Die Groot Geloofswoordeboek: Vernuwingsbeweging

Die Groot Geloofswoordeboek: Vernuwingsbeweging

Vernuwingsbeweging

Daar is ‘n omvattende vernuwingsbeweging in die NG Kerk wat in die 1980’s begin het en nog steeds sterker word. Dit is nie ‘n homogene eenheid nie, maar daar is groot gemeenskaplikhede. Daar is ‘n groot misverstand oor hierdie beweging, en dit is dat dit Charismaties is. Baie van die mense wat dit beweer, ge­bruik dit ook sommer as ‘n veroordeling omdat hulle meen dat Charismaties vanselfsprekend ook verkeerd is. Dit is egter be­kend dat die doop met die Gees en die besondere gawes twee ononderhandelbare kenmerke van die Charismatiese beweging is (*Charismatiese ker­ke), en dit kom omtrent glad nie in die Vernuwingsbeweging voor nie.

 

Oorsprong

Die Vernuwingsbeweging is die herlewing van die ou Evange­liese spiritualiteit in die NG Kerk. (*Nederduitse Gereformeerde Kerk) ‘n Aantal woorde herinner ‘n mens dade­lik aan wat hier­­mee be­doel word: Andrew Murray, Pinksterbidure, Hallelujalie­dere, *beke­ring, *CSV, *sending. Hierdie *spiritualiteit was vir meer as ‘n anderhalf eeu die dryfkrag agter die sen­ding­werk van die NG Kerk. Dit het ‘n spontane warmte en dringend­heid. Dit lê baie nadruk op per­soonlike bekering en toe­wyding, op Bybel­studie en getuienis.

Gedurende hierdie anderhalf eeu het daar twee rigtings langs mekaar in die NG Kerk bestaan, soms in vrede, soms in span­ning: die strenger Gereformeerde rigting, en die Evangeliese rig­ting. Die Gereformeerde rigting het altyd die amptelike lei­ding geneem: die voorsitters van sinodes, die professore, die belang­rike gesagsposi­sies in die kerk. Die Evangeliese rigting het altyd die inisiatief ge­neem in geestelike sake.

Gedurende die 1970’s was daar ‘n beplande aanslag op die Evangeliese rigting. Die CSV is uit die meeste tersiêre kam­pus­­se uitgewerk, die nuwe Gesangboek het ‘n paar Halle­luja­lie­dere in­gesluit en die Hallelujabundel het verdwyn, en die sen­dingen­toe­siasme het getaan.

Maar in die 1980’s het die *Evangeliese tradisie in ‘n nuwe ge­daante na vore gekom. Dit het veral begin met die vernuwing van eredienste wat informeler geword het met ander liedere en mu­siekinstrumente. Groot interkerklike byeenkomste het nuwe idees by jongmense wakker gemaak, en groot sendinguitreike het mense se verbeelding aangegryp.

 

Vestiging van Vernuwing

Geleidelik het die Vernuwings­be­we­ging veld gewen. Die Ver­nu­wingsgemeentes het oor die al­ge­meen sterk gegroei. Die nuwe reëling dat gemeentegrense stip­pel­ly­ne geword het, het beteken dat lidmate na die gemeente van hul­le keuse kon gaan. Daar het onderlinge verhoudings begin groei tussen Vernuwings­ge­meentes. Meer en meer aandag is gegee aan die herstrukturering van ere­dienste en gemeentebediening.

 

Erediensvernuwing is meer as om ander liedere te sing. Alter­na­tiewe vorme van Woordverkondiging word ontwikkel. Woordverkondiging is nie net ‘n halfuur lange monoloog nie. Voor­stel­lings, getuienisse en besprekings is moontlikhede.

 

Gemeentebediening. Wat gemeentebediening betref, is die Lig­gaams­model besig om hier en daar by die Herder-kudde-mo­del oor te neem. Bedienings ontstaan waarin gemeentelede die lei­ding neem. Die selgemeentekonsep het groot invloed in som­mi­ge Ver­nuwingsgemeentes begin uitoefen.

 

Sendingbetrokkenheid het na die insinking in die 1970’s en 1980’s weer begin opleef, veral in die vorm van individuele ge­meente-ondernemings.

 

Daar is ongetwyfeld uitwasse wat onder die naam van Ver­nu­wing skuil. Maar in die breë is die Vernuwingsbeweging ‘n ge­sonde ontwikkeling van ‘n alternatiewe spiritualiteit wat groot belofte inhou. Daar is inderdaad beperkte Charismatiese invloed, veral wat die liedere en begeleiding betref, maar in die geheel het die Vernuwing sy eie Evangeliese karakter.

Skrywer: Prof Adrio König