Die Handelinge van die Apostels: Paulus se reis van Korinthe na Antiogië (Hand 18:18-22) – Francois Malan

18:18 Nadat Paulus nog baie dae in Korinthe gewerk het, soos Jesus in die visioen vir hom gesê het om te doen (18:9), het hy na Sirië vertrek nadat hy die nodige reëlings in die gemeente Korinthe getref het (apotássomai om tot siens te sê en die nodige reëlings te tref). Hy laat Silas en Timotheus blykbaar in die gemeente agter. Daarna is hy op pad terug na Antiogië in Sirië waar sy eerste en tweede sendingreise begin het. (13:1-3; 15:35,40-41). Priscilla en Aquila vergesel hom. Timotheus het later by Paulus in Efese aangesluit (vgl. 2 Kor 1:1). Van Silas word niks verder in Handelinge gesê nie. Tussen 64-68 n.C. skryf Silvanus (die Latynse vorm van die Hebreeuse Silas) vir Petrus sy eerste brief vanuit Rome (1 Petrus 5:12).

Paulus-hulle se eerste stop is egter Korinthe se hawestad Kenchreë, waar hy sy kop laat kaal skeer het as teken van die vervulling van ’n gelofte wat hy aan God afgelê het, moontlik toe hy in Korinthe aangekom het. Waarskynlik het hy die gelofte in Korinthe gedoen en nadat die Here hom vir die 18 maande so goed teen die Jode bewaar het en hom gelei het in die stigting van die gemeente, het hy nou sy hare laat afskeer, volgens die voorskrif in Numeri 6:5 (vgl. Hand 4:21).

18:19 Hulle tweede stopplek was Efese, die hoofstad van die Romeinse provinsie Asië oorkant die see van Korinthe af. Aan die begin van die tweede sendingreis wou hy daarheen gaan, maar is deur die Heilige Gees verhinder (Hand 16:6). Paulus laat sy twee reisgenote Priscilla en Aquila in Efese agter om daar te werk. Voor sy vertrek het hy egter soos sy gewoonte was, eers die Sabbat in die sinagoge ingegaan en met die Jode gaan argumenteer.

18:20-21 Die Jode in die sinagoge reageer verrassend anders as in die ander stede. Hulle versoek hom vriendelik om ’n langer tyd by hulle te bly. Hy het egter nie ingestem nie. Daar word nie gesê waarom nie. Maar toe hy hulle groet belowe hy om weer na hulle toe te kom ‘as God wil.’ Na die belofte aan die Jode het Paulus van Efese se hawe af per skip vertrek.

Die Latynse vertaling vir die Griekse toū Theoū thélontos, die voorwaarde van Jakobus 4:15 (conditio Jacobi ) ‘as die Here/kurios wil’  is Deo Volente, waar ons D.V. vandaan kom. ‘As god wil’ is egter ’n woord wat Socrates meer as 400 jaar voor Christus reeds gesê het. Socrates se student Plato het dit ook gesê maar hulle het nie die Vader van Jesus geken nie. Hulle het ’n idee oor ’n god gehad wat die gange van ’n mens bepaal. Paulus se lewe en werk staan egter onder die wil en seggenskap van die Here Jesus (vgl. Hand 20:16 ‘as dit kon,’  Rom 1:10 ‘as dit die wil van God is,’ 1 Kor 4:19 ‘as die Here wil,’ 1 Kor 16:7 ‘as die Here dit toelaat’ .

18: 22 Die derde stopplek is Sesarea, die hawestad wat Herodes die Grote gebou het voor Christus se geboorte. Maar anders as die einde van die eerste sendingreis toe Paulus direk na Antiogië se hawe Seleusië toe gevaar het (Hand 14:26), land hy nou in Jerusalem se groot hawe Sesarea. Joppe se hawe het kleiner skepe ontvang. Hy het van Sesarea (aan die kus) af opgegaan (anabainō) na die gemeente, waarskynlik word hier verwys na die gemeente in Jerusalem wat op die Judese berge geleë is en Paulus se vierde stopplek is. Hier sou hy verslag gegee het van die tweede sendingreis, soos hy en Barnabas na die eerste sendingreis by die groot vergadering in Jerusalem gedoen het (Hand 15:12). Lukas was nie self by dié deel van Paulus se reis nie, en gee ’n kort opsomming van die reis wat hy by iemand moes gehoor het, moontlik by Paulus self. 

Sommige verklaarders meen dat Paulus se haas om uit Efese na Jerusalem toe te gaan, verband hou met die gelofte wat hy in Korinthe aan die Here sou gedoen het. Volgens Numeri 6 mag iemand wat ’n gelofte gedoen het, nie sy hare of baard skeer nie, totdat die tyd of geleentheid wat in die gelofte genoem is, verby is. Dan moes die hare en baard afgeskeer word, en ’n offer aan die Here gebring word. Maar offers kon slegs deur ’n priester gedoen word op die altaar in Jerusalem. (Na die derde sendingreis was Paulus weer betrokke by ’n gelofte om te bewys dat hy self die wet onderhou; Hand 21:23-24). Na die besoek aan Jerusalem het Paulus afgegaan (katabaínō) na Antiogië. Antiogië lê laer bo seespieël as Jerusalem, maar heelwat hoër as die hawe Sesarea. Dit versterk die gedagte dat hy eers ’n draai in Jerusalem gemaak het en toe na Antiogië gegaan het.

Skrywer:  Prof Francois Malan