Die Handelinge van die Apostels: Paulus se verdediging voor Feliks (Hand 24:10-23) – Francois Malan

24:10  Toe die goewerneur vir Paulus die teken gee (met sy hand gewink of met sy kop geknik) om te praat, het hy geantwoord (op die aanklagte). Hy spreek eers die goewerneur aan. Feliks was van 48-58 n.C. in Palestina, eers as bestuurder in Samaria en toe as goewerneur ook oor Judea. Paulus het in Junie 56 n.C. voor Feliks verskyn. Toe was Feliks al ses jaar lank regter oor die Jode en het hulle en hulle klagtes al goed leer ken. Daarom sê Paulus dat hy met vreugde (euthúmōs) sy saak voor Feliks verdedig.     

Met die vleiende inleidende woorde oor die goewerneur het Paulus ook gesuggereer dat hy ’n regverdige verhoor van Feliks verwag en twyfel gesaai oor die regverdigheid van die Jode se saak teen hom. Daarby kon hy op die Here vertrou wat hom geroep het om sy Naam voor nasies en konings en Israel uit te dra (Hand 9:15). Hier kon hy dit doen voor al drie.

24:11  Paulus begin met die slotwoorde van Tertullus in vers 8: ‘u sal self by hom kan agterkom waaroor ons hom aankla.’ Paulus sê: ‘u kan u deur noukeurige ondersoek vergewis (epiginōskō) dat dit nie meer as 12 dae gelede is wat ek na Jerusalem opgegaan het om te aanbid nie’ – om die Here in die tempel te aanbid nie, geensins om die tempel te ontwy nie (24:6). Dit het 7 dae geneem vir die reiniging (21:27) en vyf dae voordat die klaers in Sesarea aangekom het (24:1), miskien nog ’n dag of twee vir die verrigtinge in Jerusalem. Hy het gegaan om te aanbid, nie om oproer te gaan stig soos die Jode beweer nie. Dit was Pinksterfees met baie pelgrims in Jerusalem wat die Here kom aanbid het. Die Romeine het ook ’n sterk mag daar gehad om die orde te handhaaf. As daar ’n oproer sou gewees het, sou Feliks daarvan gehoor het.

24:12 Toe hulle Paulus in die tempel gesien het, was hy nie besig om met iemand te redeneer of ’n oproer onder die menigte te organiseer in die sinagoges of êrens in die stad nie. Die aanklag teen hom in vers 5 was dat hy oproere onder die Jode in die wêreld gestig het. Hy begin spesifiek met die gebied waaroor Feliks regeer. Oor die ander gebiede word in die volgende verse gehandel.

24:13 Hulle kan ook nie vir u bewyse bring van die dinge waarvan hulle my nou (in vers 5) aankla nie. Die aanklaer moet volgens wet die bewyse vir die aanklag bring, nie die aangeklaagde soos hulle in vers 8 voorstel nie.

24:14 Hier begin die positiewe deel van Paulus se antwoord. Hy bely sy standpunt as Christen (in die ‘Nasarenersekte, v5), maar ook as Joodse gelowige in dieselfde God as sy aanklaers. Die volgende is ’n openbare verklaring (homologéō) aan Feliks en die mense in die hofsaal van Paulus se geloof en verkondiging. Ek verkondig die God van ons Joodse voorouers. Dit kan hy juis doen volgens die leer van die Weg ( hodós) wat sy aanklaers ’n sekte genoem het (24:5). Voor sy bekering het Paulus juis die mense van die Weg gevang en in die tronk gestop (Hand 9:2). Volgens Joh 14:6 het Jesus gesê: ‘Ek is die Weg…niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.’  Daarom is die boodskap oor Christus die Weg of die Weg van God genoem (Hand 18:25-26). Johannes die Doper se werk was om volgens Jesaja 40:3-5 die pad vir die Here reg te maak (Luk 3:4-6). In Mattheus 7:14 het Jesus gesê: ‘hoe smal is die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind.’ Die Weg wys heen na Jesus as die enigste weg na die God van die Jode se voorouers, en ’n lewe in geloof in Jesus as Verlosser (vgl. Paulus se preek in Antiogië, Hand 13:23; en sy brief aan die Romeine wat hy net voor sy vertrek na Jerusalem geskryf het; Rom 10:10). 

