Die Handelinge van die Apostels: Paulus voor die Sanhedrin (Hand 22:30-23:11) – Francois Malan

22:30 Die Romeinse kommandant weet nog nie waarom die Jode so woes teen Paulus opgetree het nie. Hy het nou al vir Paulus ’n geleentheid gegee om die skare toe te spreek, maar dit het in ’n gewelddadige lawaai geëindig. Toe het hy probeer om dit met geweld uit Paulus self te kry, maar hom teen Paulus se Romeinse burgerskap vasgeloop. Nou wil hy dit by die Joodse Raad gaan uitvind. Daarvoor laat hy die leierpriesters en die hele Sanhedrin die volgende dag vergader (die leierpriesters is die Raad se dagbestuur met die hoëpriester as voorsitter, die hoof van die lyfwag, vyf adellike priesters en drie priesters almal Sadduseërs). Op die Raad van 70 lede plus die hoëpriester het, benewens die Sadduseër priesterhoofde, ook die familiehoofde en die skrifkenners meestal Fariseërs, gedien. Die kommandant het Paulus voor die Sanhedrin gebring ‘om uit te vind waarom hulle (die Jode) hom beskuldig het’ (Hand 23:29).

23:1 Dit is verstommend dat die kommandant, toe hulle by die Raad kom, nie sy vraag aan die Sanhedrin stel waarom hulle so kwaad is vir Paulus nie, maar aan Paulus die eerste kans gee om voor die Raad te praat. Paulus het die raadslede stip in die oë gekyk en gesê: ‘Manne broers, ek het tot hierdie dag met ’n heeltemal skoon (letterlik: goeie) gewete in verhouding met God gelewe (politeúomai om in verhouding met ander te lewe; die perfektum vorm van die werkwoord beteken dat hy steeds in dié verhouding met God lewe).’ 

Paulus weet dit is ’n verhoor, maar spreek hulle nie met die nodige eerbetoon van ’n aangeklaagde aan nie, maar as gelykes, ‘broers.’  Jesus het gesê: ‘Julle moet julle nie as rabbi laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers; ook nie as vader nie want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is; ook nie as leraar nie, omdat net een julle Leraar is naamlik die Christus (Matt 23:8-10; vgl. egter Hand 22:1). Sonder vrees of ’n skuldige gewete kyk Paulus hulle reguit in die oë as hy praat. Oor sy goeie gewete, vgl. Hand. 20:26; 24:16; 2 Kor 1:12; 2:17; 4:2; 2 Tim 1:3). Die beweegredes vir sy optrede was nog altyd suiwer. Dit gaan nie oor sy eie belang nie, maar hy probeer om in alles getrou te wees aan God, al het hy vroeër God se wil verkeerd verstaan.  

23:2 Ananias was hoëpriester vanaf 48 n.C. Enkele van die 28 hoëpriesters wat die Romeine aangestel en afgesit het van 6-66 n.C. was:

      Annas I van Joh.18:13 was in 6 n.C. deur Herodes die Grote aangestel as hoëpriester, word afgesit in 15 n.C. maar                beheer die tempelopset tot sy dood in 35 n.C. (vgl. Hand 4:6). Vyf van sy seuns was hoëpriester (Herodes het                 die vorige priestergeslag van Boethus afgesit en Annas aangestel).

      Kajafas, van Matt 26:57-66; Luk 3:2; Joh 18:13, 24, skoonseun van Annas, was hoëpriester van 18-36 n.C.

      Jonathan, seun van Annas, was hoëpriester van 36-37 n.C.

      Ananias van Hand. 23:2; 24:1, ’n bekwame finansier, seun van Nebedeus, was hoëpriester van 48-58 n.C. toe                         goewerneur Feliks hom afgesit het.

   Toe Ananias sien dat hy die beheer van die vergadering verloor, gryp hy hardhandig in. Hy gee aan die mense langs Paulus, waarskynlik tempelpolisie/wagte, opdrag om hom op die mond te slaan, om sy vrypostige bek toe te kry en hom te beledig met ‘n klap – Jesus is ook tydens sy verhoor voor die Sanhedrin deur ’n tempelwag geklap (Joh 18:22). 

