1

Die Handelinge van die Apostels: Paulus op die Areopagus Deel 1 (Hand 17:22-25) – Francois Malan

17:22 Paulus het, soos ’n Griekse redenaar, in die middel van die Areopagus gaan staan. Paulus staan voor die Atheners wat na sy nuwe vreemde leer kom luister. Die toespraak/preek van Paulus is stilisties fyn opgebou met ’n aanknoping by sy gehoor se godsdienstigheid, wat ook die tema van sy rede is. Die ‘onbekende God’ is die hoofdeel van sy preek, met drie motiewe: 1 God is die Here van die skepping; 2 die mens is God se skepping; 3 God en mens is eie familie, daarom is afgodsbeelde sinloos. Die slot is ’n oproep tot bekering, met aankondiging van die komende oordeel en die verkondiging van die opstanding van Jesus. Hierdie rede bevat ’n ryk woordeskat vol Griekse stilistiese kunsvorms soos alliterasie, woorde met dieselfde klank, opeenhoping van woorde met dieselfde stam. Griekse filosofie word ingespan met ’n paar Ou Testamentiese klanke, Joodse gedagtes word vervleg met stoïsynse vorms om ’n Bybelse getuienis aan die Griekse denkers te lewer. Die Bybelse basis vir Paulus se preek is Jesaja 40-42 wat aan die einde van die ballingskap geskryf is rondom 500 v.C. Daar gaan dit om die onbekende Skepper God vir wie niemand kan peil nie (40:12-18,26,28; 42:5), wat aan al die mense op die aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg (42:5), oor sy Dienaar wat hier is om ons te kom verlos (40:9-11; 41 42:1-4) en oor die dwaasheid van die afgodsdiens aan mensgemaakte beelde (40:19-20; 41:7,22-24,28-29; 42:8,17), oor die oordeel (41:1-4; 42:25), die oproep tot bekering (40:1-2,31; 42:10,18). 

Die aanknoping by sy gehoor is ‘n lofprysing van hulle: ‘Atheners, ek het gesien (theōréō met volgehoue aandag waargeneem) dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is’ (deisideimonesterous die vergrotende trap van die woord met die stam deimōn wat ’n demoon of ’n god of die siel van’ n mens kan aandui. Die woord word gebruik vir godsdienstigheid maar ook vir bygelowigheid). Die digter Sophocles (496-406 v.C.) het dit reeds van die Atheners gesê, maar hy het die woord theosebestátos ‘uiters godsdienstig’ gebruik met theos ‘god’ as stam en in die oortreffende trap. Hy het gesê hulle oortref alle volke met hulle eerbewyse aan die gode. Paulus gebruik die woord in ’n positiewe sin vir die Griekse oor, maar vir ’n Joodse oor sou die deimón daarin na afgode ruik. Paulus het hulle godsdienstigheid gesien in hulle baie afgodsbeelde en tempels, wat hulle toewyding aan hulle gode bewys, iets waaroor hy eintlik verontwaardig was (17:16).

17:23 ‘Want soos ek deurgegaan het en julle tempels en beelde deeglik deurgekyk het…’ (Deeglik deurkyk, anatheōréō, van naby bekyk en diep nagedink oor die implikasies daarvan. tempels en beelde, sebásmata, kan verwys na die plekke van aanbidding of na die voorwerpe van aanbidding) ‘…het ek ’n altaar (bōmós ’n altaar op ’n voetstuk) gekry waarop geskryf is (perfektum, nog duidelik leesbaar en daarom waarskynlik gegraveer): “Aan ’n onbekende god.”

Die opskrif bewys die ongewone godsdienstigheid van die Atheners. Hulle onkunde omtrent die onbekende god roep om ’n boodskap van ’n god wat vir hulle vreemd en nuut is. Die opskrif op hulle altaar is ’n uitnodiging aan die prediker wat dit as sy ‘skrifbewys’ vir die Atheners voorhou.

‘Wat julle onwetend aanbid, is wat ek aan julle verkondig.’  Paulus beroep hom op die Atheners se bewustheid van hulle onkunde, hulle insig dat hulle dié God van hulle opskrif nie ken nie, hoewel hulle dit nie so sien nie. Hulle meen hulle vereer hom met die altaar wat hulle aan hom opgedra het. Die opskrif is ironies ’n kritiek op die Atheners se trots oor hulle filosofiese kennis, wat die ware God nie ken nie, maar vir gelowiges is dit die heel belangrikste kennis. Eintlik is dit ’n aanklag teen die hele heidense wêreld wat God nie ken nie. Ten spyte daarvan dat Hy daagliks sy goedheid openbaar om reën en kos te gee (Hand 14:17), openbaar Hy Hom ook aan alle mense in sy skeppingswerke (Rom 1:19-20). Paulus antwoord op hulle verlange na kennis. Hy begin by hulle geloof in ’n onpersoonlike god – ‘wat julle aanbid,’ (Griekse onsydige vorm van ‘wat’). In die volgende verse vertel hy vir hulle van die lewende God wat die Skepper en Regter is van alle mense. 

