Die Handelinge van die Apostels: Oproer in Efese Deel 2 (Handelinge 19 vers 30-40) – Francois Malan

image_pdfimage_print

19:30 Paulus wou in die volksvergadering ingaan, waarskynlik om die saak van die Here te stel en om sy reisgenote te verdedig, maar die dissipels in Efese wat hulle mense geken het, het hom verhinder, soos die Heilige Gees hom vroeër verhinder het om na Efese te gaan (16:6). Dit was nie ’n wettige vergadering nie en sy volgelinge in Efese het geweet Paulus se lewe is op die spel as hy daar sou ingaan. Vir hom as prediker wat handgemaakte gode soos Artemis juis as nikswerd gode afgewys het, sou dit daar nog gevaarliker gewees het as vir sy reisgenote. So gebruik die Heilige Gees die dissipels om Paulus te keer.

19:31 Uit ’n onverwagte en verrassende oord stuur die Here ’n tweede waarskuwing met ’n boodskapper na Paulus. Sommige hoë amptenare van die Romeinse provinsie Asië (Asiárchoi), wat vriende van Paulus was, het na Paulus ’n boodskap gestuur. Hulle het hom baie ernstig gesmeek om hom nie in die teater te begewe nie (letterlik: om homself in die teater te gee nie). Die hoë amptenare in die provinsie was gewoonlik aangestel om toesig te hou oor die administrasie en oor die keiserkultus. Hulle vriendskap met Paulus het al so ver gevorder dat hulle hierdie Jesusboodskapper se lewe wil beskerm. Dit is duidelik ook die werk van die Heilige Gees dat die beskermers van die keiserkultus hulle oor Paulus bekommer. As hulle sy vriende genoem word, het hulle seker al begin belangstel in die evangelie.

19:32 Lukas skets’n komiese prentjie van die groot volksoploop. Demetrius neem nie leiding nie en lê nie ’n klag teen die Christene aan die opgesweepte skare voor nie. Lukas skets ’n tipiese Oosterse byeenkoms: sommige van die skare het dít en ander dát uitgeskreeu, want die volksvergadering was in verwarring. Die meeste van hulle het glad nie geweet waarvoor hulle daar bymekaar gekom het nie.

19:33 Die vers is nie duidelik nie en die Griekse woorde maak dit ook nie duidelik nie. Alexander is onbekend, tensy hy dieselfde Alexander van 2 Timotheus 4:14-15 is, die kopersmid wat vir Paulus baie kwaad aangedoen het en sy woorde heftig teengestaan het. Aan die einde van sy lewe skryf Paulus dit in sy brief aan sy geestelike seun Timotheus wat destyds in Efese die leier in die gemeente van Efese was. Paulus waarsku Timotheus om op sy hoede te wees vir Alexander.

Wie vir Alexander in die teater na vore gestoot het (proballō om blaartjies uit te stoot) en wat hulle vir hom voorgesê het (sumbibázō adviseer deur opdragte te gee), is raaiwerk. Moontlik was dit Jode wat ook in die massa was en vir die skare wou sê dat hulle nie saamstem met Paulus se verkondiging van Jesus nie, hoewel die Jode ook teen afgode en beelde was.   

   Alexander het met sy hand beduie en wou voor die inwoners van Efese ’n verdediging lewer – van homself of namens die Jode? Sekerlik nie om Paulus en vir Jesus te verdedig nie, tensy hy ’n Christen Jood was wat deur die gelowiges voorgestoot is om hulle te verdedig, wat onwaarskynlik is (vgl. 1 Tim 1:20 vir sy teenstand teen Paulus). Hy wou moontlik vir die skare verduidelik dat die Jode en die Christene twee heeltemal verskillende groepe is en dat die Jode nie die silwersmede bedreig nie, of dat die kopersmede ook bedreig voel deur die vinnige groei van die volgelinge van Jesus.

19:34 Dit is duidelik dat die Efesiërs nie van die Jode gehou het nie. Hulle het seker geweet die Jode is teen afgodsbeelde. Moontlik het party vir Alexander geken en dit luidkeels verkondig of hulle het aan sy spraak of voorkoms agtergekom dat hy ’n Jood is. Daar kom toe ’n nuwe uitbreek van die heidense selfbewussyn. Die hele skare het soos een man die belydenis van die Efesiërs begin uitskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’ En hoe langer hulle skreeu hoe harder word dit sodat die hele stad vir twee uur lank geskud word deur hulle uitroep. 

