Die Groot Geloofswoordeboek: Vrede

Die Groot Geloofswoordeboek: Vrede

Vrede

Die vrede wat God in die Bybel beloof, is soveel ryker as dit wat ons gewoonlik onder vrede verstaan. In die omgang het die Hebreeuse woord sjaloom (shalom) al bekend geword. Sommige mense gebruik dit selfs as ’n groet.

Onder vrede verstaan ons gewoonlik die afwesigheid van span­ning, stryd, oorlog. “Daar’s weer vrede” beteken net die oor­log is verby.

In die Ou Testament is “vrede” baie meer. Vrede is een van die sen­trale woorde in die Ou Testament. As God aan Israel vre­de beloof, beteken dit nie net die einde van vyandelikhede nie, maar dat dit in hulle hele lewe regtig goedgaan. Dit bete­ken goeie oeste, goeie vee-aanteelt, goeie gesondheid, baie kinders – veral seuns – goeie verhoudings, oorwinnings oor die naburi­ge vol­ke, en dit alles onder die seënende hand van die Here.

’n Goeie verhouding met die Here was wesenlik. Om voor­spoed sonder Hom te hê, was onreg. Voorspoed sonder gehoor­saamheid aan die Here was ’n anomalie wat hulle in ernstige geloofstwyfel laat beland het. Psalm 73 is die klassieke voorbeeld. Die psalmdigter kry self baie swaar, maar “die goddelose se oë peul uit van vet” (v 7, 1953-vertaling). Dit is vir hom onbegryplik, want hy dien die Here in alle opregtheid, en saam met die ander “opregtes” bely hy dat God goed is vir Israel (73:1). Na ’n lang en hewige worsteling kyk hy na die goddelose se einde, en dan kry hy gemoedsrus: God sal hom vashou, en aan die einde sal hy in ere by Hom wees.

Dit is moontlik dat hy hier ’n perspektief op die situasie ná die dood het, al is dit baie skaars in die Ou Testament. (*Opstan­ding) Dit bly egter vir die gelowiges in die Ou Testament ’n uiters vreemde situasie dat iemand wat God opreg dien, swaarkry. Al die groot figure was ryk en voorspoedig: Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Salomo, Job. (*Voorspoedsevangelie)

In die Nuwe Testament verander dit egter. In die Ou Testa­ment is die normale situasie dat jy vrede het, dus voorspoedig is, as jy God opreg dien. Om God te dien en om sy gawes van voor­spoed te geniet was ’n eenheid. Maar in die Nuwe Testament word hier­die eenheid verbreek. Omdat die bose magte op aarde oorgeneem en die heerskappy van God verduister het, word die kinders van God aangeval en vervolg omdat hulle die Here dien, presies die teenoorgestelde situasie as in die Ou Testa­ment. Die groot vrede word dus uitgeskuif na die toekoms wan­neer Christus weer sal kom om die mag van die Bose te vernietig en die aarde nuut te maak. Dan kom die groot en finale vrede wanneer God by sy kinders op die nuwe aarde sal woon. Dit is ’n omvattende vrede soos ons dit in die Ou Testament gekry het, maar op ’n ander vlak. (*Verheerliking, *Opstanding)

 

Skrywer: Prof Adrio König