Die Sadduseër hoëpriester Ananias wat die afvaardiging lei (24:1) glo net in die Wet as die woord van God vir hierdie lewe en nie wat in die Profete staan nie (vgl. Hand 23:8). Paulus as gelowige Fariseër bely sy geloof in alles volgens die Wet (van Genesis tot Deuteronomium), en wat in die Ou Testamentiese Profete staan, soos hy as Christen dit vanuit Christus se opstanding verstaan (vgl. Rom 3:21-26).

24:15 Paulus bely sy hoop en vertroue op die God wat hulle self (veral die Fariseërlede van die Sanhedrin) ook aanvaar het (prosdéchomai kan ook hulle verwagting aandui) dat daar ’n opstanding (uit die dood) van regverdiges en onregverdiges sal wees – Paulus se hoop en verwagting is dat God alle mense sal laat opstaan en Hy sal oordeel wie regverdiges en wie onregverdiges is (vgl. Rom 2:5-6; 2 Kor 5:10).

Deur sy hele rede van vers 11 af verbind Paulus hom as goeie Jood aan sy aanklaers. Hy het as pelgrim na die Pinksterfees van die Jode gegaan om God in Jerusalem te gaan aanbid (20:16, 24:11). Vir die Romeine sou dit kon beteken dat die Christendom ook die voorregte sou hê wat hulle aan die Jode gegee het. As Jood het hy Timotheus laat besny (16:3) sy eie kop laat skeer ná ’n gelofte  (18:18), in die tempel ’n offer gebring na sy eie reiniging (21:26). Al hierdie dinge het vir Paulus egter nuwe sin gekry volgens die Weg wat hy eers vervolg het (22:4) maar op die pad na Damaskus aanvaar het (24:14). Nou verklaar hy Christus as die enigste regte weg na God die Vader toe. Die Christelike betekenis van die Ou Testament is ook die regte gelowige verbintenis aan die Skrif (vgl. 26:22-23; Luk 24:26) sowel as die Christelike verwagting van die opstanding uit die dood op grond van Christus se opstanding (Hand 4:2). Paulus sien die Christendom as die ware vervulling van die Jodendom.

24:16 Paulus is verder aan die Jode verbind deur ‘n lewe wat op God se oordeel gerig is deur altyd sy uiterste bes te doen – voortdurend met inspanning soos ’n atleet wat oefen (askêō vgl. 1 Kor 9:26-27) om sy gewete in alle opsigte skoon te hou (apróskopos onberispelik) voor God en die mense (23:1) – sodat God en die mense hom nie van iets sal kan beskuldig nie (1 Kor 4:4-5; Rom 14:10-12 wat Jes 45:23 aanhaal). Suneídêsis gewete of morele sensitiwiteit verwys na die mens se sielkundige vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei.

24:17 Die volgende verse word aan die voriges verbind met die inleidende sin: Nadat Paulus etlike jare nie in Jerusalem was nie, het hy nou weer na Jerusalem toe gekom. Volgens Handelinge was hy laas in Jerusalem na sy eerste sendingreis met die vergadering van die apostels en ouderlinge in 48 n.C. oor die besnydenis van nie-Joodse Christene (Hand 15). Dit was 8 jaar tevore. In Grieks is verse 17-21 een sin, soos verse 10-13 ook een Griekse sin met een hoofwerkwoord is.

