Die Handelinge van die Apostels: Die Joodse komplot teen Paulus se lewe (Hand 23:12-22) – Francois Malan

23:12 Toe dit dag geword het, het die Jode ’n sameswering/komplot gemaak – (sustrofê ’n plan om onder ’n eed van samewerking teen iemand op te tree). Hulle het God se straf oor hulleself ingeroep as hulle nie sou doen wat hulle beloof het nie (anathematízō). Hulle eed voor die Here en aan mekaar het gelui dat hulle nie weer sal eet of drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie. Die Jode het Paulus deurgaans vervolg, hom uit Antiogië verdryf (13:50), uit Ikonium laat vlug (14:6), in Listra tot die dood toe gestenig (14:19), in die nag uit Thessalonika laat vlug (17:10), die skare in Berea teen hom opgesweep (17:13), hom in Korinthe belaster (18:6), in Jerusalem uit die tempel gesleep en probeer doodmaak (21:30), maar hier plaas hulle hulle eie lewe op die spel om hom dood te kry as die toppunt van hulle verwerping van sy getuienis oor die opstanding van Jesus as die Seun van God en Redder van die mensdom.

23:13 Daar was meer as 40 van hierdie fanatici wat hierdie sameswering (sunōmosía) gemaak het. Die groot getal het hulle geheime plan makliker laat uitlek.

23:14 Vir hulle plan moes hulle Paulus uit die kaserne uitlok. Hulle kom met hulle plan na die Sadduseër leierpriesters en die familiehoofde. Die Fariseër skrifgeleerdes word nie genoem nie want hulle was mos aan Paulus se kant. Hulle vertel dat hulle ’n eed gesweer het om niks te eet nie, die strengste vorm van vas, totdat hulle Paulus doodgemaak het.

23:15  ‘Daarom moet julle aan die Kommandant laat weet dat julle saam met die Sanhedrin versoek dat hy hom afbring (katagagêi Konjunktiewe vorm van die werkwoord wat ‘aansporing’ uitdruk) na julle toe asof julle sy sake noukeuriger wil ondersoek (diagnōskō kan ook beteken: om na deeglike ondersoek te besluit). Ons is gereed om hom dood te maak voordat hy naby (die tempelterrein) kom.’  Die onwettige vergadering van die Sadduseërs en familiehoofde moet voorgee dat hulle namens die Sanhedrin hulle ‘offisiële besluit bekendmaak’ (emfanízō) aan die kommandant. Hulle stel dit as ’n versoek om vir Paulus na hulle toe te bring vir ’n deeglike ondersoek van die dinge oor hom (tà perì autou). So sou hulle ook die Fariseërlede se instemming met die slinkse versoek kon verkry en sal die Raad ook nie verdink kan word van medepligtigheid aan hulle moordplan nie.

23:16 Paulus se susterskind het gehoor van die hinderlaag (enédra; 23:12 sustrofê komplot; 23:13 sunōmosía sameswering) en het dit vir Paulus in die kaserne gaan vertel. So sorg die Here dat Paulus op die regte tyd van die aanslag hoor, soos van die Joodse komplot (epiboulê) teen hom in Damaskus 9:24; en van die Jode se komplot (epiboulê) voor sy vertrek uit Griekeland 20:3. In Damaskus laat sy volgelinge hom in die nag in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur sak. (9:25). In Jerusalem help die broers hom wegkom toe hulle agterkom dat die Helleniste probeer om hom dood te maak (9:29-30). Die broers in Thessalonika het hom en Silas in die nag na Berea gestuur (17:10). Die broers in Berea het hom begelei tot in Korinthe (17:14). Telkens gebruik die Here mense om Paulus te waarsku.

23:17-22 Paulus stuur ’n soldaat om ’n offisier te roep. Die offisier hoor nie die storie nie, maar neem die jongman, op versoek van Paulus, wat as ’n gevangene (v18) vir sy eie veiligheid beskou word, na die kommandant om die storie te hoor. Die kommandant neem die jongman eenkant toe waar hulle twee privaat (kat’ idían) kon wees sodat net Paulus en die kommandant ook die storie ken wat die jongman kom vertel het (v19). Die jongman vertel toe van die Jode se versoek aan die kommandant om Paulus die volgende dag na die raad toe te bring onder voorwendsel (hōs asof) hulle sy saak noukeuriger wil ondersoek (v20). Die jongman waarsku die kommandant om nie die versoek toe te staan nie, omdat dit nie die eintlike rede is vir hulle versoek nie. Hy vertel toe van die hinderlaag van die 40 man wat reeds opgestel is in afwagting van die kommandant se instemming (epangelía) en van hulle gesamentlike eed voor die Here om nie te eet of te drink voor hulle Paulus doodgemaak het nie (v21). Die kommandant laat die jongman gaan met die opdrag (parangelía) om niemand te vertel dat hy die storie aan die kommandant vertel het nie (v22). Sodoende kan die kommandant se verdere optrede met Paulus en sy antwoord aan die raad as hy hulle versoek die volgende dag ontvang, nie met die storie van die jongman verbind word nie.

