Die Groot Geloofswoordeboek: Kinders van God

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Kinders van God

Kind/Kinders van God

Die begrip “kinders van God” word in minstens twee betekenisse gebruik. Dit kan óf net na gelowiges verwys, óf ook na alle mense.

Daar is uitsprake wat van gelowiges as kinders van God praat (Joh 1:12; 1 Joh 3:1-2; Rom 8:14-25), maar soms word alle mense as kin­-ders van God beskou omdat almal skepsels van God is. Daarmee word dan nie bedoel dat almal ook gelowiges is nie. Die twee bete­kenisse lei dikwels tot misverstand tussen groepe Christene.

Die eerste betekenis, dat kinders van God gelowiges is, hou ver­band met die begrip *wedergeboorte. Hierdie betekenis van kin­ders kom veral by Johannes voor. Daar is belangrike uitsprake in

1 Johannes 3. Die hoofstuk begin met ‘n verwysing daarna dat gelo­wiges “kinders van God” genoem word, en bou dan voort op die noue verband wat daardeur geïmpliseer word tussen God en sy kinders. Ons sal by die koms van Jesus soos Hy wees, en daarom moet ons ons nou reeds so rein hou soos Hy rein is (1 Joh 3:2-3). Ons het hier ook nie met ‘n toevallige uitspraak van Johannes te doen nie. Vroeër in dieselfde brief het hy dit alreeds beklemtoon: Ons moet lewe soos Jesus gelewe het (2:6). Daarteenoor staan sonde, wat glad nie pas by kinders van God nie.

Sondeloosheid

En dan volg die ongelooflike reeks uitsprake (in stygende vorm) oor die sondeloosheid van die kinders van God:

Wie in Jesus bly, hou nie aan met sonde doen nie.

‘n Kind van God doen nie meer sonde nie.

‘n Kind van God kan nie meer sonde doen nie (3:6-9).

Johannes gee duidelike redes waarom ‘n kind van God nie meer sonde doen of kan doen nie. En hierdie redes wys uitsluit­lik na God en Jesus, nie na ons nie.

Die eerste uitspraak (“hou nie aan met sonde doen nie”) kom direk na ‘n dubbele verwysing na Jesus:

Jesus het gekom om die sonde weg te neem,

en in Hom is nie sonde nie,

daarom kan dié wat in Hom bly, nie aanhou sonde doen nie (v 5-6).

Die hele motivering vir ons ophou met die *sonde lê dus in Hom. In Hom is nie sonde nie, en ons is in Hom! (*In Christus) Paulus het die­selfde gedagte: Ons is deur die *doop in Christus se dood en sy *opstanding opgeneem (Rom 6). Ons het dus deel aan die le­we van Iemand wat klaar vir die sonde gesterf het, en klaar op­gestaan het in ‘n nuwe lewe wat Hy net aan God wy. Maar dan kan, en moet, ons mos hierdie nuwe lewe leef. Hy is dan nou ons lewe (Kol 3:4). As Hy ons lewe is, kan ons mos nie meer in die sonde leef nie. Dit sou beteken Hy leef in die sonde.

Hierdie volkome logiese redenasie word nog verder deurge­voer in 1 Johannes 3. Ons lees in die Grieks letterlik die volgen­de (effens anders as die 1983-vertaling):

Elkeen wat uit God gebore is, doen nie sonde nie, want sy (God se) saad bly in hom.

Ja, hy is nie in staat om sonde te doen nie, want hy is uit God gebore.

Nogeens is ons sondeloosheid volkome aan Hom te danke. Net soos by Paulus het dit alles te doen met die oorsprong van ons nu­we lewe. By Paulus is die motivering: Christus is ons lewe, hoe kan ons dan nog in die sonde leef? By Johannes: Ons is in Christus, en in Hom is geen sonde nie, en ons is uit God gebore, God se saad is in ons, hoe kan ons dan nog sonde doen?

