouens, die Name van God in die Ou Testament wat vertaal word met “die Here die Almagtige” (Jahwe Zebaot) en “die almagtige God” (El Shaddai), is nie goeie vertalings nie. (*Here) Daar is glad nie ‘n woord vir almag in Hebreeus nie, en die woorde wat in hierdie Name van God ge­bruik word, het ook nie die betekenis van almag nie. Daarom be­hoort hierdie name anders vertaal te word. Die Bood­skap vertaal byvoorbeeld Jeremia 8:3 met: “die Here wat sterker as almal en alles is” en Die Multivertaling Bybel gee: “die Here, die Magtige van die he­mel­se leër.”

Hierdie laaste moontlikheid is baie aantreklik, want die He­­-breeus is letterlik “die Here van die leërmagte” wat óf na die weer­mag van Israel verwys, óf na die engele as die hemelse leërmag. Die Here word dus die aanvoerder van hierdie magte ge­noem, en dit dui op sy eie groot mag. Maar met die begrip “almag” (“enigiets doen wat jy wil en net wanneer jy wil”) hou dit geen verband nie.

Daar is wel ‘n paar tekste wat gebruik word om die gedagte te verdedig dat die Here enige oomblik enigiets kan doen (Gen 18:10; Matt 19:26; Mark 14:36; Luk 1:37). Dis goed om net ‘n oom­blik na ‘n paar te kyk.

Die uitspraak in Lukas is die bekendste. Die engel Gabriël sê vir Maria: “Niks is vir God onmoontlik nie.” Die Grieks lees: “Nie is onmoontlik by God elke woord.” Van watter woorde sou die engel praat? Hy het pas twee “woorde”, dit is twee beloftes, aan Maria gegee: sy gaan ‘n baba kry (1:31), en haar tannie Elisabet ook (1:36). Beide “woorde” is natuurlik onmoontlik: Maria is nog nie getroud nie, en Elisabet is stokoud. Hoe werk dié woorde van die engel dan? Antwoord: “Nie is onmoontlik by God elke woord.” Dus: God is in staat om die twee “woorde”, die beloftes self te vervul. Hierdie wonderlike teks sê God kan sy beloftes vervul. Dit is sy groot mag.

Dit word nog interessanter as ons besef dat die engel eintlik terugverwys na die woord van die Here aan Abraham en Sara (Gen 18:14). Ons vertaling lui: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Die Hebreeus lui: “Is die woord vir die Here te won­der­lik?” Watter woord? Die een wat Hy net tevore vir Abra­ham ge­sê het: Volgende jaar dieselfde tyd sal Sara ‘n seun hê. Maar dis onmoontlik. Sara is oor die 80 jaar! Maar vir God is hierdie “woord” (belofte) nie te “wonderlik” nie, want Hy het die mag om sy beloftes te vervul.

Hierdie tekste het dus niks te doen met “enigiets te eniger tyd” nie, maar met dié God wat getrou is én in staat is om sy beloftes te vervul. Dít is die groot mag van God.

Hierdie kort bespreking oor God kan nie alles behandel nie. Dit is net bedoel om die punt te maak dat ons moet ophou om oor God te dink, en na sy Woord oor Hom begin luister. Nie al die vreemde dinge wat mense oor Hom kan uitdink nie, maar die boodskap oor Hom in die Bybel is die waarheid.

Natuurlik moet ons nog altyd dink oor wat ons in die Bybel oor Hom lees, maar dan dink ons nie oor wat ander gedink het nie, maar oor wat Israel ervaar het.

 

Skrywer: Prof Adrio König