Die Handelinge van die Apostels: Paulus vra toestemming om homself te verdedig (Hand 21:37-40) – Francois Malan

21:37 Net voor die soldate Paulus die burg Antonia inneem, bo-op die trappe, vra hy hoflik in Grieks vir die kommandant of hy aan hom iets mag sê. Die kommandant, wat soos die Romeinse amptenare die algemene omgangstaal Grieks gepraat het, se verbaasde antwoord was: ‘Ken jy dan Grieks?’ Die kommandant is verras en bewus dat hy sy gevangene verkeerd beoordeel het. 

21:38 Die kommandant was onder die indruk dat Paulus die Egiptiese oproermaker was, wat slegs Aramees en Kopties sou kon praat en wat ’n rukkie vantevore (letterlik: voor hierdie dae) vierduisend terroriste (sikarii dolkdraers) uitgelei het die woestyn in (vgl. Jesus se waarskuwing in Matt 24:26 oor ’n verwagting dat die Messias in die woestyn sal terugkom; Hand 5:36 oor Teudas se aanspraak). Die sikarii was opstandelinge teen die Romeinse bewind. Elke Romein of Romeinsgesinde Jood wat hulle stilletjies in die hande kon kry, het hulle met hulle kort krom dolke (sicae sekels) wat onder hulle klere weggesteek was, vermoor. Hulle het blykbaar vir die Romeinse garnisoen uit Jerusalem gevlug, die woestyn in (vgl. Josephus Ant. 20.8.6-10; dit is nie seker of Jesus se dissipel, Simon die Yweraar, ook een van die sicarii was nie. In Luk 6:15 en Hand 1:13 word hy ’n Seloot, yweraar, genoem, in Mark 3:18, Matt 10:14 word hy Kananeus van die Hebreeuse kane’an ’n ywerige persoon, ’n Joodse nasionalis, genoem).  

21:39 Paulus verduidelik dat hy nie ’n Egiptenaar is nie, maar ’n Jood, ook nie van Egipte nie, maar van die Romeinse stad Tarsus in Silisië, ’n belangrike kultuur- en intellektuele stad, waar Grieks gepraat word (Lukas gebruik die negatief: ‘nie ’n onbelangrike stad nie’ om die belangrikheid van die stad te beklemtoon teenoor die wildernis waar die Egiptenaar is). Hy vra toe die onverwagte: om die opruiende skare wat hom wou vermoor toe te spreek. Nog meer onverwags gee die kommandant toestemming dat hy kan praat. Die Here het Paulus uitgekies as instrument om sy Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel (Hand 9:15). Hier is weer ’n voorbeeld van hoe die Here hom as sy getuie voor Israel en die Romeinse soldate gebruik.

21:40 Nadat die kommandant hom toegelaat het om te praat, het Paulus van die trappe af met sy hand vir die oproerige volk wat hom uit die hande van die soldate wou skeur beduie om stil te bly sodat hy kan praat. En wonder bo wonder het daar ’n groot stilte oor die skare gedaal en het hy hulle in Hebreeus toegespreek (waarskynlik in Aramees wat die Jode destyds gepraat het). ’n Wonder van die Here se ingryping om Jesus se opstanding en hemelvaart aan die Jode te betuig!

Paulus begin sy getuienis voor die volk (Hand 22:1-5)

22:1 Baie formeel en hartlik spreek Paulus die skare aan as manne, broers van sy eie ouderdom en vaders wat ouer as hy is. ‘Luister na my soos ek my nou teenoor julle verdedig (apológia ’n verdediging maak).’ Paulus begin sy reeks verhore wat nou gaan volg met sy verdediging teenoor sy eie volk. Dit behels ook ’n getuienis oor Jesus (23:1 voor die Sanhedrin; 24:10 voor Feliks; 25:8,16 voor Festus; 26:1 voor Agrippa; 26:25 teenoor Festus; 28:17 teenoor die Joodse leiers in Rome).

22:2 Toe hulle hoor dat hy hulle in hulle eie taal Hebreeus luid toespreek (prosfōnéō met klem op die luid; die Aramees wat hulle gebruik is die sogenaamde volks-Hebreeus), het hulle nog stiller geword. Toe Paulus in Jerusalem aan die voete van Gamaliël opgevoed is, het hy ook die tipiese Jerusalemse volks-Hebreeus met hulle eiesoortige klank aangeleer. Sy uitspraak sê hy is een van hulle (vgl. Petrus se Galilese uitspraak wat hom verklap het, Matt 26:73).

22:3 Met drie werkwoorde beskryf Paulus die hoofmomente van sy biografie as ’n Joodse man: gebore in Tarsus in Silisië (as burger van die stad 21:39; 22:28), opgelei aan die voete van Gamaliël (die rabbi sit op ’n stoeltjie en die studente op die grond aan sy voete;). Gamaliël was ’n geëerde wetskenner, ’n Fariseër-lid van die Joodse Raad (Hand.5:34), opgevoed in streng ooreenkoms met die wet van ons vaders (die wet van Moses). Daarby is ek, soos julle almal vandag, ten nouste aan God verbind (dzêlōtês  is ’n entoesias wat ten nouste verbind is aan iets, jou daarvoor met algehele toewyding beywer). Die Jode ywer vir God (Hand 21:20), maar sonder insig, sê Paulus (Rom 10:2). Van sy dwase ywer voor sy bekering vertel Paulus in Filippense 3:6. Vir Paulus as Fariseër, vgl. Hand 26:5-6. 

22:4 Paulus beskryf sy vroeëre optrede in Jerusalem as yweraar vir God. Hy het die mense van die Weg tot die dood toe vervolg, mans en vroue geboei en tronk toe gevat. Vir die Weg, vgl. Joh 14:6; Hand 9:2; 18:25; 19:9, 23. Volgens Handelinge 26:10 het Paulus baie gelowiges in Jerusalem in die tronk laat opsluit en as hulle om die lewe gebring is, het dit met sy instemming gebeur.  

22:5 Van Paulus se ywer vir God kan die hele Joodse Raad van familiehoofde (presbutérion) onder voorsitterskap van die hoëpriester getuig. Juis van hulle het hy ook briewe ontvang aan die Jode in Damaskus om Saulus bekend te stel as gesant van die Raad om Jode wat die Weg aanvaar het (letterlik sagkens gestel, net: om ook dié wat daar is), te arresteer. Soos Paulus sy ywer vir God vergelyk met die skare teen hom se ywer vir God (vers 4: ‘soos julle almal vandag’), so noem hy die Jode in Damaskus ‘die broers.’ Hy moes die Jode in Damaskus wat die Weg aanvaar het, as gevangenes na Jerusalem bring (ágō ‘bring’ het ook die gedagte van met geweld), sodat hulle gestraf kan word (timõréõ het ook die gedagte om iemand te laat ly wat hy verdien). Die Raad sou dan die straf vir so iemand bepaal (vgl. Hand 26:10 oor wat met hulle gebeur).

Skrywer:  Prof Francois Malan