Die Handelinge van die Apostels: Paulus word na Rome gestuur (Hand 27:1-12) – Francois Malan

Die ‘ons’ in die volgende twee hoofstukke sluit Lukas in. Hy was blykbaar saam met Paulus op die tweede sendingreis van Troas af tot in Filippi (16:10-17), op Paulus se derde sendingreis terug van Filippi af na Jerusalem (20:5-15; 21:1-18) en hier van Sesarea af na Rome (27:1-28:16) waar die ‘ons’ gedeeltes in Handelinge voorkom. In die gedeeltes vertel hy as ooggetuie van wat gebeur het. In Kolossense 4:14, wat waarskynlik tydens Paulus se verblyf in Rome geskryf is, noem hy Lukas die geliefde dokter, wat ook sy groete aan die gemeente stuur, en in Filemon 24 as medewerker van Paulus. Na Paulus se moontlike vrylating in Rome, en tweede gevangenskap in Rome, kort voor sy dood sê Paulus: ‘Net Lukas is nog by my’ (2 Tim 4:11).

Die seereis word beskryf met talryke seevaart-vakterme waarvan die Griekse woorde hieronder aangedui word om Lukas se kennis van die terme en van die reis as ooggetuie aan te toon. ’n Belangrike tema is redding (26:10,22,31,34,43,44) en Paulus is hier die redder van sy reisgenote, anders as Jona wat vir die Here se opdrag wou vlug (Jona 1:3). In die Lukas-evangelie is redding ook ’n belangrike tema en word Jesus Verlosser (sōtêr) genoem.

27:1 Vir die reis na Rome word Paulus ook aan ’n welwillende offisier toevertrou (vgl. 27:3) soos in 23:23-24,32,33, wat hom vry op die skip laat beweeg (27:9-10, 21-22, 31,33-36), anders as die ander gevangenes (27:42). Die kommandant (owerste oor 100) van die Romeinse afdeling soldate in diens van Sy Majesteit (Sebastós) se naam was Julius. Die soldate wat hom vergesel het was aan boord saam met die matrose van die skip, die ander gevangenes en reisigers (waarvan Lukas een was, en ook Aristargus 27:2). Paulus word aan die gesag van die kommandant oorgegee (paradídōmi dieselfde woord wat Lukas gebruik het vir die oorgee van Jesus in die hande van sondaars deur Judas in Luk 22:4,6,21,48; deur die Sanhedrin Luk 24:20; deur Pilatus Luk 23:25; soos deur God bestem Luk 22:22; 24:7; 9:44).  

27:2 Die skip (ploîon enige soort skip) waarmee hulle uit Sesarea vertrek het, se tuishawe, waar die skip waarskynlik gebou is, was Adramittium, oos van Troas en Assus aan die westelike kus van die Romeinse provinsie Asië (deel van die huidige Turkye). Die skip het waarskynlik van Alexandrië af gekom en by Sesarea aangegaan op pad na sy tuishawe toe. Die skip sou langs die kus van Asië by die hawens aangaan om goedere en mense af te laai en op te laai. Die Masedoniër Aristargus van Thessalonika word in Hand 19:29 genoem as Paulus se reisgenoot tydens sy tweede sendingreis, wat deur die skare van Efese saamgesleep is na die arena. Hy was ook die gemeente in Thessalonika se verteenwoordiger wat met Paulus se derde sendingreis Thessalonika se kollekte saam met Paulus na Jerusalem toe geneem het (Hand 20:4). In Kolossense, wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (Kol 4:18), noem Paulus hom ‘my

medegevangene’ (Kol 4:10) en in Filemon 24, wat met dieselfde geleentheid as Kolossense geskryf is, word hy Paulus se medewerker genoem. Julius het gemeen hy sal by een van die hawens op hulle reis ’n skip kry wat na Italië toe gaan (27:6).

27:3 Van Sesarea af reis hulle met die noordwaartse seestroom uit Egipte tot by die ou Fenisiese stad Sidon, ’n dag- en nagreis ver, 69 seemyle teen 3 seemyl per uur (met ’n gunstige wind kon tot 9 knope behaal word). Die Sidoniërs het vir Salomo hout in die Libanon gaan kap vir die tempelbou (1 Kor 5:6). Elia is tydens die droogte in Sarfat, ’n wyk van Sidon, deur ‘n weduwee versorg (1 Kon 17:9). Daar het Jesus die dogter van die Kanaänitiese vrou genees (Matt 15:21-28). Kommandant Julius laat heel welwillend sy onskuldige gevangene Paulus onder begeleiding (?) na sy vriende in Sidon gaan en om deur hulle versorg te word met wat hy nodig het (soos Feliks vroeër in Sesarea ook opdrag gegee het, Hand 24:23). Die mense van Sidon het reeds na Jesus kom luister (Mark 3:8) en daar is waarskynlik ’n gemeente gestig toe die gelowiges uit Jerusalem gevlug het, o.a. na Fenisië met die verdrukking wat ná Stefanus se dood ontstaan het (Hand 11:19).

27:4 Van Sidon af het hulle met ’n ompad na Mira, aan die lykant van die eiland Siprus verbygevaar (hupopléō aan die lykant verbyvaar), wat die teenwinde afgekeer het. In die somer is daar weste- en noordwestewinde en ’n weswaartse seestroom in die Middellandse See. Deur met hulle seilskip aan die oostekant om Siprus te seil het die eiland die winde afgekeer en die noordwaartse seestroom hulle aangehelp.

