Die Handelinge van die Apostels: Paulus vertel van sy bekering (Hand 22:6-16) – Francois Malan

Die berig is die middelste van drie berigte in Handelinge oor Paulus se bekering: 1 Lukas se weergawe van Paulus se bekering (9:3-19); 2 Lukas se weergawe van Paulus se vertelling aan die onstuimige massa (22:6-16); 3 Lukas se weergawe van Paulus se vertelling aan Agrippa (26:12-18). Die enkele verskille tussen die drie vertellings wys op die aanpassing by die verskillende hoorders van die vertelling.

22:6 Hier word die lig wat hom omstraal het, sterk na vore gebring met die byvoeging dat dit op die middaguur was, dat dit ’n baie helder lig was. Die implikasie is dat dit ’n baie sterker lig as die middagson was. Dit word so in 26:13 uitgespel. Dat die lig rondom hom was, word beklemtoon met die byvoeging ‘rondom my’ slegs hier om aan sy vervolgers te beklemtoon dat die lig uit die hemel op hom gemik was, wat hom in sy spore gestop het en meegewerk het om sy hele lewe om te dop. In 26:13 sê hy dat die lig ook rondom sy reisgenote geskyn het.

22:7 ‘en ek het op die grond geval en ’n stem gehoor wat vir my sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ Volgens 26:14 het sy reisgenote ook op die grond geval. Vir grond word ’n ander Griekse woord as in 9:4 gebruik. Vervolging van christene, soos byvoorbeeld deur Saulus, is ook vervolging van Christus self. Hy woon in sy volgelinge (vgl. Joh 14:23; Matt 25:40). Vir Paulus se hoorders moes dit ook ’n waarskuwing uit die hemel wees.

22:8  Paulus se reaksie is ‘Wie is U Here?’ Hy kon nie dink dat dit dié Jesus is wie se volgelinge hy vervolg, wat uit die hemel met hom praat en voor wie hy rekenskap moes gee oor sy misplaaste ywer vir God nie. Maar met sy aanspreek van Jesus as ‘Here’ erken hy die man wat uit die hemel met hom praat as God. Hoewel kúrios, ‘here,’ ook vir mense gebruik is as respekvolle aanspreekvorm, is ‘Here’ ook gebruik vir Israel se Verbondsgod, die Skepper en Wêreldregter, soos hier (vgl. 1 Kor 8:6).

Jesus se antwoord aan Paulus word hier uitgebrei met ‘van Nasaret.’ Vir die skare is die ‘van Nasaret’ ’n belangrike  byvoeging om Jesus te identifiseer, omdat daar destyds baie mense met die naam Jesus was, die Griekse vorm van Josua. Die meeste Jode het van Jesus van Nasaret geweet (vgl. Luk 18:5; 24:19; Joh 19:19; Matt 21:11; Mark 10:47). Vir Paulus was Jesus se selfbekendstelling in 9:5 as ‘Ek is Jesus wat jy vervolg’ ’n duidelike identifikasie. Hand 26:14-18 het ’n lang byvoeging by Jesus se selfbekendstelling.

Vir Paulus se ganse verdere bediening was hierdie ontmoeting met Jesus vanuit die hemel die kern van sy boodskap en die bepalende faktor in sy lewe (vgl Hand 15:1-11; Rom 1:1-6; Gal 1:1-5; 11-16; Ef 1:20-21; Flp 2:6-11).

22:9 Paulus sê sy metgeselle het wel die lig gesien, maar nie die stem (fōnê ) van Hom wat met hom gepraat het, gehoor en verstaan nie. In Handelinge 9:7 het Lukas gesê Paulus se metgeselle het wel die geluid (fōnê kan geluid van ’n stem aandui, of stem van ’n taal aandui) gehoor, maar niemand gesien nie. Hier word die lig-motief onderstreep en dat sy metgeselle nie kon verstaan wat gesê word nie. Hulle het die lig gesien, maar nie geweet dit is Jesus wat uit die hemel praat nie (vgl. Jesus se verklaring oor sy gebruik van gelykenisse in Luk 8:10: ‘…selfs al kyk hulle, sal hulle nie sien nie, en selfs al hoor hulle, sal hulle nie verstaan nie’). 

22:10 Paulus se tweede vraag is: ‘wat moet ek doen, Here?’ Met sy aanspreekvorm ‘Here’ en sy erkenning ‘die Here het vir my gesê’ erken Paulus dat dié Jesus wat hy vervolg het, God is, wat uit die hemel met hom praat en aanvaar dat Jesus nou die seggenskap oor sy lewe het. Hy doen wat die Here Jesus vir hom sê. Hier net: ‘Staan op en gaan na Damaskus…’ waarheen hy juis op pad was om die Jesus-volgelinge te arresteer. Nou gaan hy as gearresteerde van Jesus na Damaskus. ‘Daar sal alles vir jou gesê word om te doen, wat aan jou opgedra is (die perfektum werkwoord druk blywendheid uit, die passiewe vorm van die werkwoord veronderstel dat dit deur God aan hom opgedra is. Die werkwoord tassō is ’n spesifieke aanduiding van ’n taak wat opgedra is). Vir die siedende skare wat stil geword het om na hom te luister, verduidelik hy wat die dryfveer van sy lewe is, dat alles wat hy doen lankal in die plan van God vir die verlossing van die mensdom bepaal is. In Handelinge 26:16-18 brei Paulus verder uit oor alles wat Jesus aan hom by die geleentheid gesê het.