17:24 ‘Die God wat die wêreld (kósmos heelal, geskape wêreld) gemaak het en alles daarin (son, maan, sterre, water, grond, berge, mense, diere, plante), Hy wat die Here is (kúrios, Eienaar en Heerser) van die hemel en die aarde, woon nie in handgemaakte tempels nie.’  Nou praat Paulus nie meer van godsdienstigheid nie, maar van die God van die Bybel, Skepper, Onderhouer en Heer oor die Skepping. Paulus se preek by die heidene begin met ’n geloofsartikel oor God en sy eerste gebod in Eksodus 20, met die prysformule wat dikwels in die Ou Testament voorkom, bv. Jesaja 42. Paulus gee daaraan ’n Hellenistiese kleur deurdat hy met die kósmos begin. Die woord wat orde, sieraad, skoonheid beteken is eerste deur Pythagoras, die Griekse wiskundige en wysgeer (ongeveer 580-500 v.C.) gebruik in die betekenis van wêreldorde of heelal in teenstelling met chaos, wat wanorde en woestheid beteken. Die kósmos het ’n debatspunt van die wysgere geword. Daarna praat Paulus van die hemel en die aarde, wat eintlik eerste geskape is, voor die mens (vgl. Jes 42:5). Die Maker en Heer van die heelal kan tog nie in ’n mensgemaakte tempel woon nie. Dit het Salomo van sy tempel gesê (1 Kon 8:27) en ook verskeie Griekse filosowe. Daarmee word alle tempels as onwaardig vir die Maker en Heer van die heelal verklaar (soos Stephanus in Hand 7:48-50 ten aanhore van Saulus getuig het met verwysing na Jesaja 66:1-2).

17:25 Na die polemiek teen die tempel volg die bestryding van die offerdiens. God wat alles gemaak het, het geen behoefte aan iets waarmee mense-hande vir Hom kan bedien of versorg nie (therapeúō om iemand te help met nederige werkies, of: om iemand te kan genees). Die kultus, die verering van God, was gesien as die versorging van die gode. Dit was orals in Athene te sien. Die dwaasheid van die heidene se kultus het die profete lank voor Paulus al ingesien (Jes 46:1 wys na gode wat rondgedra word; Jes 57:6. julle bring drankoffers en graanoffers vir julle afgodsbeelde; Jer 10:5 hulle moet gedra word want hulle kan nie loop nie). Griekse en Romeinse skrywers soos Xenophon (430-345 v.C.) en die Stoïsyn Seneca (1-65 n.C.), Paulus se tydgenoot, het ook die dwaasheid van die kultus uitgewys, omdat God niks nodig het nie. In Ps 50:10-13 sê die Here, die diere op duisende heuwels behoort aan Hom, en die voëls op die berge, en die insekte van die veld. Hy het geen behoefte aan offers nie. God het niks nodig nie! Dit word gestaaf deur die volgende sin:

Hy, God wat alles skep, onderhou en besit, gee aan almal lewe en asem en alles wat hulle nodig het. zōê ‘lewe’ en pnoê ‘asem’ klink in Grieks eners. Die Grieke het gedink die naam van hulle hoofgod, Zeus, kom van die stam zōê lewe.’ Daarmee stem die Hebreeuse êyê ‘Ek is’ vir Jahweh, ‘Die Ek is,’ in Eks 3:14 tot ’n mate saam. Maar Zeus is nie ‘die lewende,’  ‘die lewensasem’ van alles wat geskep is nie. Die God van die Bybel het die lewensasem in die eerste mens se neus geblaas (Gen 2:7) en vorm elke kind in die moederskoot (Ps 139:13-16). Paulus gebruik Bybelse terme en deur sy gebruik van Griekse woordspel en aanknopingspunte probeer hy sy gehoor lei na die God van die Bybel. ‘En alles anders (wat God se skepsels nodig het) word bygevoeg vir balans met die byvoeging by die skepping ‘en alles wat daarin is’ in vers 24. God skep alles en gee alles. Alles is sy geskenk.  Daarmee word nie alle tempeldiens en offers afgewys nie, maar die do ut des-gedagte teenoor God: ‘gee aan God sodat God aan jou gee.’ Terwyl God in niks van ons afhanklik is nie, is ons vir alles van Hom afhanklik, tot vir ons lewe en ons asem (Jes 42:5). Daarom is ons vir alles op Hom aangewys. Dit word in die volgende verse verder uitgewerk.

Skrywer:  Prof Francois Malan