1

Die Handelinge van die Apostels: Paulus se preek vir die Jode in Rome (28:23b-28) – Francois Malan

Sy preek, waarin Paulus van vroegoggend tot die aand vir die Jode verduidelik het, het oor twee sake gegaan. Hy het deurgaans die koningskap van God waaraan ’n mens jou vrywillig en met vreugde moet onderwerp, verduidelik en deurgaans die Wet en die Profete verduidelik om die Jode oor Jesus te oortuig; dié Jesus, wat hy aan die regterhand van God gesien het, toe hy op pad na Damaskus was om die gelowige Jode daar te arresteer. Toe het hy in Jesus geglo as die goddelike Vervuller van God se woord in die Wet en die Profete, dit wil sê van God se openbaring in die hele Ou Testament.

Hiermee stem Paulus se getuienis voor koning Agrippa saam, dat hy nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam was nie, en aan Jode en heidene verkondig het dat hulle hulle na God toe moet keer deur werke te doen wat by die bekering pas. Hieroor het die Jode hom gegryp en probeer doodmaak. Maar hy het niks anders gesê as wat die Profete en Moses gesê het sal gebeur nie, naamlik dat die Christus moes ly en as eerste uit die dood sal opstaan om aan sy volk en die heidene die lig te verkondig (Hand 26:19-23).

Die term basileia tou Theou verwys nie na ’n gebied waaroor God regeer nie, maar na sy regering oor mense en oor die ganse skepping. Ps 103:19 sê bv. die HERE se koningsheerskappy strek oor alles. Die gebed ‘Laat U koninkryk kom’ (Luk 11:2) vra eintlik dat ons Vader in die hemel se koningskap sal deurwerk in die harte van ons mense om Hom as die Koning van ons lewe en samelewing te gehoorsaam. Die koningsheerskappy van God het Paulus van vroegoggend tot die aand aan die Jode van Rome verduidelik. In 1 Korinthiërs 15:20-28 het Paulus al verduidelik dat God alles aan Christus onderwerp het en dat Hy as koning moet regeer totdat Hy al die vyande onder sy voete gestel het: die laaste vyand is die dood. Aan die einde sal Hy Homself aan die Vader onderwerp en die koningsheerskappy aan God die Vader oorgee, sodat God alles in almal sal wees. As gevangene in Rome verwys Paulus later in sy brief aan die Efesiërs (5:5) na die koninkryk/koningsheerskappy van Christus en van God.

28:24 Sommige van die Jode het deur die dag oortuig geword deur Paulus se woorde. Ander het ongelowig gebly. Dit is dieselfde reaksie wat Paulus ook by die ander plekke ondervind het: in Ikonium (Hand 14:4), Thessalonika (Hand 17:4),  Berea (Hand 17:12), Korinthe (Hand 18:6), Efese (Hand 19:9): party glo, ander bly verhard.

28:25 Die Jode van Rome kon nie onder mekaar tot ’n vergelyk kom om te aanvaar dat Jesus hulle verwagte Messias is wat die Here in die Ou Testament beloof het nie. Die Here het reeds in die Ou Testament sy oordeel oor die hardnekkigheid van sy volk uitgespreek. By monde van Jesaja het die Heilige Gees die Here se oordeel aan die hardnekkiges se voorvaders oorgedra. Paulus pas die Skrifwoord in Hand 28:26-27 toe op dié Jode in Rome wat Jesus nie as hulle Verlosser wil aanvaar nie. Daarmee kry Paulus sy laaste woorde in Handelinge in met ’n ernstige waarskuwing aan die ongelowiges, en dat hy nou na die heidene gaan met die goeie boodskap (28:28). In onenigheid onder mekaar het die Jode toe weggegaan.

Paulus se laaste woorde wat hy ingekry het, kom direk uit die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament, die Septuaginta (LXX), waaraan 70 vertalers glo vanaf 285 v.C. gewerk het. Dit was die Bybel wat die gemeentes gebruik het waarby die boeke van die Nuwe Testament, wat in Grieks geskryf is, bygekom het. Die LXX se weergawe van Jesaja 6:9-10 word ook in Mattheus 13:14-15 gebruik as die Griekse vertaling van Jesus se Aramese aanhaling uit Jesaja  (vgl. Joh 12:40; vgl. ook Mark 4:12 oor Jesus se doel met gelykenisse).

25:26-27 Paulus begin sy laaste woorde aan die Jode van Rome met: ‘Die Heilige Gees het tereg deur die profeet Jesaja aan julle voorvaders gesê…’ Nadat Jesaja die opdrag van die Here wat hom na Israel gestuur het, aanvaar het, het die stem van die Here vir Jesaja in Jes 6:9 gesê… (Here kurios in Grieks, Adonai in Hebreeus). Vir Paulus is die Heilige Gees die Here van Jesaja 6, een met die Vader en die Seun, vgl. bv. Romeine 8:9 wat praat van die Gees van God en die Gees van Christus; vgl. Rom 8:14-17; 1Kor 12:4-6; 2 Kor 13:13; Ef 1:3-14; 1 Thess 1:2-5; Titus 3:4-7. 

Die woord van die Here in die LXX se Jesaja 6:9-10 wat Paulus aanhaal, lui: ‘Gaan na hierdie volk en sê vir hulle:

        ‘Julle sal fyn luister en aandag gee, maar nooit verstaan nie,

         (Hebreeuse idioom: ‘om te hoor met luister’ wat beklemtoon dat al luister hulle met aandag, verstaan hulle nie.

