Die Handelinge van die Apostels: Die Here het Paulus na die heidene gestuur (Hand 22:17-21) – Francois Malan

22:17 Hierdie vers sluit aan by 22:4-5 wat vertel van Paulus se vertrek uit Jerusalem na Damaskus om die mense van die Weg te gaan arresteer. Na sy bekering en drie jaar in Arabië en Damaskus, het hy teruggekeer na Jerusalem (Gal 1:17-18). Terwyl hy in die tempel besig was om te bid het hy in geestesvervoering geraak (ékstásis is ’n visioen tydens ’n ekstatiese psigologiese belewenis), soos Petrus in Hand 10:10; 11:4. Die aanklag dat Paulus teen hierdie plek, die tempel is (21:28), word geloën deur sy optrede na sy bekering, dat hy nog steeds in die tempel kom bid het. Die vrome Jood Paulus bly getrou die tempel besoek, die heilige plek waar God Homself openbaar, en hier het Jesus aan hom verskyn. Dit vertel hy aan die skare in sy toespraak van die trappe van die burg Antonia af.

22:18 Sy vertelling gaan voort: Vir die tweede keer het Jesus aan Paulus verskyn. Eers op die pad na Damaskus en drie jaar daarna in die tempel in Jerusalem. Hier het hy ‘Hom,’ die Regverdige van  vers 14, gesien en gehoor. Voor die skare gebruik Paulus nie die naam Jesus wat deur die Jode gehaat word nie. Met die tweede verskyning gee Jesus aan Paulus sy lewensopdrag. Jesus stuur hom uit na die verre heidendom (22:21). Jesus het hom beveel om haastig en gou uit Jerusalem pad te gee omdat hulle Paulus se getuienis oor Jesus nie sou aanvaar nie. Dit word ook Paulus se ervaring tydens sy drie sendingreise waar hy telkens die Jode en die sinagoges moes verlaat omdat hulle sy getuienis oor Jesus nie wou aanvaar nie. En dan gaan hy na die heidene toe. Hy moes Jerusalem gou verlaat vir sy veiligheid want die Jode wou hom doodmaak (vgl. Hand 9:29-30). Van die opdrag om uit Jerusalem te vlug oor die hardheid van die Jode se harte vertel Paulus aan die Jode wat hom nou weer wou doodmaak.

22:19-20 In die verse vertel Paulus vir die skare hoe hy met die Here geredeneer het. Hy het destyds, met sy eerste besoek aan Jerusalem, gedink die Jode sou luister na die man wat hulle geken het as die vervolger van die Christusgelowiges, wat ook Stefanus se steniging goedgekeur het. Eintlik het Paulus se vervolging van die gelowiges eers na die steniging van Stefanus plaasgevind. Maar hier is die steniging van Stefanus beskryf as die toppunt van die vervolging. Stefanus is die eerste bloedgetuie vir Jesus (martus ‘getuie’ is die oorsprong van die woord ‘martelaar).’ Jesus word in Openbaring 1:5 die Bloedverlosser van ons sonde genoem; in Openb 3:14 die getroue en ware Getuie; Antipas wat by Pergamum vermoor is, word die getroue getuie van Christus genoem. Paulus het met sy eerste besoek aan Jerusalem na sy bekering gehoop die Jode sou wou weet wat hom destyds van siening en geloof laat verander het en na hom sou luister. Hy vertel dit nou aan die skare om te kyk of húlle nie sy nuwe pad wil aanvaar nie; veral in die lig van sy twee visioene van die opgestane Christus wat sy lewe verander het en sy sonde vergewe het. Dit is die Christus vir wie hulle laat kruisig het; hulle wat geskreeu het: ‘Laat sy bloed op ons en ons kinders kom’  (Matt 27:25).

22:21 Paulus vertel aan die skare wat die Here se antwoord destyds op sy argumente was. Die Here het vir my gesê: ‘Gaan! want Ek stuur jou ver weg na die heidene.’ Die Here het hom nie kans gegee om sy saak klaar te stel nie. Hy het gehoop sy reputasie van ywer vir die wet sal ’n deur vir die evangelie oopmaak na die Jode wanneer hulle van sy ontmoeting met Jesus hoor. Die Here het egter beter geweet. Hy weet die Jode is hardkoppig en verhard (Hand 19:9; Rom 10:21 ). Sy drie sendingreise na die heidene was juis in opdrag van die Here.

