1

Die Handelinge van die Apostels: Paulus in Rome (Hand 28:16-23) – Francois Malan

28:16 Die gevangene Paulus met die skare gelowiges saam met hom het met die Via Appia Rome binnegestap deur die Porta Capena. Na sy ondervinding van die Here se redding uit die stormsee het hy met vertroue op die Here alleen die groot hoofstad van die Romeinse ryk betree. In hierdie vers word vir die laaste keer melding van ‘ons’ gemaak in Handelinge. Die eerste teken van die Here se sorg oor hom is die regering se toelating dat hy op sy eie kon bly, met net ’n soldaat wat hom bewaak (volgens Filippense 1:13 het die ganse keiserlike lyfwag wagbeurte gekry om Paulus op te pas – ’n geleenthied om die evangelie aan hulle te verkondig). Die toelating was deur die Romeinse regering gegee wat moes sorg vir gereelde soldate om Paulus met elke wagbeurt te bewaak. Julius moes die briewe oor Paulus se appél by die regering ingedien het en die besluit verkry het op grond van sy aanbeveling dat Paulus op sy eie kon bly.

28:17 Soos Paulus op sy sendingreise gedoen het, begin hy in Rome ook eers met die Jode. Lukas vertel egter niks van Paulus se werk in die gemeente wat hy in sy brief aan die Romeine in die vooruitsig gestel het nie (Rom 1:8-12). Lukas vertel ook niks van Paulus se arbeid onder die heidene in Rome waaroor hy ook aan hulle geskryf het nie (Rom 1:13-15). Die laaste twee verse raak moontlik net aan die twee groepe. Alles konsentreer op die verhouding tussen die groot heidensendeling en sy volk Israel. Die Here se verbond met Israel en hulle verbreking daarvan is die groot probleem van die vroeë christendom.

Omdat Paulus onder huisarres was, kon hy nie die sinagoge gaan besoek of die huisgemeentes in Rome nie (vgl. Rom 16:5,14). Daarom roep hy die leiers van die Joodse gemeentskap na sy huis reeds op die derde dag na sy aankoms in Rome. Dat hulle wel gekom het was reeds ’n wonder van God. Paulus behoort aan die Christenfamilie maar ook nog aan sy volk. Hy spreek albei groepe aan as sy broers: in Hand 15:36 sy Christenbroers, hier sy Joodse broers wat nie Christene is nie. Hy praat met die Jode van ‘ons volk’ en van ‘die gebruike van ons voorvaders.’ Oor Paulus se liefde vir en bekommernis oor sy volk, vgl. sy brief aan die Romeine 9:1-3.

Sy openingstoespraak begin met ’n beklemtoonde ‘Ek’ (egō). Dit is vir hom belangrik om drie sake wat hom raak aan hulle te stel in verse 17-19: 1 dat die aanklagte van die Jode teen hom vals is; 2 dat die Romeinse regters hom onskuldig bevind het; 3 omdat die Jode teen sy vrylating was, het hy hom op die keiser beroep, anders sou hy nie hier gewees het nie, maar hy het geen aanklag teen sy volk nie.

        (1) Die aanklagte wat die Jode telkens teen hom gehad het, is vals: ‘ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie.’ Hy het probeer om die Jode juis uit die geskrifte van die voorvaders te bewys dat Jesus die vervuller is van God se beloftes in die Ou Testament oor die komende Messias-Verlosser wat hulle verwag (vgl. Romeine hoofstuk 4, Abraham se voorbeeld van geloof in God se beloftes; Rom 9:4-5 en sy hele beredenering in Rom 9-11). En tog is hy vanuit Jerusalem as gevangene in die hande van die Romeine oorgelewer. Deur die optrede van die Jode in Jerusalem het Paulus ’n gevangene van die Romeine geword. Dit verwys na die kere toe hulle hom uit die sinagoge gesleep het en besig was om hom dood te maak en die Romeine hom gered het (Hand 21: 30-32); toe die Jode ’n komplot gesmee het om hom dood te maak en die Romeine hom in die nag na Sesarea gestuur het (Hand. hoofstuk 23); toe hulle uit Jerusalem na Sesarea toe gekom het om hom by Feliks en later by Festus aan te kla (Hand. hoofstukke 24, 25).

28:18  (2) Die Romeine het hom verhoor, geen gronde vir doodstraf gekry nie, hom onskuldig bevind en wou hom vrylaat (Hand 23:29; 25:26; 26:31-32).

28:19 (3) Toe die Jode egter die Romeine se besluit om hom vry te laat, geopponeer het, was hy verplig om hom op die keiser te beroep – nie dat hy enigiets het om sy volk (éthnos – nie laós God se volk nie) van aan te kla nie. In die Griekse sin word sy verpligting om te appeleer sterk beklemtoon. Vir Lukas was dit belangrik dat Paulus na Rome toe gekom het om homself te verdedig en nie om ’n aanklag teen die Jode te lê nie. Die Romeine het streng wette gehad teen mense wat ander aankla sonder om hulle aanklag te kan bewys.

