1

Die Groot Geloofswoordeboek: Nagmaal

Die Groot Geloofswoordeboek: Nagmaal

Nagmaal

In die nagmaal word die dood van die Here Jesus herdenk en ver­kondig totdat Hy weer kom (1 Kor 11:26). Volgens die *Sinop­tiese Evangelies (*Sinoptiese probleem) het die Here Jesus self die nagmaal ingestel tydens die Paasfees die aand voor Hy ge­kruisig is. Tydens die instelling het Hy eenvoudige maar heel ongewone woorde gebruik waaroor in die loop van die ge­skie­denis baie na­gedink is. Hy het die brood aan sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet, dit is my liggaam,” en die beker met die woorde: “Dit is my bloed” (Matt 26:26 ev). Die woorde is buitengewoon omdat Hy nog in lewende lywe voor hulle ge­staan het. Wat kon Hy bedoel het? Wat het Hy vir hulle gegee: brood en wyn, of sy liggaam en sy bloed? Daar word gesê dat dit die minste woorde is waaroor daar in die geskiedenis die meeste geskryf is.

‘n Paar vrae kom hieruit na vore. Hoe kon Jesus bedoel het dis letterlik sy liggaam en sy bloed? Maar as Hy bedoel het dit is net sim­bole van sy liggaam en sy bloed, moes Hy tog ‘n aanduiding daar­van gegee het. Die *Katolieke Kerk neig na die letterlike be­te­kenis: Hy het letterlik sy liggaam en sy bloed aan hulle gegee, en die Protestante neig na ‘n figuurlike, simboliese betekenis: die brood en die wyn staan vir of verwys na sy liggaam en sy bloed.

 

Eucharistie, die mis en transsubstansiasie

Die Katolieke gebruik in hierdie verband die woord “trans­sub­stansiasie”, en praat van die nagmaal as die Eucharistie of die Mis. “Transsubstansiasie” beteken letterlik dat die substansie of die materiaal verander. Die Katolieke Kerk gebruik dit vir die ver­an­dering van die brood en die wyn in die letterlike liggaam en bloed van Christus. Hulle is oortuig dat die brood wat Christus die aand aan sy dissipels gegee het, verander het in sy liggaam toe Hy die woorde uitgespreek het, en die wyn in sy bloed.

Die Katolieke aanvaar dat die priester vandag nog regtig en letterlik Jesus se liggaam en sy bloed aan die gemeente gee. Deur ‘n wonderwerk word die brood sy liggaam en die wyn sy bloed wanneer die priester die wydingswoorde uitspreek. As daar van die brood en die wyn oorbly na die nagmaal – of nee, dit is tegnies verkeerd, want dit is nie meer brood en wyn nie. Dus: as daar van Jesus se liggaam wat soos brood lyk na die nagmaal oorbly, en van sy bloed wat soos wyn lyk, moet dit op ‘n besondere manier en met die allergrootste eerbied bewaar word. Vir eeue lank het die priester ook net die brood aan die lidmate gegee. Hulle was bang van die wyn (die bloed van Jesus!) kan op die grond val.

Die Protestante dink nie so nie. In die meeste gevalle is daar min verleentheid as daar brood en wyn oorbly, al sal dit tog in sommi­ge gevalle met besondere respek behandel word. En tog is daar ook verskille binne die Protestantisme.

Die meeste Protestante sien niks meer as blote simboliek in die brood en die wyn nie. Ons hoor voortdurend net van die “tekens” van brood en wyn, waarby die predikant of pastoor eint­lik bedoel die brood en die wyn is (blote) tekens van die lig­gaam en die bloed van Christus. Die brood simboliseer, dit wil sê dit staan vir en verwys na die liggaam van Jesus.

Maar Calvyn het dit anders verstaan. Hy was oortuig dat ons inderdaad die liggaam en die bloed van Christus by die nagmaal eet en drink, maar anders as wat die Katolieke glo.  Calvyn het gesê ‘n mens het twee monde: die mond van jou maag en die mond van jou siel: jou geloof. As jy met die mond van jou maag die brood eet, neem jy deur jou geloof Jesus se liggaam in jou hart in. Dit beteken dat jy ook waarlik die Here Jesus in jou lewe opneem as die ware voedsel en drank.

‘n Mens moet onthou dat liggaam en bloed vir die hele persoon staan. Jesus het nie iets van Homself gegee nie, selfs nie baie van Homself nie. Hy het sonder meer Homself gegee. Sy opvallende woorde kon nie minder beteken het as dat Hy Homself aan sy dissipels gegee het nie.