19:35  Toe verskyn die stadsleier op die toneel. Uit sy optrede blyk dit dat die stad Efese se hoofamptenaar ook verantwoordelik was vir wet en orde in die stad. Hy was ook die aankondiger van besluite van die keiser en die plaaslike Raad en daarom het sy woord gesag gedra by die inwoners. Hy het die skare onder sy beheer gekry en stil gekry met sy teenwoordigheid – die massa wat nie geweet het waarvoor hulle hier is nie, het gedink die stadsleier sal weet waarvoor hulle hier is. Hy begin om hulle aan sy kant te kry met sy argument deur hulle godsdienstige gevoel gerus te stel en hulle trots te vlei: ‘Efesiërs (letterlik: manne/mense van Efese) watter mens is daar wat nie weet dat die stad Efese die beskermer van die tempel (neokóros wat die tempel versorg en bewaak) van die groot Artemis is nie en van die klip wat uit die lug geval het nie?’ Die Efesiërs het geglo dat die meteoriet wat uit die hemel in Efese beland het,die beeld is van dié godin. Die beeld het in die aduton, die binneste heiligdom van die tempel gestaan. Dat die beeld uit die hemel geval het was die hoofamptenaar se argument teen Paulus se beskuldiging dat hulle gode handgemaak is – in die antieke tyd was daar ook op ander plekke tempels opgerig vir meteoriete wat beskou is as gode wat uit die hemel na die aarde toe gekom het.

19:36 ‘Omdat niemand die dinge kan weerspreek nie (naamlik die Efesiërs se taak om die tempel van die godin uit die hemel te beskerm) is dit noodsaaklik dat hulle beheersd moet wees en niks roekeloos, sonder nadenke of berekening van die gevolge, doen nie.’

19:37  ‘Want hierdie manne wat julle hierheen gebring het, naamlik Paulus en sy reisgenote Gajus uit Derbe en Aristargus uit Masedonië (19:29), is nie tempelrowers nie (hierósulos kan tempelrower of beeldstormer aandui – die een steel uit die tempel, die ander slaan die beelde stukkend) en hulle belaster ook nie ons godin nie.’ Demetrius het gesê dat Paulus-hulle sou beweer dat handgemaakte gode nie gode is nie (19:26). Die stadsleier het dus hulle aanklag teen die Christene in beginsel afgewys.

19:38 Demetrius en sy ambag se manne word egter na die ordentlike regproses verwys as hulle iets teen iemand het. Daarvoor word hofsttings op bepaalde dae in die groot stede van die provinsie Asië, soos Efese, Pergamum, Smirna, ens.  gehou en daar is prokonsuls wat die Romeinse Senaat se gesag verteenwoordig. Laat hulle hulle klagtes en aanklagte teen mekaar daar voorlê. Daar word sake goed oorweeg en nie met ’n onnadenkende geskreeu in die teater nie.

19:39 As die massa egter iets meer soek as wat die stadsleier nou vir hulle geskilder het oor die regsproses, moet dit in ’n wettige vergadering van Efese se burgers besleg word. Die stadsleier is die voorsitter van so ’n vergadering. Die Romeinse owerheid het aan sekere stede soos Efese die voorreg van selfregering toegeken, solank as wat hulle volgens die Romeinse wette optree. So ’n vergadering is driemaal elke maand gehou.

19:40 Die stadsleier sluit af met ’n baie ernstige waarskuwing. Hy vrees, en nie sonder rede nie, dat hulle die reg tot selfbeskikking kan verloor deur hierdie dag se oploop. Efese loop reeds die gevaar om ernstig aangekla te word oor hierdie dag se openlike opstand teen die plaaslike gesag en teen die Romeine se vereiste van ordelike regsreëls by byeenkomste. Daarby sal hulle geen rede kan aanvoer vir die onordelike oproer nie

Met die waarskuwing sluit die stadsleier die vergadering af en verdaag hy die vergadering. 

In hierdie stukkie geskiedenis onderstreep Lukas die Here se werk om die evangelie in Efese uit te brei deur Paulus se prediking en wonders (19:10-12). Die teenstand teen die evangelie word deur Demetrius en die silwersmede gelei tot ’n onwettige en deurmekaar opstand wat baie lawaai maak in die stad. Die Jode wou nog teenstand bied, maar die massa het hulle nie ‘n kans gegee nie. Die Here beskerm vir Paulus deur die gemeente wat hom nie toegelaat het om in die teater in te gaan nie (19:30); deur die owerhede, die Romeinse regeerders in die provinsie Asië wat by hom pleit om hom nie in die teater te begewe nie (19:31) sowel as die stadsleier wat vir Paulus en sy twee reisgenote onder sy beskerming neem met sy kalm optrede. Deur elkeen se optrede kan ’n mens die leiding en sorg van die Here oor sy volgelinge sien en dit te midde van die aanslae teen die geloof in Jesus Christus. In 2 Korinthiërs 1:8-11 verwys Paulus na die bedreiging van sy lewe in Asië en hoe die Here hom uit die groot doodsgevaar gered het.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...