Die Handelinge van die Apostels: Petrus in Kornelius se huis (Hand 10:17-33) – Francois Malan

image_pdfimage_print

10:17  Petrus is nog in homself verward was oor wat die visioen wat hy gesien het tog kon verteenwoordig – oor wat die Here aan hom deur die gesig wou sê. Die geweldige groot opset van die gesig beteken dat die Here se woorde oor wat rein en onrein is, iets vir hom wou sê wat vir die Here van besondere groot betekenis is. Kyk! (let op wat die betekenis is van wat nou gebeur) die manne wat deur Kornelius gestuur is, staan op daardie oomblik voor die deur van die leerlooier se huis, nadat hulle in Joppe daaroor rondgevra het.. Op die oomblik toe Petrus begin wonder oor die betekenis van die Here se woorde aan hom, antwoord die Here met die aankoms van die drie manne. Dit is ’n duidelik aanduiding dat die visioen met hulle koms te doen het.

10:18 Kornelius se manne roep toe hardop (fōneō) en vra of Simon wat Petrus genoem word as gas hier tuisgaan, soos die engel die opdrag aan Kornelius gegee het (Hand 10:5-6).  

10:19 Petrus hoor nie dat sy naam geroep word nie, omdat hy in twyfel (v17) nog baie ernstig nadink (dienthuméomai) oor die betekenis van die visioen, maar die Heilige Gees sê vir hom: Luister! daar is drie manne (by die deur) wat jou soek (sommige manuskripte het 2 manne, teenoor Hand 11:11 se drie). So bring die Here die twee partye bymekaar, deur die manne wat eers moes rondvra waar Petrus bly en toe op die regte oomblik by die huis aankom, en die Heilige Gees wat Petrus uit sy bepeinsing wegruk na die roepende manne. Dié aanwysing deur die Heilige Gees oor die drie manne moes vir Petrus help om die betekenis van die visioen te verstaan.

10:20 Die Heilige Gees neem met die opdrag eers Petrus se twyfel weg oor die visioen en oor Kornelius se boodskappers. Sonder verdere navrae of oorweging (mē diakrinómenos) word gesê wat hy moet doen: ‘staan op, gaan af en gaan saam met hulle sonder om te aarsel, want Ek het hulle gestuur.’ In 10:3 is dit ’n engel/boodskapper van God wat met Kornelius praat. In verse 13 en 15 is dit ’n stem vir wie Petrus in vers 14 ‘Here’ noem, wat met Petrus praat. Hier is dit die Gees wat met Petrus praat, en die Gees sê oor vers 3 se engelboodskap, ‘Ek het hulle gestuur.’ ‘Ek’ staan met klem voorop in hierdie sin. Die engel verteenwoordig die Mag van God en die Gees die Persoon van God, self God.

10:21 Petrus gehoorsaam die opdrag van die Gees dadelik. Blykbaar het niemand nog die Romeine ingenooi nie. Petrus stel homself aan hulle bekend as die man wat hulle soek, soos die Gees aan hom gesê het (v19). Hy vra: ‘Waarom is julle hier?’  (Die jonger Westerse teks voeg hier in ‘wat wil julle hê, of..’).

10:22 Die mans vertel van Kornelius se vroomheid, sy reputasie onder die Jode, en van die engel van die Here se verskyning en opdrag aan hom (10:3) om vir Petrus te laat haal sodat hulle na hom kan luister. Daaruit kon Petrus duidelik aflei wat die betekenis is van die visioen wat hy gesien het. Die vryheid van die Joodse wet van rein en onrein, wat die Here van Petrus vra, is om na die heidense hoofman toe te gaan om aan hom die evangelie te bring.

10:23 Dat Petrus die nie-Joodse manne innooi en as gaste die nag by hom laat oorbly, is reeds ’n aanduiding van sy gehoorsaamheid om die nuwe weg van Jesus na die heidene te volg. Die Jode het nie met Jesus se verhoor saam met Jesus in Pilatus se ampswoning ingegaan nie, omdat hulle nie onrein wou word nie (Joh 18:28). Nou volg Petrus Jesus se voorbeeld deur die ontvangs van heidene in die huis en gaan saam met hulle na ’n heidense huis. Daaroor is hy later deur die gemeente in Jerusalem verkwalik (11:3) en het hy nog later uit vrees vir hulle, hom aan die tafelgemeenskap met die Christene uit die heidendom onttrek (Gal 2:12).

Die volgende dag gaan hy saam met die mans en neem saam met hom ses van die Joodse Christene in Joppe, as getuies van die evangelie wat hy gaan verkondig (vgl. 10:37,39). Later is hulle ook Petrus se getuies van wat die Here gedoen het onder die nie-Jode (vgl. 10:45 en 11:12).