Die doel van sy besoek was om met die Pinkster-oesfees in Jerusalem te wees om saam met al die pelgrims sy dankoffers (prosforás) aan die Here te bring (21:26), om die Here te dank vir die oes van gelowiges en gemeentes wat hy gestig het gedurende sy sendingreise (Rom 15:16; vgl. 1 Kor 1:4). Dié gemeentes het ook gereeld kollektes opgeneem as hulle dankoffer aan die Here, wat hulle saam met Paulus en sewe verteenwoordigers van die gemeentes (20:4) na die armes in Jerusalem gestuur het (Rom 15:25-27; 1 Kor 16:1-4; 2 Kor 8:1-4; 9:10-13). Met die bring van dié gawes aan die behoeftige Joodse gemeentelede word Paulus se verbintenis met sy Joodse volk nogmaals onderstreep. 

24:18 Paulus verduidelik dat die Jode hom in die tempel gevind (gesien) het net toe hy die Joodse reinigingseremonie volgens die wet van Moses voltooi het. Dit weerlê hulle klagte dat hy die tempel ontheilig het (24:6). Daarby was daar ook geen skare wat hy byeengeroep of ’n oproer wat hy gestig het soos hulle beweer dat hy onluste onder al die Jode veroorsaak nie (24:5).

24:19 Paulus wys dat die eintlike moeilikheidmakers sommige Jode uit Asië was. As hy dan beskuldig word dat hy onluste onder al die Jode in die wêreld veroorsaak (24:5), moes hulle hom hier in Sesarea kom aankla het ‘as hulle iets teen hom sou hê (optatiewe vorm van die werkwoord wat maak dat hulle saak nie seker is nie).’ Die Romeinse reg verkies egter dat klaers self teenwoordig moet wees vir deeglike ondersoek van ’n saak. Die feit dat hulle nie hier is nie verswak die Jode se saak.

24:20 As alternatief vir die eintlik aanklaers, daag Paulus die hoëpriester en sy metgeselle uit: of laat dié wat wel hier is self vertel (met klem op die inhoud van wat hulle sê) aan watter adikêma onreg, wat voor God verkeerd is, hulle hom skuldig gevind het toe hy voor (epí kan voor of teenoor beteken) hulle in die Sanhedrin opgestaan het (hístamai word gebruik vir staan en opstaan) om sy posisie en geloof te verduidelik (vgl. 23:6,9).

 24:21 Met besliste ironie oor die spanning in die Raad tussen die Sadduseërs en die Fariseërs (23:7-8) verwys Paulus hier na die een ding wat hy voor die Raad uitgeroep het as die belydenis van sy geloof: ‘oor die opstanding van die dooies staan ek vandag voor julle tereg’ – dat hulle moes oordeel of hy reg of verkeerd is; krinō kan ook beteken: waaroor hulle hom moes veroordeel. Met die belydenis oor ’n geloofsvraag, wat die Romeine nie interesseer nie, maak hy die hele aanklag van die Joodse Raad teen hom voor ‘n Romeinse goewerneur as onvanpas en belaglik af. Daarmee sluit Paulus sy rede af. Maar vir Paulus, wat die opgestane Here Jesus persoonlik gesien, gehoor en met Hom gepraat het, was dié belydenis die kern van sy geloof. 

24:22 Daarop het Feliks die hofsitting vir hulle verdaag met die belofte dat hy ’n beslissing oor hulle saak sal maak na ’n deeglike ondersoek (diaginōskō) wanneer kommandant Lisias na Sesarea toe afkom van Jerusalem af. Lukas voeg by dat Feliks ’n deeglike kennis oor die Weg gehad het, uit die 6 jaar wat hy al in Palestina was en moontlik ook deur sy Joodse vrou (24:24). Hoewel Feliks van Paulus se onskuld oortuig was soos uit vers 23 blyk, stel hy die saak uit, waarskynlik om twee redes wat uit verse 26-27 blyk.

24:23 Die kaptein (owerste oor 100) wat vir Paulus na Sesarea toe vergesel het met die 70 ruiters, kry die opdrag dat  Paulus in bewaring gehou word met ’n mate van vryheid sonder verhindering van enige van sy eie mense (sy geloofsgenote) om hom deurlopend te versorg. Onder sy eie mense sou seker Filippus en sy vier dogters, die dissipels in Sesarea en Lukas getel kon word (vgl. 21:8-9,12,16).

Skrywer:  Prof Francois Malan