1

Die Groot Geloofswoordeboek: Wonderwerke

Die Groot Geloofswoordeboek: Wonderwerke

Wonderwerke

Die vergeesteliking van die wonderwerke

In die meeste histo­riese kerke speel die wonderwerke van Jesus nie ’n belangrike rol nie. Daar word selde oor die wonderwerke gepreek, en indien wel, word dit gewoonlik vergeestelik. As Jesus ’n blinde weer laat sien, is die toepassing gewoonlik iets soos dat Hy ons geesteli­ke blinde oë wil oopmaak om die kanse raak te sien om Hom te dien. As Hy ’n lam man se bene weer sterk maak, beteken dit dat Hy ons geestelike lam bene wil sterk maak dat ons Hom voluit kan dien. ’n Mens kan ’n paar opmerkings hieroor maak.

Eerstens is dit nie die eintlike betekenis van Jesus se won­der­genesings nie. Dit was letterlike wonders waardeur fisiek siek of gebreklike mense herstel is. Hieraan gaan ons baie aandag gee.

Tweedens is dit waar dat ons by Johannes wel iets van hier­die geestelike toepassing van die wonderwerk kry. As Jesus volgens die Johannesevangelie die blinde se sig herstel en daar kom ’n redenasie van die kant van die Joodse leiers, gee Jesus die volgende geeste­li­ke betekenis aan die genesing: die Fariseërs dink hulle sien, maar in werklikheid is hulle blind omdat hulle nie in Jesus die Messias sien nie (Joh 9:39-41). ’n Mens moet in hierdie verband onthou dat Jo­han­nes heeltemal anders oor die wonderwerke berig as die *Sinop­tiese Evangelies. Hy vertel van baie minder wonderwerke, en hy noem hulle “tekens” of “wondertekens” (Joh 2:11, 23; 3:2; 4:48; 6:2), wat daarop dui dat hy ’n ekstra betekenis in die wonderwerke sien. Maar dit beteken nog nie dat hy die wonderwerke self ver­gees­te­lik nie. Ook by hom is dit werklike, fisieke wondergenesings. Dit kry net ’n “geestelike” dimensie by.

Derdens is dit interessant dat die geestelike betekenis wat mense gewoonlik aan die wonderwerke heg, wel met die evan­gelie verband hou. Jesus wil inderdaad ons geestelike blinde oë oopmaak of ons geestelike lam bene sterk maak. Maar die punt wat nou hier gemaak word, is dat dit nie regtig die betekenis van die wonderwerke is nie.

Wat is dan hulle betekenis?

Die breër verband van die wonderwerke

Dit lei min twyfel dat die wonderwerke ’n uiters belangrike deel van Jesus se aard­se bediening was, en dat dit in die vroeë kerk onder die leiding van die apostels voortgegaan het (Hand 2:43; 3:1 ev; 5:12 ev; 6:8; 8:6; 9:32 ev). Van al die fasette van Jesus se aardse bediening gee die Sinoptiese Evangelies die meeste aandag aan sy wonderwer­ke. Verder bring hulle sy wonders in direkte verband met die koms van die koninkryk. Dit maak die wonders uiters belang­rik omdat dit die eintlike boodskap is wat Jesus verkondig het: die koninkryk van God is op hande. Wanneer Hy die soveelste keer ’n bose gees uit ’n mens dryf, verklaar Hy: “Aangesien Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom” (Matt 12:28; Luk 11:20).

Die agtergrond hiervan is elders bespreek. (*Koninkryk van God, *Apokaliptiek) Dit kom daarop neer dat die oortuiging ty­dens die ballingskap in Israel ontstaan het dat die duiwels op aarde oorge­neem het en die skepping, en veral die mense, pro­beer vernietig. Dit het die heerskappy (koninkryk) van God ver­duister. Die dui­wels het op aarde regeer. As Jesus dan kom om die koninkryk (heer­skappy) van God te herstel, moet Hy die bose magte verdryf en hulle heerskappy vernietig. Dit is die rede waarom sy eksorsisme so belangrik is.

Dit bring ook ’n ander faset van die evangelie na vore. Die won­derwerke word so dikwels vergeestelik omdat ons die neiging het om die evangelie te verskraal tot die “geestelike” sake: die vergifnis van sonde, die binnekamer, gebed, heiligmaking, en te vergeet dat daar klipharde kante van die *heil of *evangelie is: die skepping, die opstanding, die nuwe aarde. Ons praat soms van die kosmiese aspekte van die heil.