27:5 Toe hulle aan die noordekant van Siprus kom het hulle oor die oop see gevaar (diapléō van een kant na die anderkant vaar; pélagos oop see, oseaan) en teen die suidekant van die provinsies Silisië en Pamfilië gevaar, gehelp deur die weswaartse seestroom en landwinde in die nag. Hulle het al teen die kus van Klein-Asië tot by die hawestad Mira in die provinsie Lisië gevaar. Hier het hulle van die skip wat verder na Adramittium reis, afgeklim. 

27:6 In die hawe van Mira kry die kommandant ’n skip van Alexandrië in Egipte wat na Italië toe vaar (pléō vaar onder seil en/of roei). Die skip het waarskynlik veral koring van Egipte na Rome vervoer en was daarom heelwat groter as die vorige skip. Die aantal persone op die skip word in vers 37 aangegee as 276. In die laat somer het die westewind die skip waarskynlik van Alexandrië na Mira gedryf, of dat hulle die roete juis dié tyd van die seisoen gevolg het om agter die eiland Kreta teen die wind te skuil, en nie die direkte roete van Alexandrië na Sisilië aangepak het nie, wat dié tyd gevaarlik word (vgl. vers 17). Die kommandant het ‘ons,’ die soldate, gevangenes en die reisigers wat na Rome op pad was, aan boord van die skip laat gaan (embibázō). Die ‘ons’ verwys weer na Lukas as ooggetuie van die gebeure.

27:7 Vir verskeie dae het hulle stadig gevaar (braduploéō) en met moeite teenoor Knidus, aan die suid-westelike punt van Klein-Asië gekom. Daarvandaan is dit oop see na die Griekse Peloponnesus, maar hulle kon nie teen die westewind op soontoe vaar nie. Die skip kon toe suid-wes vorder tot teenoor Salmone aan die noord-ooste punt van die eiland Kreta. Hulle het by Salmone verby aan die lykant van Kreta gevaar (hupopléō).

27:8 Van Salmone af het hulle al teen die kus van Kreta gevaar (paralégomai is ’n tegniese skeepsterm vir al langs die kus vaar) tot by die plek wat Mooi Hawens genoem word, naby die stad Lasea. Die hawe is geleë aan die suidpunt van Kreta met twee baaitjies wat ’n bietjie beskerming teen die westewind en goeie beskerming teen die noord-weste wind bied. (Tans is daar ’n bergplek met olie vir verbygaande skepe. In 2011 was daar slegs 21 inwoners in die onherbergsame hawetjie). Dat dit tot vandag Mooi Hawens genoem word, is egter nie ’n ware beskrywing van die redelik onaantreklike plek nie. 

27:9 Baie tyd het verlore gegaan met die moeilike tog teen die winde in en die vaart (ploós) het gevaarlik geword. Van 11 September af is beskou as gevaartyd vir skeepsvaart, en van 11 November tot 10 Maart het skeepsvaart, veral van kleiner skepe, tot stilstand gekom. Die Vasdag wat al verby was, verwys na die Groot Versoendag (Lev 23:26-32 Jom Kippurim op die tiende van die sewende maand Tishi van die Jode. In 59 n.C. het die Groot Versoendag op 5 Oktober geval. Die aand van die negende word die lied Kol Nidrei ‘alle geloftes’ gesing. Op die tiende dag word versoening vir Israel gedoen met vas en offers aan die Here). Aan die begin van Oktober is die winter om die draai in die Noordelike halfrond. Paulus waarsku die kommandant en die skeepskaptein.

27:10 Paulus sien die gevaar wat vir die reis voorlê as hulle verder sou vaar:  Die vaart (ploós) sal skade ly as gevolg van die geweld van die wind en die see, en groot verlies meebring, nie slegs van die vrag (’n broodnodige vrag koring vir Rome) en die skip self nie (met die skip se eienaar op die skip. Rome het die invoer van koring uitgekontrakteer), maar ook van ons lewens (van almal op die skip). Die insig het die Here vir Paulus gegee deur sy waarneming van die verloop van die reis en die weersomstandighede. In 2 Korinthiërs 11:25-6 vertel Paulus dat hy reeds drie maal skipbreuk gely het, ’n nag en ’n dag die diepsee trotseer het en gevare op see beleef het. Daarom sê hy dat hulle liewers op die eiland Kreta moet bly (27:21), waarskynlik in die stad Lasea wat hulle sou kon akkommodeer vir die winterseisoen, daarom noem Lukas die stad in 27:8.

27:11 Die kommandant  het egter meer vertroue gestel in die kaptein van die skip (kubernêtês skeepskaptein, ’n tegniese skeepsvaartterm) en die eienaar van die skip (naúklêros nog ’n seevaartterm) as in die woorde van Paulus. Die twee manne was immers ou hande in die skeepvaart, en Paulus nie eers ’n matroos nie. Die kommandant weet egter nie dat die Here aan Paulus profetiese insig oor hulle reis vorentoe gegee het nie, wat hulle later wel moes erken.

27:12 Aangesien Mooi Hawens nie geskik was vir oorwintering nie, was die meerderheid (van die leiers) se advies dat hulle uit Mooi Hawens moet vaar (anágomai uitvaar, ’n skeepsterm) en dat hulle miskien die hawe Feniks, 80 km wes van Mooi Hawens, kan bereik om daar te oorwinter. Feliks was ’n hawe van die eiland Kreta wat oop was na die suidwestelike kant en die noordwestelike kant van die hawe, wat ’n mate van beskerming teen die winterwinde kon bied.

Skrywer: Prof Francois Malan