        ‘Julle sal inderdaad sien, maar nooit begryp nie’ 

         (Hebreeuse idioom : siende sal julle sien – beklemtoon dat hulle goed sal sien, maar nie begryp nie

        ‘want die hart van hierdie volk het onbekwaam geword om te verstaan’

         (pachúnomai om dik te word, hier vir sklerose van die hart – die Hebreërs het die hart beskou as die                                          sentrum van’n mens se intellektuele aktiwiteit; die passiewe vorm van die werkwoord wys ook dat hulle                                harte deur God hard gemaak is – hulle skuldige verharding het God gestraf met verdere verharding).

        ‘hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor’ (Letterlik:  hulle hoor swaar met die ore) hulle het doof                                                           geword vir die Here se boodskap.

        ‘hulle is onwillig om te leer en behoorlik te evalueer’ (Letterlik: hulle het hulle oë gesluit vir die waarheid)

        ‘sodat hulle nie meer met hulle oë sien nie, of met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai en Ek                       hulle genees nie’’

In Jesaja se tyd, ongeveer 630 jaar voor Christus, het Israel onbekwaam geword om te verstaan omdat die volk van die Here Hom nie wou ken nie (Jes 5:13), deur hulle afgodsdiens vasgewoel was hulle in die bande van ongeregtigheid en het verstrik geraak in die kettings van sonde (Jes 5:18). Die Here se waarskuwing in Jesaja 6:9-10 oor die verharding van Israel se ore, oë en hart word vervul deur die Jode in Rome se ongeloof teenoor die evangelie van Jesus. Die skuld daarvoor rus op die Jode self, maar word nou deur die Here bevestig met verdere verharding. Paulus pas in 59 n.C. die profesie van 630 v.C. toe op die Jode in Rome wat Jesus nie wil aanvaar as die Here se beloofde Messias/Christus nie.   

  Die Here plaas ’n sluier oor hulle verstand sodat sy woord wat hulle hoor en sien van wat gebeur, nie vir hulle sin maak nie (vgl. Paulus se woord in 2 Kor 3:14). Die verharding van hulle verstand kom nadat hulle hulle rug gedraai het op die boodskap van Paulus oor die Here se Gesalfde Seun (vgl. ook Rom 11:7-8). Die goeie nuus van Jesus se koms kan hulle nie begryp nie. Met hulle hardnekkige verwerping van die Seun van God se verlossing, het hulle ’n sluier oor hulle eie harte getrek wat nou deur die Here bevestig word deur hulle versluiering verder te versluier as sy straf op hulle verwerping van Hom en sy woord (vgl. die farao se koppigheid in Eks 7:13,32; 8:15,19,32; 9:7 en toe, na die sesde plaag, laat die Here die farao koppig bly, 9:12 en toe bly hy koppig 9:34-35, vgl. 10:1-2,20,27, 11:10). Die waarskuwing in Jesaja is ook ’n laaste negatiewe oproep tot bekering: ‘en hulle terugdraai en Ek hulle genees nie.’ Weer eens is dit ’n waarskuwing wat verwerp word. In Jesaja se tyd het dit tot Israel se ballingskap en verstrooiing in die Babiloniese ryk gelei (Jesaja 5:13). Die Jode in Rome hoor dat die Here sy boodskap na die heidene stuur.

28:28 Aan die Jode in Rome rig Paulus ’n laaste baie ernstige woord: ‘Dit moet julle dan weet…’ – teenoor hulle onbekwaamheid om die betekenis te verstaan van die goeie boodskap van die Heilige Gees aan hulle; ‘…dat hierdie verlossing van God deur Hom aan die heidene gestuur is, en húlle sal luister’ (met klem op húlle). Die Jode moet aanskou hoe God sy gawe, sy Seun en sy teenwoordigheid (Joh 3:16; 4:10,26; 14:6), van hulle af wegneem en aan mense gee op wie hulle neersien (soos koning Saul wat moes hoor dat die Here sy koningskap verwerp het omdat hy die woord van die Here verwerp het, sy koningskap van hom afgeskeur het en aan iemand beter as hy gegee het, 1 Sam 15:26-29).  

So sluit Lukas Paulus se bediening aan die Jode, wat in Handelinge 9:20 begin het, in Handelinge 28:28 af. So het Lukas ook die bediening van Jesus onder die Jode in Lukas 4:14-15 begin en hier in Handelinge 28:28 afgesluit (vgl. Hand 1:1 dat Lukas alles in sy eerste berig, naamlik in die Lukasevangelie, geskryf het, met die implikasie dat Jesus dit voortsit deur sy Gees in sy getuies, soos Lukas dit in Handelinge beskryf (Hand 1:8). 

Na hierdie laaste woorde van Paulus aan hulle, het die Jode in onenigheid onder mekaar uiteengegaan (28:25). Sommige het dus wel aanvaar dat Jesus die Jode se verwagte Messias is, terwyl waarskynlik die meeste van hulle dit nie wou glo nie.

28:29 Die vers, wat in die 1953 vertaling nog behou is, ontbreek in die oudste Griekse tekste van Handelinge. In die dertiende eeu na Christus is die volgende sin ingeskryf, waarskynlik omdat vers 28 te stomp vir hulle afgesluit het: ‘Nadat hy dit gesê het, het die Jode weggegaan terwyk hulle heftig onder mekaar gestry het.’ Dit is eintlik net ’n herhaling van 28:25.

Skrywer: Prof Francois Malan