22:11 Paulus skryf sy blindheid toe aan die verblindende glans van die helder lig uit die hemel. Hy wat as leier van ’n groep tempelpolisie Damaskus wou binnestorm om Jesusvolgelinge te arresteer en Jerusalem toe lei, word as blinde aan die hand van sy metgeselle Damaskus ingelei, ná sy ontmoeting met die opgestane Jesus.

22:12 In Handelinge 9:10 word Ananias voorgestel as ’n dissipel van Jesus; hier, voor die woedende skare Jode, as ’n vrome Jood wat volgens die wet van Moses gelewe het en dat die Jode van Damaskus se getuienis oor sy lewenswyse baie goed was. Paulus stel die betroubare Ananias hier voor as die tweede getuie van wat die Here gesê het (Deutr 17:6).

22:13 Ananias het Saulus in Aramees aangespreek as ‘Saul, broer.’ Paulus se gehoor sou ‘broer’ verstaan as ’n erkenning dat Paulus ’n mede-Jood is van Ananias wat volgens die wet van Moses lewe. Ananias het Saulus egter erken as ’n mede-Joodse navolger van Jesus. ‘Sien weer! (anablepō sig terugkry, wees siende, of: kyk op) en op daardie oomblik kon ek hom (Ananias) sien.’ Dit was duidelik ’n wonderwerk van die Here dat die blinde Paulus weer kon sien. Vir die skare moes dit oortuig dat God hier aan die werk was. Maar hulle reageer stompsinng soos hulle teenoor Jesus se wonderwerke gereageer het (Joh 10:25-26; 32-33; 38-39; 15:24;).

22:14 Paulus klaar die Jode se misverstand oor die woord ‘broer’ op deur na Jesus te verwys as ‘die Regverdige (van Jes 53:11; Hand 3:14; 7:52),’ God se regverdige Dienaar; die Een wie se verhouding met God reg is (die ideaal van elke Jood wat volgens die wet van Moses probeer leef). Paulus haal vir Ananias aan wat vir hom die boodskap van God gebring het: ‘Die God van ons vaders het jou, Paulus, reeds vantevore gekies (procheirízomai vantevore met die hand uitsoek) om sy wil te ken (soos dit in die wet opgeteken is, dit waarna die egte Jode streef, Rom 2:18), om die Regverdige te sien en sy stem uit sy mond te hoor’ (daar op die pad na Damaskus; vgl. Hand 9:15-17). Daaruit blyk duidelik dat Ananias ’n Joodse volgeling van Jesus is, en Paulus as ‘broer’ in Christus aangespreek het. Paulus het van daardie dag af God se nuwe pad verkondig, sy heilswil, om almal deur sy genade te red (Hand 15:11); dat Jesus waarlik opgestaan het en dat Paulus ’n oog- en oor-getuie is van Jesus se verheerliking.

22:15 Ananias het vir Paulus gesê ‘die God van ons vaders het jou gekies as die getuie om aan alle mense van die Regverdige Jesus te getuig; dat jy Hom in die hemel gesien en dat Hy met jou gepraat het’ (daar is ’n klankspel tussen die Griekse woorde vir sien en hoor: heōrakas en êkousas, die eerste ’n verhalende prefektum en die tweede ’n gewone verlede tyd). Omdat Paulus Hom gesien en gehoor het, was hy seker Jesus het uit die dood opgestaan en dat Hy aan die regterhand van God regeer oor die lewe van alles wat geskep is. Paulus getuig in 1 Kor 8:6 ‘Vir ons (wat in Jesus Christus glo) is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is (geskep is en bestaan) en ons deur Hom (as kinders van God lewe).’ Wat die omvang van ‘alle mense’ is, word in 22:21 uitgespel. Terwyl die twaalf apostels getuies was van alles wat hulle as metgeselle van Jesus beleef het en van sy opstanding en hemelvaart (Hand 1:9-10; 21-22), word Paulus saam met hulle getuie ook van Jesus aan die regterhand van die Vader (Luk 22:69). 

22:16 Paulus vertel aan die Joodse skare van die Here se opdrag aan hom deur Ananias. ‘En nou, waarvoor wag jy? (die werkwoord méllō ‘wag,’ impliseer dat hy nog nie tot ’n besluit gekom het nie). ‘Staan op! Laat jou doop en jou sonde gereinig word deur sy Naam aan te roep.’

Paulus het die opdrag van die Here aanvaar om hom te laat doop as teken van sy verbintenis aan Jesus, wat sy sonde vergewe. In Romeine 4 :11 het Paulus oor die betekenis van die doop as ’n teken of seël geskryf (vgl. Kol 2:11-12). Om jou te laat doop beteken dat God jou as sy kind aangeneem het omdat jy deur geloof aan Jesus verbind is (vgl. wat Paulus geskryf het in Rom 6:3-11; 8:14-17; 1 Kor 12:12-13; vgl. ook Jesus se opdrag in Matt 28:19; Joh 1:12) ).

Net voor sy vertrek uit Korinthe na Jerusalem het hy oor die vergewing van sy sonde bv. Romeine 3:21-31 geskryf

Om Jesus se Naam aan te roep beteken om Hom, wat vir jou sondeskuld gesterwe het en vir jou verlossing van die mag van sonde opgestaan het, te vra om jou te reinig (vgl. 1 Kor 6:11; Hand 2:38; Ef 5:26). Die Naam van Jesus behels sy Persoon, sy reputasie, al sy woorde en werke, dat Hy God is wat mens geword het om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:1,14,29). Om sy Naam aan te roep beteken om in Hom te glo en jouself aan Hom toe te vertrou.

Skrywer:  Prof Francois Malan