Die groot opdrag en die kerk

I gave up all for Christ, and what have I found? Everything in Christ – Johannes Calvyn

Die groot opdrag en die kerk

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Jesus se opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20 geld nie net vir leraars en sendelinge nie – dit geld vir my ook. Lees ons Handelinge sien ons dat al God se kinders saamwerk om sy opdrag uit te voer. Hulle reik uit na die mense om hulle; hulle vra die mense om Jesus Christus te volg; hulle leer hulle; hulle gehoorsaam alles wat Hy hulle geleer het; hulle doop die mense. Dissipels maak dissipels.  Hulle het Jesus se opdrag letterlik en ernstig opgeneem. Die gevolg is dat die evangelie gou oor die destyds bekende wêreld versprei het.

 

Is die maak van dissipels nog vir die kerk belangrik? Moet vandag se kerk dalk iets anders doen – ‘n ander opdrag kry? Hoekom doen die leraars en betaalde amptenare vandag al die werk in die kerk? Die lidmate woon eredienste by, sit iets in die kollektebord en gaan huis toe – geïnspireerd en gevoed! Meeste lidmate weet nie meer hoe dit lyk om dissipels te maak nie.

Een van die groot probleme is dat gemeentes op programme fokus. Ons het ‘n program vir alles wat ons doen. Maar om dissipels te maak, is meer as net ‘n program – dit is ons lewensroeping. Dissipels maak dissipels. Hoe lyk dit in die praktyk? In die Groot Opdrag is daar vier belangrike woorde: gaan, maak, doop en leer. Baie eenvoudig. Ons het beslis nie ‘n groot geleerdheid nodig om dit te verstaan nie; dit is beslis nie iets wat net ‘n leraar kan doen nie. Die probleem is dat die praktyk nie so eenvoudig is nie.

Die proses van dissipels maak kry ook nooit klaar nie. God bring voortdurend nuwe mense en nuwe geleenthede oor ons pad.  As hierdie nuwe dissipels uitgaan, beteken dit nie die einde van die verhouding nie – aanmoediging en rigtinggewing is nog altyd nodig. Ons moet egter bereid wees om die geleenthede aan te gryp en bereid wees om in die proses ‘n prys te betaal: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat … As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:18 – 20). Dissipels maak dissipels: maklik om te verstaan, duur om te implementeer.

As ons opdrag is om dissipels te maak, hoe moet ons dit doen? Daarna kyk ons volgende keer.