1

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (5)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (5)

  • Redding

As ‘n mens gered moet word, veronderstel dit jy is in ‘n groot ge­vaar. Waar kom die gevaar dan vandaan?

Dit is baie sleg om eensydig nadruk te lê op die liefde en genade van God. Ons aanvaar dit later as vanselfsprekend. En dan is dit lankal nie meer goeie nuus wat ons in beweging bring nie. Iemand het gevra: “What is so amazing about grace?” na aanleiding van die lied “Amazing Grace”. *Genade het goedkoop geword. Son­der die donker agtergrond van die *toorn en die *oordeel van God oor ons *sonde, word sy liefde en genade vaal.

Daar is in die Nuwe Testament baie ernstige waarskuwings teen die *hel. Maar ek het in 30 jaar nooit ‘n preek gehoor waarin hier­die waarskuwings ernstig oorweeg word nie. Intussen stroom die versekerings van God se liefde erediens na erediens oor ons. Is dit regtig nog goeie nuus wat ons opgewonde maak?

God is heilig. Hy haat die sonde. Hy wil dit met die dood straf.

Ons is sondaars. Ons staan onder die oordeel van God. Wat gaan van ons word?

Trouens, ons kry eers ‘n redelike idee van hoe erg God oor die sonde dink as ons na Jesus se vernedering en kruisdood kyk. Dis wat dit die Vader en die Seun kos om ons van die verderf te red. Eers in hierdie lig begin ons besef: genade is duur. Dis nie vanself­spre­kend nie. Dis peperduur. Maar God het besluit om die prys self te betaal. Dis dus genade dat Hy genadig is. Juig! Dis goeie nuus!

Die begrip “redding” bied dus ‘n besondere perspektief op die heilsweg. Dit herinner ons daaraan dat ons in groot gevaar is son­der die genade van God, en dat ons met albei hande sy aan­bod moet aanvaar. Die begrip “redding” kom minstens 25 keer by Paulus voor in die sin van verlossing met die oog op die ewige lewe. Dit is in­teressant dat dit net soveel keer in die Evan­gelies en Handelinge gebruik word vir *genesing. Die implikasie daarvan kan wees dat genesing ‘n wesenlike deel is van die heil wat Christus gebring het. (*Heil)

Net Lukas gebruik dit (in Handelinge) vir beide verlossing en genesing (4:10, 12).

Nogeens is dit duidelik dat redding dus nie een stasie op ‘n lang pad is nie, maar eerder een perspektief op die manier waarop ons aan die heil, dit is die gemeenskap met die Here, deel kry. Redding sê ons word uit groot moeilikheid verlos.

 

  • Vergifnis

Vergifnis veronderstel skuld. Maar in hierdie geval is dit skuld wat te groot is om te betaal. Dit bring weer iets na vore van *redding uit verlorenheid, uit ‘n groot gevaar.

Daar is heelwat van die begrippe wat ons vir die heilsweg ge­bruik wat so ‘n radikale betekenis het. Redding veronderstel verloren­heid, wedergeboorte veronderstel dat ons misluk het (ons moet oor ge­bore word), bekering veronderstel ons loop op die ver­keerde pad in die verkeerde rigting, iets van: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop”(Jes 53:6). En vergifnis impliseer dat ons nie ons eie verantwoordelikheid kan aanvaar en uitvoer nie. Iemand moet vir ons instaan.

Is dit nie vernederend nie? Ja, dit is. ‘n Mens wil graag jou eie ding doen, self jou verantwoordelikheid nakom. Maar skynbaar kan ons nie. Daar is ‘n ou leerstuk wat lui dat ons totaal verdorwe is. (*Totale verdorwenheid, corruptio totalis) Dit beteken nie dat ‘n mens wat nie die Here ken nie, niks goeds kan doen nie. Natuurlik doen baie ongelowiges wonderlike dinge. Maar nie hulle of ons kan enigiets doen om ons saligheid by God te verdien nie.

Natuurlik is dit vernederend. Dit beteken ons moet van *ge­nade leef, van iemand anders se goedheid. Maar die werklike oorsaak van ons vernedering is nie dat ons van genade moet leef nie, maar dat ons sondaars is. Sonde verneder ‘n mens. Dis sommer in die gewone lewe sigbaar. Kyk hoe lyk mense wat hulle lewe aan die duiwel wy. Jy sien dit later sommer op hulle gesigte.

Daarteenoor is vergifnis en genade verheffend. Dit gee ‘n mens weer waarde. Dit verseker jou: God gee soveel vir my om dat Hy selfs sy Seun gegee het.

 

Skrywer: Prof Adrio König