Die Handelinge van die Apostels: Paulus in Korinthe (Hand 18:1-6) – Francois Malan

18:1 Na Paulus se preek op die Areopagus het hy Athene verlaat en na Korinthe gegaan, die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje. Silas en Timotheus was nog in Berea, en Paulus het alleen na Korinthe gegaan. Daar word nie gesê of hy die ongeveer 80 kilometer gestap het, oor die stad Eleusis (huidige Elefsina) met die groot tempel vir Demeter, en die stad Megara, of hy per skip gereis het tot by Kenchreë, een van Korinthe se twee hawens, nie.  Omdat Korinthe met die Romeine se opmars in 146 v.C. weerstand gebied het, is die stad deur die konsul Mummius gelykgemaak, maar is 100 jaar later, in 44 v.C. deur Julius Caesar weer opgebou. Hy het dit ’n Romeinse kolonie gemaak en die stad gevul met oudsoldate en vrygelate slawe. In 27 v.C. maak keiser Augustus dit die hoofstad van die provinsie Agaje.   Met die twee hawens Kenchreë aan die oostekant aan die Egeïese see en Lechaeum in die weste in die golf van Korinthe, was Korinthe ’n florerende handelstad met inwoners uit Klein-Asië, Sirië en Egipte. Omdat matrose bang was om in die winterstorms om die Peloponnesus skiereiland te vaar, is ’n geplaveide sleephelling (díolkos) in 600 v.C. gebou om skepe tussen Kenchreë en Lechaeum oor land te sleep. Die vierspoor diolkos was 6 meter wyd oor die 6.4 kilometer wye landengte, die Isthmus van Korinthe, wat tot ’n hoogte van 79 meter strek. Die skepe tussen die Ooste en Rome is op wiele oor die diolkos gesleep. Die vier spore vir die wiele was 160 cm uit mekaar. Dit het die handel in die stad versterk met reisigers, handelaars en matrose (die diolkos is in 1893 vervang met ’n 6.4 km kanaal tussen die twee hawestadjies wat die Peloponnesus van die res van Griekeland skei, met drie brûe wat hulle verbind).  

Die ou Korinthe het al ’n naam gehad vir ’n sedelose stad met ’n 1 000 prostitute op die Akropolis. Die stad het in Paulus se tyd die spreekwoord korinthiazein (om soos die Korintiërs te doen) vir ’n losbandige lewe gestand gedoen. Die kosmopolitiese stad het ’n mengsel van godsdienste gehad met verskillende tempels, vreemde kultusse, primitiewe bygelowe, Griekse gode, ook ’n Joodse sinagoge.  Die mense wat deur die Heilige Gees oortuig is om in die wêreldvreemde boodskap oor Jesus Christus se verlossing te glo, was hoofsaaklik nie baie wyses, of invloedrykes, of van adellike afkoms nie (1 Kor 1:26). Daar was egter ook enkeles van hulle in die gemeente, bv. Erastus die stadstesourier wat ’n gang in die teater laat plavei het (hy word genoem in Rom 16:23; Hand 19:22; 2 Tim 4:20), Krispus die leier van die sinagoge (Hand 18:8; 1 Kor 1:14) en Sosthenes, moontlik Krispus se opvolger as leier van die sinagoge (Hand 18:17; 1 Kor 1:1). 

Na Paulus se rustige verblyf in Athene met die wysgere wat die evangelie as dwaasheid afgelag het, lei die Here hom na die woelige stad Korinthe (18:9) waar hy vir ‘n jaar en ’n half lank werk (18:11). Hy het hulle nog twee maal daarna besoek (2 Kor 2:1; Hand 13:1; 20:1-3) en vier briewe aan hulle geskryf, waarvan twee in ons Bybel opgeneem is (1 Kor & 2 Kor, en waarin na die ander twee briewe verwys word (vgl. 1 Kor 5:9-11; 2 Kor 7:8-12). Daarby het hy van Korinthe af die briewe aan die Galasiërs, 1 & 2 Thessalonisense en Romeine geskryf.

