Die Handelinge van die Apostels: Die eerste gemeente (Hand 2:42-47) – Francois Malan

2:42 Na die beskrywing van die
Pinkstergebeure voeg Lukas belangrike sake in oor die lewe van die eerste
gemeente. Bestendigheid is vir die geestelike lewe saam met Christus net so
belangrik soos die begin daarvan (vgl. Joh 15:4 ‘Bly in My soos Ek in
julle…’  Volhard (proskartereō)
om te midde van moeilikhede aan te hou met toegewyde diens aan mekaar. Die lede
van die eerste gemeente het bly volhard in vier sake wat die lewe van die
eerste gemeente tipeer:

1) ‘in die onderrig/leer
(didachê die inhoud van wat geleer word) van die apostels…’  – hulle het gretig geluister na die onderrig
wat die apostels gegee het (vgl. Jesus se opdrag in Matt 28: maak
dissipels…doop hulle…en leer (didaskō) hulle om alles te onderhou
wat Ek julle beveel het). Die inhoud van die lering gaan oor die groot dade van
God in die optrede van Jesus (Hand 2:11), veral oor die betekenis van sy
kruisiging en opstanding uit die dood (Hand 2:32; 4:33) en die verklaring van
die Ou Testament in die lig van Christus se opstanding, soos in Petrus se
preek. 

2) ‘en in die gemeenskap…’
(koinōnia noue wedersydse verhoudings) – dit beteken dat hulle gereeld
saamgekom het, met vreugde in die kontak met mekaar en in die teenwoordigheid
van hulle opgestane Here, deur die inwoning van die Heilige Gees in hulle. Dit
sluit in dat hulle vir mekaar daar is, om mekaar te versorg en te dien.In
Markus 10:45 het Jesus gesê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om
te dien. In Johannes 13:14-15 het Jesus gesê: ‘As Ek, julle Here en
Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.
Ek het immers vir julle ’n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos Ek
gemaak het.’

3) ‘in die breking
van die brood
…’ wat wys na hulle saam eet, die sogenaamde liefdesmaal (agapê),
waar veral behoeftiges gevoed is deur meer gegoede lidmate, met die viering van
die nagmaal daarna. So het Jesus as huisvader die brood gebreek aan die begin
van die maaltyd saam met die Emmausgangers (Luk 24:30), en het Jesus met die
instelling van die nagmaal die brood gebreek tydens die paasmaaltyd (Luk
22:19). Dit is ’n herinnering aan die maaltydgemeenskap van Jesus met sy
dissipels en die voortsetting daarvan deur die opgestane Here Jesus saam met sy
gelowige volgelinge by hulle liefdesmaaltye (vgl. Judas 12 se liefdesmaaltye; 2
Petrus 2:13 verwys na ‘julle liefdesfeeste’ – agapais; 1 Kor 11:20-22 se
saamkom vir die Here se maaltyd, 1 Kor 11:33-34 saamkom om te eet).

 4) ‘en in die gebede’ – om in hulle
samekomste met God te praat, met die Psalmboek as hulle gebedeboek, die Onse
Vader wat Jesus hulle geleer het, saam met lofsange, bv. van Maria en Sagaria
(Luk 1:46-55; 68-79) in voortsetting van die Ou Testamentiese lofsange, en die
nuwe psalms, lofgesange en geestelike liedere wat hulle gemaak het, waarna in
Efesiërs 5:19 en Kolossense 3:16 verwys word. ‘…maak in alles julle versoeke
aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank (Flp 4:6).

2:43-47 Die verse beskryf
hoe die gemeentelede geleef het
, en is ’n inleiding tot die eersvolgende
hoofstukke. Vers 43 lei wonderdade in, wat in 3:1-10 en 5:12-16 beskryf word.
Verse 44-45 verwys na die uitdeel van besittings soos in 4:32-37; 5:1-11. Verse
46-47a vertel van die nederige lewe van die gemeentelede en hulle aanvaarding
deur die gewone mense teenoor die offisiële teenstand teen hulle (4:1-22;
5:42). Vers 47b beklemtoon die konstante uitbreiding van die gemeente (4:4,31;
5:42).

2:43 Die Here het baie wonders
en tekens deur die apostels laat plaasvind. Wonders (terata) verwys in
Hand 2:19 na wonders in die hemelruim, maar in die res van Handelinge veral na
wondergenesings, bv. 4:30; wondersterftes van Ananias en Saffira 5:12; na die
wonders in Egipte en by die Rooi See 7:36; vgl. ook 6:8; 14:3; 15:12. Tekens (sêmeia)
word telkens saam met wonders gestel om die betekenis van die gebeure te
beklemtoon, veral van wondergenesings 4:22; in 2:19 van tekens onder op die
aarde. Die gevolg van die wonders en tekens was dat ‘almal’ (letterlik: elke
siel) met ontsag (fobos groot ontsag vir God) vervul is oor die werk van
die Here deur die apostels. Die woord fobos beteken ook ‘vrees’ en
verwys waarskynlik na die ongelowiges wat gevrees het. Die wonders en tekens
was ’n bewys dat die apostels as gestuurdes van Jesus die waarheid oor
Hom verkondig.

