Die Groot Geloofswoordeboek: Pentateug/Heksateug

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Pentateug/Heksateug

Pentateug • Heksateug

Die Pentateug is die eerste vyf boeke van die Bybel (Grieks: pen­te, wat vyf beteken) wat ook bekend staan as die wet (die Torah) of die vyf boeke van Moses. Tot in die tyd van Jesus was daar groepe soos die Sadduseërs wat net hierdie boeke as gesaghebbend er­ken het. Dit is die rede waarom die *Sadduseërs, anders as by­voorbeeld die *Fariseërs, nie geglo het daar sal ‘n opstanding wees nie. Daar staan niks van ‘n opstanding in die Pentateug nie.

Daar word nie vandag meer algemeen aanvaar dat Moses hier­die boeke geskryf het nie. Hy sou in elk geval waarskynlik nie sy eie dood beskryf het nie (Deut 34), en daar word nooit in die eer­ste persoon oor hom geskryf nie. Die feit dat daar in die Nuwe Tes­tament na hierdie boeke as die geskrifte van Moses verwys word (Mark 12:26), is nie deurslaggewend nie omdat die boeke in daardie tyd eenvoudig so genoem is.

Die moontlikheid is groot dat daar verskillende skrywers was wat aparte dokumente saamgestel het, en dat hierdie dokumen­te later saamgevoeg is. Daar is sprake van dokumente soos ‘n Jahwis, ‘n Deuteronomis en ‘n Priesterkodeks, maar daar is verskillen­de teo­rieë waaroor ‘n mens jou nie te veel hoef te bekommer nie.

Die Heksateug is dieselfde boeke met Josua daarby. Josua word bygevoeg omdat die intog in Kanaän daarin beskryf word en dit dan beskou word as die voltooiing van die belofte aan Abra­ham dat die Here die land aan sy nageslag sal gee.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...