Paulus se benadering in Korinthe was blykbaar heeltemal anders as in Athene. In 1 Kor 2:1-2 sê hy: ‘…toe ek na julle gekom het, het ek nie gekom om met verhewe woorde of wysheid God se geheimenis aan julle te verkondig nie. Ek het besluit om by julle niks anders te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.’ Hy sluit nie meer by die Griekse wysgere se geloof en insig aan om van daaruit te kom tot ’n oproep tot bekering uit vrees vir die opgestane Wêreldregter nie. Maar begin en eindig in Korinthe met Jesus Christus as God wat uit liefde vir die mensdom, self mens geword het om aan die kruis die straf op die sonde van die wêreld op Hom te neem en die mensdom uit die mag van die sonde te verlos. 1 Kor 2:4 ‘My lering en my verkondiging het nie berus op oorredende (woorde van) wysheid nie, maar op bewyse van die Gees en van krag.’ In Galasiërs 5:22 het Paulus vroeër beskryf wat hy verstaan onder ‘bewyse van die Gees en van krag’ – ‘die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid/nederigheid, selfbeheersing.   

18:2 In Korinthe vind Paulus ’n sekere Jood met die naam Aquila (Latyn vir ‘arend’). Hy is van geboorte uit Pontus (vgl. Hand 2:9) wat saam met Bitinië die Romeinse provinsie aan die Swart See gevorm het. Die Heilige Gees het Paulus-hulle verhinder om daar in te gaan (Hand 16:7). Aquila en sy vrou Priscilla was onder die Jode wat Rome moes verlaat toe keiser Claudius (regeer 41-54 n.C.) beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat (waarskynlik in 49 n.C.). Die Romeinse geskiedskrywer Suetonius (69-122 n.C.) het geskryf: ‘Aangesien die Jode konstant oproere veroorsaak op aandrang van ene Chrestus, het keiser Claudius die Jode uit Rome verban.’ Claudius het dit waarskynik gedoen omdat die Jode en Joodse Christene met mekaar baklei het en aktief proseliete sou gewerf het onder die Romeine. Aquila en Priscilla het pas in Korinthe aangekom (prosfátōs onlangs). Of hulle toe reeds Christene was of eers deur Paulus na bekering tot Jesus gelei is, is onseker. Volgens Handelinge 2:9-11 was daar op die Pinksterdag Jode en proseliete uit Pontus en uit Rome in Jerusalem, wat die koms van die Heilige Gees beleef het. Of die egpaar daar teenwoordig was of van iemand wat daar was van Jesus gehoor het, is nie seker nie. Paulus voeg hom by hulle (prosérchomai gaan na iemand of voeg jou by iemand). Die werkwoord lyk amper of Paulus van hulle te wete gekom het en na hulle gaan soek het of raakgeloop het. Later het daar in hulle huis ’n huisgemeente vergader (1 Kor 16:19). Hulle word Paulus se medearbeiders in Efese (Hand. 18:18,26), Rome (Rom 16:3) en weer in Efese (2 Tim 4:19). 18:3  Aquila en Priscilla (verkleinvorm van Priska soos in van Paulus se briewe) was soos Paulus tentmakers van beroep. Dit kon ook die derde rede wees waarom hy hom by hulle aangesluit het:

1 dat hulle ook Jode was;

2 moontlik reeds Christene was;

3 dat aldrie tentmakers van ambag was;

4 die belangrikste is egter dat die Heilige Gees hulle bymekaar uitgebring het.

Paulus moes, soos rabbi’s tydens hulle opleiding, ook ’n ambag leer. Benewens die regmaak van tente vir mense, was daar ook die groot atletiekbyeenkomste by die Griekse en Romeinse spele, waarin atlete van verskillende stede kom meeding het en tente gesoek het om in te bly. Die bokhaar wat by voorkeur vir tente gebruik is, het veral uit Silisië gekom, waar Paulus gebore is. In 2 Kor 11:17; 12:13 verwys hy na sy harde werk en swaarkry, dikwels met slapelose nagte, dat hy dag en nag moes werk om die pot aan die kook te hou vir hom en sy medewerkers. In 2 Kor 11:7,9 verwys Paulus daarna dat hy die evangelie van God aan die Korinthiërs sonder betaling verkondig het, omdat hy hom daarvan weerhou het om in enige opsig vir hulle ’n las te wees.  