Paulus word na Goewerneur Feliks gestuur (Hand 23:23-35)

23:23 Die kommandant roep twee offisiere (letterlik: hoofmanne oor 100) en gee opdrag dat hulle om nege-uur die aand (letterlik: die derde uur van die nag) gereed moet wees om na Sesarea te vertrek met 200 gewone soldate elkeen met ’n swaard en ’n skild, 70 berede soldate met spiese en pantser aan, en 200 voetsoldate elkeen met werpspiese gewapen. Hiermee word die belangrikheid onderstreep van Paulus as Romeinse burger (23:27), van die grootheid van die dreigende gevaar van moord en oproer, en van die kwaliteit van die Romeinse maatreëls. Dit laat dink aan Jesus se woorde met sy gevangeneming aan Petrus: ‘Of dink jy nie ek kan maar net my Vader vra, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot my beskikking stel nie?’  So beskik die Here 470 Romeinse soldate om Paulus te verlos uit die hande van die 40 Joodse sluipmoordenaars wat voor die Here ’n eed gesweer het om Paulus dood te maak.

23:24 Hulle moes ook sorg vir rydiere (ktênê diere wat las dra) vir Paulus se vervoer om hom veilig na goewerneur Feliks toe te neem. Jesus se getuie word vinnig op Romeinse aflosperde vervoer, waar Jesus op ’n nederige donkie Jerusalem ingery het. Antonius Feliks het in 52 n.C. die keiser se gesant in Palestina geword. Die Romeinse skrywer Tacitus het hom beskryf as iemand wat met alle wreedheid en willekeur die koninklike mag met die gesindheid van ’n slaaf gehandhaaf het. Hy was ’n vrygelate slaaf wat goewerneur geword het deur sy invloedryke broer Pallas. Hy was met drie prinsesse agtereenvolgens getroud. Die derde vrou was die mooie Drusilla (24:24), wat op 14 jaar deur die keiser aan Azisus, koning van Emesa as vrou gegee is (die huidige Homs in Sirië, 160 km noord van Damaskus). Sy is kort daarna deur Feliks verlei om ’n ongeoorloofde huwelik met hom te sluit.

23:25-26 Die kommandant gee aan een van die offisiere wat Paulus tot in Sesarea sal vergesel ’n brief aan die goewerneur om te verduidelik waarom Paulus na hom toe gestuur word. Dit is ’n tipiese Griekse brief van daardie tyd wat begin met die skrywer, die geadresseerde en ’n formele groet (chaírein wat ’n toewensing van geluk aan die geadresseerde impliseer). Claudius Lisias – Lisias is ’n bekende Griekse naam wat volg op die erenaam van keiser Claudius, wat Lisias aangeneem het toe hy Romeinse burgerskap gekry het. Dit bevestig dat hy nie ’n gebore Romeinse burger is nie, maar ’n Griek wat Romeinse burgerskap gekoop het (22:28).

Feliks word aangespreek as ‘die hooggeagte’ (krátistos eksellensie, of mees geëerde – iemand met adellike status, met die implikasie van mag en gesag, soos Theofilus in Luk 1:3 aangespreek word). Goewerneur ( letterlik: hêgemōn  iemand wat oor ’n Romeinse provinsie regeer; in Latyn procurator, iemand wat namens die keiser regeer terwyl ’n proconsul namens die Romeinse senaat regeer).

23:27 Dat hy Paulus van die dood gered het uit die hande van die Jode, omdat hy ’n Romeinse burger is, is nie ’n ware weergawe van die gebeure van 21:31-36 nie (vgl 22:24-29). Die hoofrede waarom die kommandant egter vir Paulus na die goewerneur verwys het, was dat hierdie man Paulus, wat hy na die goewerneur stuur, ’n Romeinse burger is wat deur die Jode met die dood gedreig was. Daarom word dit voorop in die brief gestel. Dat hy dit eers uitgevind het nadat hy opdrag gegee het dat Paulus gegesel moes word, sou hom in groot moeilikheid laat beland het. Daarom word dit verswyg.  