2:44 ‘Al die gelowiges (mense
wat in Jesus geglo het) was saam (letterlik: was op een plek)…’ Hulle het
voortgegaan om in noue verbondenheid met mekaar te lewe. Dit beteken nie dat
almal saam gebly het nie, maar dat hulle gereeld bymekaar gekom het.

‘…en het alles met mekaar
gedeel’ (eichon hapanta koina letterlik: ‘alles gemeenskaplik te hê,’ is
’n idioom vir om alles met mekaar te deel). Dit beteken nie dat hulle al hulle
besittings prysgegee het nie, maar dat hulle besittings beskikbaar was
om ander in nood te help, soos uit die volgende verse blyk.

2:45 Die vers verduidelik wat
in vers 44 gesê is oor die uitdeel van hulle eiendom (ktêmata eiendom
verwys gewoonlik na grond, en besittings (huparkseis dingewat
aan iemand behoort). Die twee woorde saam beklemtoon dat alle soorte
besittings
beskikbaar was. Van hulle het van hulle besittings verkoop en
uitgedeel aan almal (gelowiges), volgens die mate wat iemand behoefte het. Die
besluit om van tyd tot tyd van jou besittings te verkoop om dit vrywillig te
kan uitdeel (vgl. 5:4) wys hoe die Heilige Gees hulle barmhartig teenoor
behoeftiges gemaak het, en spreek van hulle liefdesband, hulle koinōnia
met mekaar.

2:46 Die vers gee ’n
aanduiding van die godsdienstige lewe in die gemeente. ‘Met wedersydse
ooreenkoms (homothumadon) het hulle daagliks met toewyding volhard in
die tempel (en tōi hierōi)’hulle het die tempel besoek vir
lering en aanbidding, soos Jesus (Luk 4:16), ‘en het van huis tot huis (te
kat’ oikon
) brood gebreek’ – ’n gemeenskaplike maal geniet. Kenmerke van
hierdie ‘saam gebruik van voedsel’ in mekaar se huise word genoem: dit
het geskied met intense vreugde-en-vrolikheid van hart, met nederigheid teenoor
mekaar, en eenvoudigheid van hart, harte wat heeltemal op God gerig was. In die
hele Nuwe Testament word gepraat van die vreugde wat die evangelie en die
Heilige Gees in die gelowiges werk: Hand 8:8 vreugde in Samaria; 8:39 die
eunuch wat sy reis met blydskap voortgesit het; 13:48 die heidene van Antiogië;
13:52 Ikonium se nuwe gelowiges; 15:3 groot vreugde oor die bekering van die
heidene; 16:34 die tronkbewaarder en sy hele huishouding was jubelend; Gal 5:22
blydskap as vrug van die Gees; Flp 4:4 Verbly julle altyd in die Here; 1 Thess
1:6 met blydskap die Heilige Gees ontvang; Jak 1:2 groot vreugde as beproewings
julle oorval.

2:47 Hulle het God
deurentyd geprys
– sy goedheid besing. Hulle lewe was ’n lewe van
dankbaarheid teenoor God vir sy genadige verlossing deur Jesus se offer vir ons
sonde, en sy inwoning deur die Heilige Gees. 

Die hele volk was hulle
goedgesind
– dit teenoor die gesindheid van die
godsdienstige leiers in hoofstuk 4:1-22; 5:17-41. Die eerste tekens van
teenstand van die volk se kant af begin in hoofstuk 6:8, wat toeneem totdat die
apostels vir hulle lewe moes vlug uit Jerusalem in 12:1-17. Dit volg die
patroon van Jesus se lewe in die Lukas Evangelie, wat aanvanklik toegeneem het
in guns onder die mense (Luk 2:52), almal wat met lof oor sy onderrig gepraat
het (Luk 4:15) en sy verwerping wat in Nasaret begin het (Luk 4:29).

Die gedeelte word afgesluit met ’n opsomming oor die lewe van die eerste gemeente: ‘En die Here (Jesus) het daagliks (dag vir dag) verlostes by hulle getal gevoeg.’  Die passiewe deelwoord ‘verlostes’ wys dat dit Jesus is wat die mense van hulle sonde verlos het en hulle verhouding met God reggemaak het (vgl Joh 16:8-11)). Deur die Heilige Gees is hulle van hulle sonde oortuig en deur die prediking het Hy hulle tot geloof in Jesus gelei. Die getal wat daagliks gegroei het tot ongeveer 3000 mense is die vervulling van die Here se belofte in Joël 2:32 oor die gevolg van die uitgieting van die Heilige Gees: ‘Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word…Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.’ 

Skrywer: Prof Francois Malan