23:3 Paulus reageer op Ananias se opdrag met ‘God sal jou slaan, jou gewitte muur!’ –  gewitte muur is ’n spreekwoord vir ’n skynheilige wat voorgee om iets te wees waarvan hy juis die teenoorgestelde is. Soos hy opdrag gegee het om Paulus sonder verhoor op die mond te slaan, sal God hom slaan. ‘Jy sit daar om my kragtens die wet te beoordeel, terwyl dit jy is wat in stryd met die wet opdrag gee dat ek geslaan word.’  In Levitikus 19:15 het die Here elke Israeliet beveel: ‘Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie, of die vooraanstaande bevoordeel nie.’ Volgens Mattheus 23:27 het Jesus vir die skrifkenners en Fariseërs gesê hulle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is hulle vol doodsbeendere en elke vorm van onreinheid. Onwetend het Paulus ’n profetiese uitspraak oor Ananias gemaak. In 66 n.C. is Ananias deur die Joodse gepeupel vermoor omdat hy die Romeine ondersteun het tydens die Jode se opstand teen die jarelange Romeinse oorheersing. So het God vir Ananias geslaan.

23:4 Die omstanders vra ’n retoriese vraag wat eintlik ’n beskuldiging is: ‘is jy besig om die hoëpriester van God te beledig?’

23:5 Paulus bied vriendelik ’n verskoning aan en spreek sy omstanders aan as ‘broers,’ mede-Jode. Hy het op die oomblik vergeet dat hy met die hoëpriester praat (‘vergeet’ – voltooide verlede tyd van oida weet, verstaan of onthou)  Hy erken hy ken die wet van die Here volgens Eksodus 22:28  ‘jy mag nie sleg praat van ’n leier van jou volk nie’ (‘sleg praat’ is die Septuaginta se vertaling van die Hebreeuse ‘vervloek’). Daarmee bewys Paulus dat hy volgens die wet van Moses lewe.

23:6 Paulus het geweet dat die Sadduseërs, wat nie in die opstanding en ’n lewe na die dood glo nie, een deel van die Raad uitmaak. Hulle het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament as die woord van God aanvaar. ‘n Ander deel van die Raad was Fariseërs wat in die opstanding en die lewe na die dood glo, op grond van die uitsprake van die profete van die Ou Testament. Daarom roep Paulus hardop in die Sanhedrin: Manne, broers (mede-Jode), Ek is ’n Fariseër, die seun van Fariseërs’ – huiós seun, iemand soos, of ’n volgeling. In Filippense 3:5-11 het hy egter o.a. oor sy Fariseërskap gesê dat hy dit as ’n verlies beskou, as waardeloos, as vullis, sodat hy Christus as bate kan bekom; ook dat hy die opstanding uit die dood kan bereik deur gelykvormig te word aan Christus se dood. Hy glo in die opstanding omdat Jesus uit die dood opgestaan het, dat hy deur geloof aan Jesus verbind is en daarom voor God geregverdig is.

Paulus sê aan die Raad dat hy verhoor word oor die hoop en oor die opstanding van die dooies. Israel het gehoop op die koms van die Messias/Christus om hulle uit Rome se oorheersing te kom bevry. Paulus glo Jesus is die verwagte Gesalfde van God. Sy hoop het gerealiseer met die opstanding van Jesus uit die dood, as oorwinnaar oor die dood. Daarmee saam gee God aan ons die oorwinning oor sonde en dood, deur ons geloofs- en liefdesband met die Here Jesus Christus – vgl. Paulus se woord aan die Korinthiërs 15:54-57; 15:54 het hy aangehaal uit Jesaja 25:8.

23:7 Toe Paulus dit gesê het, het daar ’n hewige stryery (stásis) tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan en die skare het in twee groepe verdeeld geraak. Die hewige stryery dui op die Jode se gebrek aan die hoop wat die evangelie bring (Kol 1:23), omdat hulle nie in Jesus glo nie. 