18:4 Elke Sabbat het Paulus in die sinagoge met die mense geredeneer (met bewyse), met Jode en Grieke, waarskynlik godvresende Grieke wat reeds by die sinagoge ingeskakel het. Hy het hulle oortuig – die imperfektum werkwoordvorm beteken dat hy besig was om hulle met sy redenering te oortuig. Dit sou waarskynlik wees dat hy hulle uit die Wet en die Profete sou gewys het dat die Christus moes ly en uit dood opstaan om die mensdom van hulle sonde te verlos (vgl. 1 Kor 2:1-3 sy verkondiging van die gekruisigde Christus; en 1 Kor 15:3-4 oor Jesus se sterwe, begrafnis en opwekking volgens die Skrifte). Gedurende die week het hy as tentmaker gewerk en op die Sabbat in die sinagoge gaan debatteer.  18:5  Toe Silas en Timotheus per skip van Masedonië af geland het, het Paulus voortgegaan om homself (voltyds) toe te wy (proséchō) aan die woordverkondiging, deur voor die Jode ‘te getuig waarvan hy oortuig was’ (die betekenis van diamartúromai), dat Jesus die Jode se verwagte Messias is. Jesus het egter hulle verwagte Messias ver oortref. In 1 Kor 8:6 sê hy: ‘vir ons is daar net één Here, Jesus Christus deur wie alles is en ons deur Hom.’ Met sy twee helpers se koms kon Paulus deur die weeksdae ook met die Jode redeneer en nie slegs op die Sabbat nie.  18:6 Die Jode het hom aanhoudend teengestaan en belaster met hulle houding en optrede (antitássomai ‘teenstaan’ met gesindheid en optrede; blasfeméō ‘belaster’ om iemand se reputasie te besmeer; die teenwoordige tyd van die twee werkwoorde wys dat hulle aanhoudend daarmee besig was). Dat Jesus God is, is vir hulle godslasterlik, daarom beskuldig hulle Paulus se verkondiging van Jesus as die Christus as godslastering. Dit is vir Paulus die teken om sy band met die sinagoge te verbreek. Dit doen hy deur die stof van sy klere af te skud (vgl. Hand 13:51). Volgens Lukas 9:5 en 10:10-12 het Jesus gesê dat as sy dissipels, wat Hy uitgestuur het om die koninkryk van God te verkondig, nie in ’n dorp verwelkom word nie, moet hulle as hulle die dorp verlaat, die stof van hulle voete afskud as getuienis teen dié dorpe. Die afskud van die stof was die teken van die afbreek van gemeenskap met die teenstanders, ook as waarskuwing dat God sy verbond met hulle gaan verbreek. Dan is hulle verlore en hulle godsdiens sinneloos. Saam met die simboliese handeling waarsku Paulus hulle dat hulle bloed op hulle eie koppe is – so het Dawid in 2 Samuel 1:16 gesê. Die 1983-vertaling het dit verduidelik met ‘jy het jou dood gesoek.’ In Mattheus 27:25 was dit ook die Jode se woorde oor hulle aanvaarding van die skuld vir Jesus se dood. Dit beteken dat die Joodse teenstanders self verantwoordelik is vir hulle verwerping van Paulus se boodskap wat God die Heilige Gees deur hom gespreek het; ook van hulle verwerping van Jesus wat God as hulle Verlosser gestuur het. Dit beteken dat God hulle sal verwerp op die finale oordeelsdag (vgl. Hand 13:46). Daarom sê Paulus soos in Eseg 33:9: ‘Ek is sonder skuld (katharós ‘skoon,’ met ’n rein gewete, rein in die oë van God, aan die Jode se verwerping van hulle Messias) van nou af sal ek na die heidene (in Korinthe) gaan (met die evangelieverkondiging).

Skrywer: Prof Francois Malan