Paulus en die Romeinse kommandant (Hand 22:22- 29)

22:22 Hier begin die skare se reaksie op Paulus se getuienis. Totdat Paulus begin vertel het dat die Here hom na die heidene uitgestuur het, was die skare stil en het hulle na sy woorde geluister. Maar toe hulle van die heidene hoor bars hulle los en skreeu: ‘Maak dood die vent! (Letterlik: Weg met die vent van die aarde af), want hy behoort nie te bly lewe nie.’ Dat die heidene ingesluit word in God se verbond met Israel was vir hulle te veel. Dit beteken die Jode is nie meer God se enigste volk nie. Dit loën ook die heilsbetekenis van die wet van Moses. Die band van die heilsvolk met die tempel en hulle kultus word prinsipieel verbreek. Vandaar hulle moordsoekende woede. Die eis dat Paulus moet sterf word dubbeld gestel: ‘maak hom dood’, en, ‘hy mag nie bly lewe nie.’ 

22:23 Die eienaardige woede-optrede van die massa, nadat hulle Paulus se doodstraf uitgeskreeu het, wys waarskynlik na hulle oortuiging dat Paulus hulle mislei deur hulle na ’n ander God as die Enigste Here van Deutr. 6:4. Daarvoor bepaal Deutr 13:6-10 dood deur steniging. Hulle het hard geskreeu, hulle klere afgepluk (ríptō gooi, neersit soos die manne wat Stefanus gestenig het, Hand 7:58, of, in die lug gooi of daarmee waai as uiting van woede en moord) en stof/grond in die lug gegooi. Alles was tekens van hulle woede, frustrasie en verwerping van die renegaat Paulus en sy boodskap.

22:24 Die Romeinse kommandant sien dat die toespraak van Paulus niks uitrig nie. Daarby was hy verantwoordelik vir die orde in die stad, veral met die massas wat met die feeste na Jerusalem gekom het. Hy moes uitvind wat aangaan. Hy laat Paulus toe in die burg Antonia inbring met die opdrag om hom met geselhoue te ondervra om die waarheid uit hom te kry waaroor die Jode so teen hom te kere gaan. Is dit om godsdienstige redes of is hy ’n misdadiger? Geseling was gebruik vir slawe en mense wat nie Romeinse burgers was nie, as daar twyfel was of iemand die waarheid praat.

22:25 Toe Paulus reeds uitgestrek en vasgebind was vir die geseling, vra hy vir die offisier wat opsig oor die geseling het : ‘Is dit vir jou volgens wet toegelaat om ’n Romeinse burger, wat nie vir enige misdaad verhoor is nie, te gesel?’  Dit raak drie ou Romeinse wette daaroor: die Lex Valeria van 300 v.C., Lex Porcia van 185 v.C. en die Lex Julia van 90 v.C. waarin die ander twee opgeneem is. Daarin word verbied dat ’n Romeinse burger gegesel word, of onder geseling verhoor word, of voor vonnisoplegging geboei mag word. Dit was die wetlike reg van ’n Romeinse burger om sy waardigheid te beskerm en om nie onskuldig verneder te word nie. Die drie wette is aldrie deur die soldate teen Paulus oortree. 

22:26 Die offisier en die kommandant was blykbaar nie van geboorte Romeinse burgers nie. Uit sy vraag aan die kommandant blyk dit dat hulle twee ’n goeie verstandverhouding gehad het dat die offisier die kommandant kan vra wat hy van plan is om te doen oor hulle optrede teen ’n Romeinse burger. Die filosoof Epictetus (50-120 n.C.) het geskryf dat iemand wat valslik beweer dat hy Romeinse burgerskap het, baie swaar gestraf is.

22:27-28 Die kommandant kom by Paulus navraag doen of hy werklik Romeinse burgerskap het. Paulus bevestig dit. Sonder om direk te vra hoe Paulus dit bekom het, vertel die kommandant dat hy vir ’n groot som geld Romeinse burgerskap verkry het, waarskynlik deur omkoopgeld. Hy was nie van geboorte ’n Romeinse burger nie. Die kommandant se naam Claudius (Hand 23:26) het hy waarskynlik aangeneem toe hy burgerreg ontvang het gedurende die regering van keiser Claudius (41-54 n.C.) wat Romeinse burgerskap aan ’n groot aantal mense in die provinsies gegee het. Keiser Claudius se derde vrou, die jeugdige Messelina en haar gunstelinge het destyds burgerreg verkoop om hulle eie sakke te vul. Die kommandant se vertelling noop Paulus toe om te vertel hoe hy sy burgerskap verkry het, naamlik dat hy as Romeinse burger gebore is. Dit beteken waarskynlik dat sy pa ’n Romeinse burger van Tarsus was. Die Romeine het Tarsus in 64 v.C. hoofstad van die Romeinse provinsie Silisië gemaak.

22:29 Die soldate reageer dadelik. Die soldate wat hom moes ondersoek het dadelik van hom onttrek. Die kommandant was bevrees toe hy besef dat Paulus ’n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.

Skrywer:  Prof Francois Malan