God het nie net “siele” geskape nie, maar mense van vleis en bene en bloed. Jesus vergeef nie net mense se sonde deur die kruis nie, Hy genees hulle ook. Trouens, Lukas gebruik dieselfde Griekse woord vir genesing en verlossing (Hand 4:9: “gesond gemaak”, en 4:12: “verlos”). Jesus red nie net ons binnekant (“siel”) nie, maar wek ons ook op uit die dood. Daar is nie net ’n nuwe hemel nie, maar ook ’n nuwe aarde. Dit is alles deel van die heil. En dit beteken dat die *heil of saligheid ook fisieke, har­de kante het, nie net geestelike, onsigbare kante nie.

Siekte

Verband siekte-sonde

Die feit dat Lukas dieselfde Griekse woord vir genesing en vir verlossing gebruik, bring die vraag na vore wat die verband is tussen siekte en sonde, omdat ’n mens van siekte genees word, en van sonde verlos word.

Daar is in die Bybel twee verskillende standpunte. Die een is dat die Here mense siek maak, dikwels juis oor hulle sonde, en die ander een is dat die duiwel mense siek maak. Vir die eerste een kan ’n mens ’n sterk beroep maak op die Ou Testament, en vir die tweede een op die Nuwe Testament.

Die Ou Testament: Die Here maak mense siek. Dit is die gewone sie­ning van die Ou Testament. Ons kan in hierdie opsig van “mo­nisme” in die Ou Testament praat. Dit kom van die Griek­se woord vir “een”, en beteken dan dat daar nie soseer twee magte teenoor mekaar in die Ou Testament staan nie, maar dat God eintlik alleen vir die goeie én die slegte verantwoorde­lik is. Daar is nog min spra­ke van die duiwel wat direk téénoor God staan. (*Duiwel, *Voor­sie­nigheid) Ons het byvoorbeeld die bekende uitsprake in Job: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die He­re” en ook: “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 1:21; 2:10). Ook uit Hanna se mond hoor ons: “Die Here maak dood en Hy maak lewend” (1 Sam 2:6).

Meer spesifiek oor siekte lees ons: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is … Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou” (Eks 15:26). Hy is dus die Een wat siek én gesond maak.

Daarom kry ons baie voorbeelde in die Ou Testament van mense wat oor hulle sonde deur die Here siek gemaak is: Mir­jam, Nabal, Ahasia, Gehasi, Joram (Num 12:1 ev; 1 Sam 25:37-39; 2 Kon 1:16 ev; 5:26 ev; 21:15 ev). En dan is daar ook die algemene uitsprake dat die Here die volk sal siek maak, of alreeds siek gemaak het, oor hulle sonde (Num 32:23; Deut 28:59-61; 29:21; Jes 1:5; Jer 10:17-19). Ook die psalms veronderstel ’n direkte ver­band tussen siekte en sonde (38:4-5; 39:10-12; 41:5; 107:17).

Intussen bied Eksodus 15:26 natuurlik ook die versekering dat die Here hulle gesond maak. Vir Israel was daar geen teenspraak hierin nie. Daar was duidelike redes waarom die Here hulle siek en gesond maak: Hy maak siek as straf op sonde, en Hy genees as antwoord op bekering.

Baie gelowiges aanvaar nog hierdie siening van die Ou Tes­ta­ment. Hulle is oortuig dat dit die Here is wat mense siek maak, en dat bepaalde sondes die oorsaak van die siekte kan wees. In die Nuwe Testament kry ons egter ’n ander siening.

Die Nuwe Testament: Die Here maak mense gesond. In die Nuwe Tes­tament het die prentjie heeltemal verander. Hier kry ons die duiwel in ’n totaal ander gestalte: nie die dienstige onderdaan soos in Job nie, maar die verbete vyand wat menselewens ver­nietig. Hier is dit die duiwel en die bose magte wat mense siek maak, en Jesus wat hulle gesond maak. Aan geeneen van die fasette van Jesus se bediening word in die Evangelies meer aan­dag gegee as aan sy genesings en veral sy duiweluitdrywings nie. (*Eksorsisme)

Die verband tussen siekte en sonde tree op die agtergrond. Die straf van God vir sonde is nog steeds belangrik, maar dit is nou nie meer die fisieke strawwe soos siekte en vyande en slegte oeste nie, maar die verderf.

Dit is opvallend dat die apostels Jesus se hele bediening kon saamvat in terme van genesing-as-verbreking-van-duiwelswerk. Petrus doen dit só in sy preek by Kornelius: “Julle weet van Jesus van Nasaret. Hy het rondgegaan, oral goeie werk gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was” (Hand 10:38).