Dit beteken dat, hoe ons dit ook al verstaan, ons in die nagmaal deel kry aan Jesus self in al sy volheid. Hierdie gemeenskap met Hom lê op ‘n ander vlak as om die evangelie te hoor. Dit werk op ander en meer sintuie sodat dit ‘n dieper en voller ervaring kan wees as om net na die evangelie te luister.

 

Kindernagmaal

Kindernagmaal is algemeen in die Katolieke Kerk, maar daar is baie verskille in die Protestantse kerke. In baie gevalle is die oortuiging dat iemand die evangelie eers goed moet verstaan, “want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself” (1 Kor 11:29).

Hierteenoor word gestel dat dit nie hier gaan om ‘n intellek­tuele vermoë nie, maar om eerbied vir die ander gemeentelede as deel van die liggaam van die Here. Die misbruik in Korinte was dat die rykes al die kos opgeëet het voor die armes kon kom omdat hulle as slawe laat moes werk. Paulus sien dit as ‘n miskenning van die feit dat ook die armes deel van die gemeente as die liggaam van die Here is. Dit beteken deur sonder liefde teenoor hulle op te tree, tree ‘n mens liefdeloos teenoor Jesus self op. Dit is die sonde; ‘n morele saak, nie ‘n intellektuele saak van “Is jy oud genoeg om genoeg van die evangelie te verstaan?” nie.

Mense wat die kindernagmaal aanvaar, wys ook daarop dat die doop in die Nuwe Testament toegang gegee het tot die nag­maal. As ‘n kerk gedooptes toegang tot die nagmaal weier, is die vraag dan of hulle die doop ernstig opneem. Dit geskied dikwels juis in kerke wat naas die grootdoop ook die kinderdoop bedien, en dan nie die kinders toelaat tot die nagmaal nie.

Wanneer kindernagmaal wel aanvaar word, is die vraag van watter ouderdom af. Waarskynlik is die suiwerste prosedure om kinders wat tuis saameet ook saam nagmaal te laat gebruik. Die nagmaal was in Paulus se sendinggemeentes ‘n ete om ‘n tafel in ‘n huis. Daar kan min twyfel wees dat die kinders saamgeëet het, en dus ook saam nagmaal gebruik het. Die nagmaal was waarskynlik ook nie so ‘n formele en afgemete gebruik wat begin het presies wanneer die wydingswoorde uitgespreek is en na een happie brood en een stukkie wyn klaar was nie. Dit was ‘n volle ete waarty­dens die lidmate hulle verhale met mekaar gedeel het, en saam gebid en gedank en geloof het op verskillende maniere (1 Kor 14:26 ev). Die hele gesin, en dus al die kinders wat kon saameet, was heel waarskynlik deel hiervan.

Die meeste historiese kerke het ‘n kinderonvriendelike nag­maalpraktyk. Dit is onrealisties om te dink kinders kan dit werklik beleef in ‘n formele liturgie. Selfs volwassenes moet ‘n sterk vergeestelikingsvermoë hê om met een stukkie droë brood en een slukkie soet wyn ‘n fees te beleef.

 

Kleingroepnagmaal

Die ideale plek om nag­maal te vier is dieselfde plek waar die vroeë Christene dit gedoen het: die huis- of *selgemeente van so vyftien mense (Hand 2:46; 1 Kor 11:17 ev). Rondom ‘n tafel kan daar regtig feesgevier word, mekaar se verhale gedeel word, vir mekaar en saam met mekaar gebid, gedank en geloof word. Daar is in terme van die Bybel geen rede waarom juis ‘n predikant, pastoor of priester die nagmaal moet instel of bedien nie.

Net soos in die geval van die beoefening van die *gawes, is die vlak van persoonlike gemeenskap in ‘n massabyeenkoms net een­voudig te laag om nagmaal of gawes tot hul reg te laat kom, al kan beide tog wel in ‘n beperkte mate sinvol wees in hierdie groot byeenkomste. (*Gawes)

Daar is maniere om die nagmaal te vier wat die persoonlike belewing kan versterk. In selgemeentes én groot byeenkomste kan twee persone langs mekaar die brood en die wyn oor en weer aan mekaar gee met woorde soos: Die liggaam/bloed van Jesus is vir jou ook gebreek/vergiet.

 

Skrywer: Prof Adrio König