Die Groot Geloofswoordeboek: Heilig

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilig

Hierdie woord word in verskillende betekenisse gebruik. God is heilig, en dit beteken dat Hy anders is as die sondaarmens, dat Hy ander waardes het en anders optree. Dat Hy heilig is, kan beteken dat Hy soos ‘n vuur die sonde verteer (Heb 10:26-31), maar ook dat Hy dit nie oor sy hart kan kry om die volk hulle verdiende loon te gee en hulle te verwerp nie (Hos 11:8-9). Om­dat God heilig is, word ons ook opgeroep om heilig te wees (1 Pet 1:15-16). Hierdie heiligheid beteken ook om anders te wees, volgens ‘n ander waardestelsel as die ongelowiges te leef. (*Beeld van God)

Verder kan heilig “afgesonder, opsy gesit” beteken. Die tem­pel was heilig, die altaar en die voorwerpe rondom die altaar was hei­lig. Dit beteken dat dit volkome aan die diens van God gewy was. Sagaria verwys na die groot dag van die Here wat kom. Daar­die dag sal selfs die klokkies aan die perde se tuie “heilig” wees (1953-vertaling), of “gewy wees aan die Here” (1983-vertaling). In hierdie sin is die gemeente en die gelowiges heilig, al is hulle nog nie vry van sonde nie. Die gemeente word in die Briewe “heiliges” genoem (1953-vertaling) of dié wat “vir God afgesonder is” (1983-ver­taling). Dit geld selfs van gemeentes waarin daar aanstootlike sondes voorgekom het (1 Kor 1:2; 5:1 ev). Dit was dus nie bedoel as “sedelik volmaak” nie, maar “vir die Here opsy gesit”.

Maar juis daarom moet gelowiges ook “heilig” lewe, en dan het heilig ‘n sedelike betekenis van “sonder sonde”. (*Heiligmaking, *Perfeksionisme)

 

SkrywerProf Adrio König