Van God se kant gesien, van die kant van die oorsprong van ons nuwe lewe, is sonde ‘n volkome onsinnige moontlikheid. Ons sê: “aardjie na sy vaartjie” wat beteken ‘n mens aard (“aard­jie”) na jou pa (“vaartjie” vir “vadertjie”). In Engels: “He is a chip of the old block.” Dit is presies wat hier deur die begrip “kind van God” geïm­pli­seer word: ‘n kind pas by sy of haar pa, so moet ons by ons Vader pas, en by Hom is nie plek vir sonde nie.

Maar as Johannes van ons kant, en nie meer van God se kant af nie, na die sonde kyk, lyk dit anders. Dan skryf hy herhaaldelik dat ons nie moet dink ons het nie sonde nie (1 Joh 3:8-10), en verseker hy ons selfs: “as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader” (1 Joh 2:1). Dit is egter nie ‘n vrypas om maar lekker aan te hou met sonde nie. Dit staan direk na die woorde “dat julle nie moet sondig nie”.

Dit lyk dus of Johannes van twee kante na ons sonde kyk. Van God se kant af is dit uitgesluit, pas dit glad nie en is dit totaal teen die werklikheid van ons kindskap in. Maar van ons kant ge­sien, kom dit wel voor en kan ons dit net met skaamte as ‘n anomalie (‘n teenstrydigheid) bely. Dit pas eenvoudig nie.

 

Perfeksionisme

‘n Mens moet in hierdie lig na die gedagte van die Perfeksionisme kyk. Daar is sienings wat die Perfeksionisme teenstaan, wat regtig ‘n vreemde indruk maak. Dit lyk soms of hierdie sienings met alle mag wil verdedig en regverdig dat ons altyd sondaars bly en nooit sonder sonde kan wees nie. In plaas van om ontsteld te wees oor ons voortgaande sondigheid, lyk dit of dit ‘n kosbare deug word wat ons ten alle koste moet beskerm.

In die lig van Johannes se siening oor ons kindskap is dit ‘n skan­de en selfs ‘n anomalie dat ons aanhou sonde doen. En Jo­hannes staan nie alleen hierin nie. Petrus en Paulus het sterk uit­sprake oor gelowiges se volmaaktheid. 1 Petrus 1:15 sê: “Net soos Hy wat julle ge­roep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel hei­lig wees.” Paulus sien dit as die doel van Christus se kruiswerk: Hy het aan die kruis gesterwe “om julle heilig, son­der smet en onberispelik voor Hom te stel”, en weer: “sodat Hy die kerk in volle heerlik­heid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik” (Kol 1:22; Ef 5:27; kyk ook na 1 Kor 1:8; 1 Tess 3:13; 5:23; Tit 2:14).

Die probleem met die Perfeksionisme is nie dat dit oortuig is dat ons alle sonde kan laat staan en ons lewe volkome aan God toewy nie. Dit is deel van die Bybelse boodskap. Die probleem is dat navol­gers hiervan soms die nadruk te veel lê op ons “oor­winningslewe”, op ons inspanning, op ons “kruisiging van ons eie ek”. Verder is dit moont­lik dat hulle met ‘n oppervlakkige sondebegrip kan werk. Daar word dikwels gebruik gemaak van ‘n alfabetiese lys van son­des wat ‘n mens so een na die ander kan afmerk as jy dit oorwin het.

Ons het reeds gesien dat die nadruk oor ons sondeloosheid by Johannes op Christus en op God lê, en op ons verbondenheid aan Hulle. Ons het geen oorwinningslewe van ons eie nie; dit sou ons in elk geval weer te gou trots maak. Maar ons kan deelneem aan Christus se oorwinningslewe omdat Hy nou ons lewe is. In hierdie lig word dit ‘n skande as ons nog voortploeter in die sonde. Dis soos om ou koeie uit die sloot te grawe. Maar wesenlik in ons hele hou­ding sal die nederige erkenning wees dat dit nie ons prestasie is nie, nie ons wat ons “eie ek” gekruisig het nie, maar Christus wat ons deur die doop in sy gemeenskap opgeneem het sodat ons aan sy oor­winningslewe kan deelneem. (*Vereniging met Christus)

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print