Die ongelowige Jode is nie meer deel van God se volk (laós) nie, maar die gelowige Jode saam met die gelowiges uit die heidendom is God se nuwe volk. Dit het Paulus reeds in Romeine 9:24-25 gesê met ’n aanhaling uit Hosea 2:22. Romeine 10:21 haal die Griekse vertaling (LXX) van Jesaja 65:2 aan oor die Here wat sy hande verniet na Israel uitsteek, omdat hulle Hom verwerp het. In Romeine 11:1-2  met ’n aanhaling uit Ps 94:14 het Paulus gesê dat die Here nie sy volk verwerp het nie, maar slegs die Jode wat in Jesus glo bly deel van sy volk. Romeine 15:10 haal Deutr 32:43 volgens die LXX aan: ‘Wees bly, nasies, saam met sy volk.’ So lyk die nuwe volk van God. Ps 117:1 sê: ‘Loof die Here, alle nasies, besing Hom alle volke.’ Dit het Paulus aangehaal in Romeine 15:11 as bewys dat die Here reeds deur sy profete gesê het dat besnedenes en heidene God se ontferming sal verheerlik.     

Met die drie opmerkings in Handelinge 28:17-19 wou Paulus alle misverstande van die Jode wat hom in Rome kom besoek het, uit die weg ruim.

28:20 Veral oor die derde saak (in vers 19 genoem) het Paulus gevra om die leiers van die Jode te sien en met hulle te praat. Dit is veral oor Paulus se verkondiging dat Jesus die vervulling is van Israel se hoop op ’n Verlosser en hulle verwagting van hulle Messias (=Gesalfde = Christus) dat Paulus geboeid voor hulle staan (nie ’n uiterlike beeld van ’n verloste nie). Die eintlike rede vir die Jode se vyandskap en haat teen Paulus is die hoop van Israel wat hy met hulle deel. Maar dat Jesus die Vervuller is van Israel se hoop is juis hulle sterkste aanstoot teen die boodskap, omdat Jesus ’n eenvoudige wonderdoener is en nie in die paleis of uit die hoëpriesterlike geslag gebore is nie; dat die Seun van God mens geword het en uit die dood opgestaan het, was nie volgens hulle verwagting nie. Daarom is die Christen- Jood Paulus ‘n geboeide van die Romeine wat hom op die keiser beroep het om los te kom uit die moordplanne van die Jode. 

28:21 Die Jode in Rome (‘ons’ met klem voorop in die Griekse sin) sê toe heel verrassend vir Paulus dat hulle geen offisiële brief uit Judea (grámmata briewe, apangéllō wat opdrag gee, aankondig, inligting gee) waarskynlik van die Sanhedrin, oor hom ontvang het nie; ook nie van private gesprekke (laléō praat, vertel ) van enige Joodse broers wat na Rome gekom het nie. Niemand het iets slegs (ponêrös moreel korrup) oor Paulus kom oordra nie. Na Paulus se verwerpings deur die Sanhedrin en die Joodse sinagoges in Klein-Asië, Masedonië en Griekeland was dit eienaardig dat die stories daaroor nog nie in Rome aangekom het nie. Daar was destyds ’n groot Joodse gemeenskap in Rome, wat wel deur Klaudius uit die stad verjaag is (vgl. Hand 18:2), maar na sy dood in 54 n.C. weer begin terugkeer het (vgl. bv. Rom 16:3).

28:22 Die leiers van die Jode in Rome is egter wel deeglik bewus van kritiek teen die godsdienstige groep (háiresis ’n groep met leerstellige idees en lojaliteite wat verskil van die gangbare Joodse leer, daarom as ’n sekte beskou is, ’n afgeskeie groep wat volgens hulle God op ’n verkeerde manier dien. Háresis  kan ook verwys na ’n valse leer of leerstelling, Engels: heresy). Sedert Pinksterdag in Jerusalem was daar Jode en Joodse proseliete uit Rome wat dié dag tot bekering gekom het en gedoop is (Hand 2:10,41). Keiser Klaudius het juis die Jode in 49 n.C. uit Rome verjaag oor ’n onderlinge stryery in die Joodse gemeenskap oor ’n sekere ‘Chrestus,’ volgens die Romeinse geskiedskrywers Suetonius (ongeveer 90 n.C.) en Tacitus (ongeveer 100 n.C.). Paulus se brief aan die Romeine in 57 n.C. is geskryf ‘aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges’ (Rom 1:7) wie se geloof in Christus in die hele wêreld verkondig word en aan wie Paulus gedurig in sy gebede dink (Rom 1:8-11 ). Daar was dus ’n gemeente van Jode en nie-Jode wat Christene geword het, waarvan die Jode in Rome bewus was.

Die Jode wat op besoek by Paulus was, het hulle begeerte hoflik te kenne gegee om by Paulus te hoor wat sy siening is (aksióō begeer op grond van die duidelike waarde daarvan; as waardevol of die moeite werd beskou; aksióō kan ook vertaal word as ‘verkies’). Die Jode wat blykbaar verward is oor wat hulle oor die Messias/Christus hoor, skep met hulle begeerte vir Paulus die geleentheid om van Jesus voor hulle te getuig. So ’n positiewe reaksie het Paulus ook in Berea gekry (Hand 17:11).  

28:23 Die Jode bepaal die dag vir die ontmoeting om Paulus se siening te hoor. Dit moes in Paulus se huurhuis (ksenía) plaasvind want hy is onder huisarres. Die getal Jode wat op die bepaalde dag opdaag was baie meer as op die eerste dag. Lukas se tweede boek, wat handel oor Jesus se werksaamheid deur sy volgelinge, sluit af met ’n opsomming van Paulus se getuienis oor Jesus voor die Jode in Rome.

Skrywer:  Prof Francois Malan