23:28 stem ooreen met 22:30.

23:29 Die kommandant kon slegs met die hulp van ’n tolk of van Paulus self agtergekom het waaroor die stryery tussen die Sadduseërs en die Fariseërs was. Belangrike nuwe informasie is dat Lisias volgens Romeinse reg Paulus onskuldig bevind het aan enigiets wat die dood of gevangenskap verdien. Daarom was Paulus se aanhouding ook in 23:35 slegs ’n bewaking van Paulus teen die Jode.

23:30 Lisias verwys na die komplot teen Paulus, maar verswyg die versoek van die Sanhedrin om Paulus noukeuriger te ondersoek. Dit is egter deel van die komplot. Dat hy die aanklaers beveel het om hulle saak aan die goewerneur te gaan voorlê, is seker eers die volgende dag gedoen om nie Paulus se ontsnappoging die nag in die wiele te ry nie. Maar in die brief aan die goewerneur word dit gestel asof hy reeds die opdrag aan die Sanhedrin gegee het.

23:31-32 Volgens die kommandant se instruksies aan die twee offisiere (23:23-24) het hulle vir Paulus geneem en deur die nag en waarskynlik ’n deel van die volgende dag tot by Antipatris gebring. Antipatris lê 60 km noord-wes van Jerusalem. Die kontingent met o.a. 400 voetsoldate, wat gewoonlik 24 km per dag kon aflê, het Antipatris seker eers later gedurende die dag bereik.

Antipatris was gebou op die ou stad Afek, een van die stede wat Josua ingeneem het (Jos 12:18). Later was dit ’n basis van die Filistyne (1 Sam 41:1; 29:1). Nog later is dit Arethusa genoem. Altwee name verwys na baie water by die stad. Herodes die Grote het die stad herbou en na sy vader Antipater vernoem (die huidige Tell Ras el-Ain is ’n Turks-Arabiese stad in Israel). Dié Hellenistiese stad met oorwegend nie-Joodse inwoners van destyds lê op die grens tussen Judea en Samaria. Hier sou Paulus veilig wees teen die Joodse samesweerders. Daarom keer die 400 soldate terug na Jerusalem om te help met die wet en orde in die stad. Die 70 berede soldate onder een van die offisiere vergesel Paulus na Sesarea, 40 km noord van Antipatris.

23:33 By hulle aankoms in Sesarea oorhandig die kontingent die brief van Lisias aan die goewerneur en gee Paulus oor aan die goewerneur se gesag en verantwoordelikheid (parístêmi). Sesarea is die hawestad waaraan Herodes die Grote van 22-10 v.C. laat bou het en na keiser Augustus genoem het. Die paleis van Herodes het die woning van die Romeinse goewerneurs en van die administrasie van Palestina vir 600 jaar lank geword.  

23:34 Om Paulus se Romeinse burgerskap te bevestig, soos in Lisias se brief gemeld is, vra Feliks van watter provinsie Paulus afkomstig is, en verneem van hom dat dit Silisië is. Sedert 67 v.C. is Tarsus deur die Romeine aangewys as die hoofstad van die provinsie Silisië wat hulle ingeneem het, maar wat nog onder die goewerneur van Sirië geval het. Sedert 90 v.C. kon bondgenote van Rome ook Romeinse burgerskap verkry. Paulus se ouers wat in Silisië gewoon het was reeds Romeinse burgers (22:28). Maar aangesien die aanklag teen Paulus uit Jerusalem kom, wat onder Feliks se jursdiksie oor die provinsie Palestina val, was hy bereid om die saak te verhoor.

23:35 Daarom wag Feliks op die aanklaers uit Jerusalem voordat hy die saak sal verhoor. Feliks gee ook opdrag dat Paulus in die paleis wat Herodes die Grote gebou het en nou as goewerneurswoning gebruik word deur soldate bewaak moet word teen moontlike sluipmoordaanvalle (fulássō beteken om deur wagte teen gevaar te beskerm). Soos wat hy met 70 perderuiters wat hom beskerm het daar aangekom het, moet hy verder beskerm word tot die verhoor. Paulus staan tussen sy Romeinse beskermers en die vyandige Joodse Raad. So het die Here Paulus teen die Joodse woede beskerm.

Skrywer:  Prof Francois Malan