Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die ware kerk

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die ware kerk

Die Christelike kerk het vier besondere eienskappe: algemeen­heid, Christelikheid of apostolisiteit, heiligheid en eenheid. Maar hierdie eienskappe is tegelyk ook vermanings en uitdagings waarna ons met aandag moet luister. Die vraag sal elke keer wees of die kerk, en dan spesifiek die kerkgenootskap waaraan ons be­hoort, regtig hierdie kenmerk duidelik vertoon, en of ons nie baie ernstig daaraan moet werk om duideliker te wees wat ons veronderstel is om te wees nie.

  • Algemeenheid

Die kerk is algemeen. Hiervoor word ook die woord “katoliek” gebruik. Dit beteken dat die kerk gedurende alle eeue die hele wêreld met die hele evangelie moet bereik. Eer­stens mag die kerk in die algemene sin van die woord hom nooit tot ‘n deel van die mensdom beperk, byvoorbeeld net die Weste, of net ‘n bepaalde volk of kul­tuur nie. Omdat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het (2 Kor 5:18 ev), moet die hele wêreld bereik word (Matt 28:19). Maar tweedens moet die wêreld met die hele evangelie bereik word. Die kerk mag hom nooit beperk tot net ‘n deel van die evangelie nie, soos net die “redding van siele”, of net die algemene heerskappy van Christus oor die samelewing om ‘n sogenaamde Christelike samelewing te vorm nie. Vandag word ons al meer bewus daarvan dat die Bybel ook ‘n boodskap bevat oor die besker­ming van die aarde of die natuur teen die aggressiewe aan­slag van ons kultuur op die hulpbronne sodat ons ons lewe al gemakliker en veiliger kan maak. (*Heil) ‘n Paar dekades gelede het ons bewus geword van die nadruk van veral die Ou Testament op ‘n regverdige samele­wing waarin daar nie teen sekere men­se of groepe mense gediskri­mi­neer word nie (swart mense – én wit­ mense, vrouens, bejaardes, gestremdes). Daar kom dus telkens nuwe in­sigte na vore wat ons help om die volle evangelie in sy ryk om­vang te verkondig. En derdens moet die kerk in alle tye die hele evangelie bring. Daar sal geen tyd in die geskiedenis van hierdie wêreld kom waarin die wêreld nie meer behoefte aan die evangelie sal hê nie.

Soos al die ander kenmerke is die algemeenheid van die kerk ‘n vermaning en ‘n uitdaging aan ons. Is ons regtig daarby be­trokke dat die volle waarheid van die evangelie deur alle tye heen aan die hele wêreld verkondig word? Of hou ons self­sugtig die waarheid van die verlossing vir onsself en gee net hier en daar ‘n krummeltjie weg wat van ons oorbelaaide tafel afval?

  • Christelikheid of apostolisiteit

In die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons dat die kerk “Chris­telik” is, en in die Geloofsbelydenis van Nicea dat die kerk “apo­stolies” is. Dat die kerk Christelik is, be­teken dat dit van Christus af kom. Dit word op baie maniere in die Nuwe Testament verdui-­de­lik. Die woord “Christelik” kom direk van “Chris­tus” af. Verder is daar die allernouste band tussen Christus en die kerk. Christus word die hoof van die kerk genoem, en die kerk sy liggaam (Ef 1:22-23). Hy is die hoeksteen op wie die kerk gebou is (Ef 2:20). Deur die doop word ons in Christus ingelyf om deel te hê aan sy kruisiging, dood, begrafnis, opstanding en hemelvaart (Rom 6:4-6; Ef 2:6; Kol 2:12-13, 20; 3:1). Christus word selfs ons lewe genoem (Kol 3:4). Die kerk, dit beteken die totale geloofsgemeenskap, is dus sonder meer Christus se kerk, en dit is wat “Christelike kerk” beteken.

Dit beteken natuurlik nie dat die kerk nie aan die Vader of aan die Gees verbonde is nie. Christus is die Seun van God, en die Gees is die Gees van Christus. Daarom is daar eweneens die aller­nouste verband tussen die kerk en die Vader en die Gees. Die kerk is die volk van God en die tempel van die Gees (1 Pet 2:9-10; 1 Kor 3:16-17; 6:19; 2 Kor 6:16).

Dit alles beteken dat die kerk direk onder die gesag van Christus (én die Vader én die Gees) leef. Aan sy woorde moet ons ons hele lewe meet. Sonder oorgawe en verbondenheid aan Hom kan ons nie kerk wees nie, en kan niemand ‘n Christen wees nie.

Maar waar kry ons sy woorde? Natuurlik in die Bybel. Die Bybel kry ons van die apostels. Hulle, of mense na aan hulle, het die boeke van die Nuwe Testament geskryf. En hulle het in hul geskrifte vir ons geleer dat die Ou Testament ook vir hulle die Woord van God is. Ons het geen ander toegang as die geskrif­te van die apostels om te weet wie Jesus was en wat Hy gesê en gedoen het nie.

Uit hulle geskrifte leer ons dat Jesus hulle spesiaal afgerig en voorberei het om die evangelie verder te dra. Daarom kan ons glo wat hulle oor Hom vir ons nagelaat het, en Hom in hulle voetspore volg. Die apostels word dan ook saam met die profete die fonda­ment van die kerk genoem (Ef 2:20). In hierdie sin is “Christelik” en “apostolies” beide kenmerke van die kerk: ons ken Christus deur die getuienis en die apostels wat Hy self vir hierdie taak voorberei het. Hulle geskrifte bevat die waarheid oor Hom. Daarom is die Bybel die maatstaf waaraan ons die lewe van die kerk in die algemeen en ons eie lewe in die besonder moet meet.