23:8 Lukas verduidelik vir sy nie-Joodse lesers wat die agtergrond van die hewige stryery is. Die Sadduseërs, wat nie die Profete en die Geskrifte van die Ou Testament aanvaar nie, sê dat daar nie ’n opstanding (uit die dood) of ’n engel, of ’n gees is nie. Hulle hele lewe is net op die aardse lewe gerig en hulle verwag ook geen lewe na die dood nie. In Genesis 19:1; 21:17; 24:7,40; 48:16; Eksodus 23:20,23; 32:34; 33:2; Numeri 20:16 word tog na engele verwys. Hulle ontken dat daar bose geeste is en glo nie aan die Heilige Gees nie. Die Fariseërs, wat die Profete en Geskrifte as God se woord aanvaar, glo wel in die opstanding, aan God se oordeel oor die mens se lewe (Ps 96:13), dat daar engele is (Ps 91:11), God se hemelse magte (Ps 103:20-21) en duiwels; van God se heilige Gees  (bv. Ps 51:13), van bose geeste (bv. 1 Sam 16:14-15) en die Satan (bv. Job 1:6vv), van die hemel (Ps 2:4) en die doderyk (Ps 139:8) .

23:9 Na Paulus se verklaring dat hy glo in die opstanding van die dooies het die geskreeu van die Raadslede nog harder geword. Op dié punt kom daar ’n verrassende wending in die Raad, wat duidelik die hand van die Here is wat hier ingegryp het om Paulus te red. Vanuit die Fariseërs se geloof in geeste en engele vind hulle ’n halwe ‘Ja’ vir Paulus. Hulle gee toe dat ’n engel of ’n gees met hom kon gepraat het op die pad na Damaskus. Hulle is nog nie bereid om te verklaar dat Jesus uit die dood opgestaan het en vanuit sy posisie aan die die regterhand van die Vader met Paulus kon gepraat het nie. Daarom verklaar hulle net dat hulle geen kwaad in die man kon vind nie. Van Joodse kant was dit die beste beoordeling van Paulus.

23:10 Maar toe word die stryery van vers 7  ’n heftige twis tussen die Sadduseërs en die Fariseërs in die Raad oor hulle onderskeie opvattings oor ‘geen lewe na die dood nie’ en ‘lewe na die dood met God se oordeel,’ oor watter boeke van die Ou Testament as Woord van God geld, ens. Die kommandant kon sekerlik nie die verhitte Jerusalemse Hebreeus van hulle stryery verstaan nie (volgens 22:30 was die kommandant ook in die raadsaal). Hy was bang dat hulle Paulus uitmekaar sal skeur, soos die volk vroeër probeer het om hom dood te maak (21:31). Hy het nou al geweet dat Paulus ’n Romeinse burger is wat hy moet beskerm. Dit was ook die kommandant se taak om te sorg dat daar nie oproere tydens die Joodse feeste ontstaan nie. Daarom gee hy opdrag aan sy soldate om die raadsaal van die Sanhedrin in te storm om Paulus weer in die kaserne in te bring, soos in 21:31-4 en 22:23-24. Maar dié keer oor sy veiligheid.

23:11 Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: ‘Hou moed/wees dapper!’ – tharsei – vertrou op God  en bly doelgerig in gevaar of beproewing. Want soos hy in Jerusalem perí ‘oor en vir’ die Here getuig het, moet hy (dei ’n goddelike opdrag) ook in Rome gaan getuig. Die opdrag om ook in Rome te gaan getuig, verseker vir Paulus dat hy na Rome sal gaan. Dit was ook die agtergrond van sy beroep op die keiser (25:11). Tydens hulle skipbreuk op hulle seevaart na Rome het ’n Engel van die God aan wie hy behoort by hom kom staan en gesê dat hy voor die keiser sal verskyn en dat almal wat saam met hom vaar, gespaar sal word (27:23-24). In kritieke oomblikke in Paulus se lewe het hy besondere openbarings van Christus ontvang om hom moed in te praat en voor te berei vir wat kom. God se doel met Paulus is dat hy van die opgestane Christus moet getuig.

Skrywer:  Prof Francois Malan