Genesing is so ’n wesenlike deel van die bediening van Jesus dat dit selfs met sy kruis in verband gebring word. “Deur sy won­de is julle genees” (1 Pet 2:24) is ’n verwysing na die kruisdood van Jesus. Dit is ’n aanhaling uit Jesaja 53:5, die hoofstuk in die Ou Testament wat die meeste op Jesus toegepas word. Al is dit nie volkome duidelik presies wat dit beteken dat Jesus se kruisdood ook vir ons siekte betekenis het nie, kan hierdie feit nie betwyfel word nie, en bevestig dit dat genesing wesenlik deel van die evangelie is.

Die gedagte dat wonderwerke opgehou het en net tot die vroeë geskiedenis van die kerk beperk was, word elders bespreek. (*Ga­wes)

Die verband siekte-dood

Veral in die Ou Testament is daar ’n interessante verband tussen siekte en dood. Siekte is eintlik ’n voorvorm van dood. Iemand wat baie siek is, is op pad graf toe en is al in die mag van die dood. Die dood dring as’t ware in ons lewe in en pak ons beet nog voor ons sterf. Iemand wat siek is, is al “in die dood”. Volgens die 1953-vertaling sê iemand wat ernstig siek is: “My lewe raak al aan die doderyk. Ek is soos dié wat in die graf lê” (Ps 88:4 ev). Iemand wat gesond geword het, verklaar: ”Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek” (Ps 40:3; ook 30:4).

In hierdie lig is dit nie vreemd nie dat daar by Jesus ’n verband is tussen sy genesings en die feit dat Hy dooies weer lewendig ge­-maak het. Hy genees mense se siekte én Hy maak dooies weer le-wen­dig. Daar is nie so ’n wesenlike verskil tussen sy genesings en die feit dat Hy dooies weer lewendig maak nie.

Dooies lewendig maak en opstanding. Wat wel belangrik is, is dat daar ’n kardinale verskil is tussen hierdie dooies wat weer lewend gemaak word en Jesus se eie opstanding. Soms vind mense dit vreemd dat Jesus die eersteling uit die dood genoem word (1 Kor 15:20; Kol 1:18). Daar is dan sprake van ’n aantal mense wat voor Hom weer lewend geword het, selfs in die Ou Testament. Maar daar is ’n groot verskil. Jesus het nie maar net weer lewend ge­word om daarna weer die dood in die gesig te staar en later weer te sterf soos die ander nie. *Opstanding is heeltemal iets anders as her­leef. Deur sy opstanding het Jesus die *dood oorwin. Hy het die dood agter die rug. Paulus skryf: “Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterf nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie” (Rom 6:9). Jesus se opstanding was selfs baie meer as net sy eie ervaring, dit was die begin van die algemene opstanding. (*Opstanding)

Genesing vandag

Gaan die soort genesings wat ons by Jesus en die apostels gekry het vandag nog voort? Die gedagte dat die gawes net vir ’n tyd lank aan die kerk gegee is, is elders afgewys. (*Gawes) In die meeste historiese kerke is nie veel van hierdie soort genesings bekend nie. Maar daar is kerkgroepe soos veral die *Pinkster- en Charismatiese kerke wat hulle sterk daarop beroep. Dit is nie altyd duidelik of dié nie maar meer “sagte” genesings is, soos ’n been wat ’n bietjie langer word, en of dit werklik die opsienbarende, “harde” genesings van die Nuwe Testament is nie.

Gebedsgenesing/geloofsgenesing of Woordgenesing

Intussen is daar ook ’n diskussie aan die gang oor die wyse waarop hier­die genesings moet plaasvind. Daar is ’n ou gebruik wat “ge­beds­genesing/geloofsgenesing” genoem word. Mense bid vir siekes en vra die Here om hulle te genees. Maar ander wys daarop dat daar min of selfs geen sprake van so ’n praktyk in die Nuwe Tes­ta­ment is nie. Dáár genees Jesus en die apostels deur die woord, deur ’n bevel. Petrus spreek ’n woord en die lam man by die Mooipoort is gesond (Hand 3:6). Natuurlik geskied so ’n gene­sing in die Naam van Jesus, maar die apostel het die gesag om dit in sy Naam te doen.

Dit is net in Jakobus 5:15 waar daar sprake van gebed vir ’n sieke is. Dit kan dus in elk geval ook nie verkeerd wees nie.

Goddelike genesing en wondergenesing

Daar is nog verder vrae hieroor. Sommige praat graag van God­delike gene­sing terwyl ander meen dat alle genesing van God is en nie net wondergenesing nie. Daar is selfs mense wat meen dat alle genesing wondergenesing is sodat ’n mens later omtrent nie meer woorde het om te gebruik nie. ’n Mens kry omtrent dieselfde situasie in verband met die *doop. Daar is nie ’n manier om almal tevrede te stel nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König