Ook hierdie kenmerk van die kerk is ‘n vermaning en ‘n uit­da­ging aan ons. Is ons denominasie regtig onvoorwaardelik gehoorsaam aan Jesus Christus? Is die geskrifte van die apostels ons rigsnoer? Volg ons hulle na soos hulle Christus nagevolg het? (1 Kor 11:1) Of is daar ander tradisies en mensgemaakte reëls wat vir ons swaarder weeg as hulle woorde oor Hom?

• Eenheid

Die eenheid van die kerk is in die Nuwe Testament vanselfspre­kend. Dink maar net aan die beelde wat by die Chris­telikheid van die kerk gebruik is: Ons is die liggaam van Christus, die volk van God, die tempel van die Gees. Wat is vanselfsprekender as dat God net een volk het, dat Christus net een liggaam het en dat daar net een tem­pel is? Paulus gebruik dit inderdaad as argument teen verdeeldheid in die gemeente van Korinte: “Is Christus dan in stukke ver­deel?” (1 Kor 1:13). Hy noem die eenheid tussen al die kinders van God selfs ‘n vrug van die kruisdood van Jesus (Ef 2:15-16). Hy kan nie ophou om die dinge in te ryg wat almal een is in die kerk nie: één liggaam, één Gees, één hoop, één Here, één geloof, één doop, één God en Vader (Ef 4:4-6). Omdat die eenheid so belangrik is, roep hy ons op om hierdie eenheid te bewaar deur in vrede met me­kaar te leef (Ef 4:3). Die eenheid van God se kinders sal die wêreld oortuig om in Hom te glo (Joh 17:21).

Ons het waarskynlik in hierdie kenmerk van die kerk die op­vallendste anomalie tussen die norm van die Nuwe Testament en dit wat duidelik sigbaar is: die verskeurdheid van die kerk van die Here. Hierdie verdeeldheid is nie net sigbaar in die talle de­nominasies oraloor nie, maar in die opvallende spanning en selfs vyandskap tussen baie denominasies. Ons probeer mekaar vlieë afvang, en bewys dat ons die suiwerste is. Ons word uit­mekaar gehou deur allerlei redes wat niks met die evangelie te doen het nie.

Die vermaning en die uitdaging wat hierdie kenmerk van die kerk aan ons stel, is om die Here te vertrou, oor denominasione­le grense heen hande te vat en saam die evangelie na die wêreld te neem. Nêrens in die Bybel word dit as ‘n vereiste gestel dat ons eers oor alles moet saamstem voor ons hande vat nie. Alle denomina­sies behoort eers saam ‘n verenigde front te vorm en dan na hul ver­skil­le te begin kyk. Dit is slegs die uiterste af­wy­king van die hart van die evangelie wat afstand tussen deno­minasies kan regverdig.

• Heiligheid

Die heiligheid van die kerk het verskillende as­pekte. Om heilig te wees vir die Here beteken eerstens om an­ders te wees, afgeson­­-derd, opsy gesit vir Hom. Dit is nie iets waarna die gelowiges moet streef nie, hulle is dit. Die gemeente word herhaaldelik in die brie­we in die Nuwe Testament “heiliges” genoem. Dit geld selfs ge­meen­tes waar daar skokkende sondes voorgekom het (1 Kor 5:1 ev). Die nuwer vertalings omskryf “heilig” gewoonlik as “mense wat aan God behoort” – wat ‘n mooi betekenis vir heilig is, maar die oor­spronklike taal lees letterlik “heiliges” (Rom 1:7; 1 Kor 1:2; 2 Kor 1:1; Ef 1:1). Hulle is heilig, ondanks hulle sonde. Dis ‘n gawe van God.

In een sin noem Paulus Christus ons verlossing en ons heili­ging (1 Kor 1:30). En ons weet dat Hy ons verlossing as ‘n geskenk aan ons gee. Net so ons heiliging. Ons ontvang dit as ‘n gawe uit sy hand.

Maar dan moet ons dit in werking stel en daarvolgens lewe. Dit is die tweede aspek van heiligheid: om nie aan hierdie son­dige wêreld gelyk te wees nie, maar deur God verander te word (Rom 12:2), anders te leef as die ongelowiges. Om heilig te wees beteken om ‘n heilige lewe te leef wat aan Hom gewy is. Omdat Hy die sonde haat (Ps 5:4-7), moet sy kinders wegvlug vir die sonde. “Aardjie na sy vaartjie” beteken dat kinders soos hulle vader is; dus is ons soos ons Vader. Christus se liggaam moet tog by Hom as die hoof (die kop) pas. Christus moet in ons gestalte kry (Gal 4:19). ‘n Moderne Duit­se vertaling lees: Die mense moet aan julle kan sien wie Christus is. Daarom is die briewe in die Nuwe Tes­tament vol vermanings om met die sonde op te hou en ons lewe onvoorwaardelik aan God te wy. Ons moet in die praktyk word wat ons in Christus is. Dit geld elke ge­lowige, en ook die kerk as geheel. By *heiligmaking word die saak breedvoeriger behandel. Ook by *Beeld van God.

 

Outeur: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...