10:24 Hulle het blykbaar langs die pad van Joppe af oornag en die volgende dag in Sesarea aangekom, die vierde dag vandat hulle uit Sesarea vertrek het (10:30). Kornelius was hulle te wagte en het ’n groot groep mense bymekaar gemaak in afwagting van die belangrike boodskap wat die engel van God tydens sy aandgebed in ’n visioen aan hom aangekondig het. Hy het familielede en intieme vriende genooi, wat waarskynlik saam met hom ‘godvresendes’ was, om saam met hom en sy hele huisgesin na die boodskap van God te kom luister (10:2; 11:14). [Een Griekse manuskrip uit die 6e eeu en ’n Latynse manuskrip uit die 8e eeu skilder heeltemal ‘n ander prentjie om Kornelius se gereedheid te verklaar, met een slaaf wat vooruit gaan om Kornelius te waarsku van Petrus se koms]

10:25 Onseker oor hoe hy Petrus moet ontvang het Kornelius voor Petrus se voete neergeval en hom begin aanbid soos aan ’n hemelse wese. Kornelius het as heiden grootgeword wat hulle konings as halfgode of gode vereer het (vgl. Hand 12:22; 14:11-13,18; 28:6).

10:26 Petrus help hom op en wys sy verering af met die versekering:  ‘ek is self ook net ’n mens.’ Petrus ’n monoteïstiese Jood, wat grootgeword het met die daaglikse belydenis ‘die Here is ons God, Hy is die enigste Here’ (vgl. Deutr 6:4-9), sou geskrik het om as goddelik vereer te word, en het die eer wat Kornelius aan hom wou betoon streng afgewys met sy belydenis dat hy ’n blote mens soos Kornelius is. Hulle twee staan saam as mense voor God, hulle Skepper, wat aan albei van hulle ’n opdrag gegee het wat hulle hier bymekaargebring het.

10:27 Terwyl hy in gesprek (sunomiléō) met Kornelius instap tref hy die baie mense aan wat daar vergader het. Die versameling nie-Jode kom as ’n verrassing vir Petrus. Dit is ’n groot sendingveld wat die Here in die Romeinse hoofman se huis versamel het (vgl. Joh 4:35-38; Jes 55:5).

10:28 Petrus sê vir sy gehoor (en Lukas vir al sy lesers) dat hulle bewus daarvan is dat dit vir ’n Jood, volgens sy godsdienstige reëls en tradisies, onwettig is (athémitos) om met iemand van ’n ander volk om te gaan of om omgang te soek (vgl. Joh 4:9; die rabbi’s het die volk geleer dat heidene en hulle huise onrein is, vgl. Hand 11:3). God het egter aan hom getoon dat hy niemand besoedel of onrein mag noem nie, geen mens nie! ‘Mens’ staan beklemtoon laaste in die Griekse sin. In vers 26 het Petrus homself ook as ’n blote mens bestempel, wat hom nie bo ander mense mag verhef nie of hulle verering mag aanneem nie. Voor God is almal slegs mense, wat Hy gemaak het om Hom te loof en te dien! (Ps 139:14-18). 

10:29 Dat Petrus deur die Goddelike aanwysing die uitnodiging sonder beswaar aangeneem het, word deur Lukas vir die lesers ingeskerp. Daarom word die volgende uiteensetting so breedvoerig opgeteken. Waarom Kornelius die apostel laat haal het word vir Petrus al duideliker uit Kornelius se vertelling van sy ondervinding, vir die lesers is dit ’n tweede herhaling van 10:3-6,22 om dit in te skerp.

10:30 ’n ‘Engel van God’ in 10:3, word ’n ‘heilige engel’ in 10:22, en hier ’n ‘man in stralende gewaad’ (vgl. Hand 1:10 ‘twee mans in wit klere;’ Luk 9:30-31 ‘twee manne in hemelse glans;’ Luk 24:4 ‘twee mans met glansende klere;’ vgl. Matt 24:2-3). Vier dae gelede om 3nm. staan die man skielik voor Kornelius terwyl hy in sy huis op die Joodse gebedsuur besig is om te bid.

10:31 Kornelius se gebed is (deur God) verhoor en sy (baie) aalmoese is voor God in herinnering geroep – dit verduidelik 10:4 se ‘as gedenkteken verrys’). Aalmoese is in die meervoud, daarom die baie. Sy gebed was moontlik om groter duidelikheid te kry wat die Here van hom verwag. Die Here verduidelik dit nou vir hom deur Petrus se getuienis oor Jesus.

10:32 Die opdrag van die engel (10:5-6) word hier woordeliks deur Kornelius herhaal.

10:33 ‘Onmiddellik’ staan voorop in die Griekse sin om dit te beklemtoon. ‘Onmiddellik het ek toe na u gestuur, en u het goed gedoen om hierheen te kom. Nou is ons almal hier teenwoordig voor God om te luister na al “die besonderhede van die opdragte wat gegee is wat ons moet doen” (alles een woord: prostetagména) aan u deur die Here.’ Uit Kornelius se woorde blyk dat hierdie Romeinse godvresendes glo dat hulle in die teenwoordigheid van God is, in afwagting op sy opdragte deur Petrus, en dat hulle bereid is om dit te doen. Petrus weet nou wat die Here met sy visioen bedoel het. ‘Deur die Here’ is vir die godvresendes deur die God van Israel omdat hulle nog nie Jesus as die Here ken nie. Petrus kom juis die Here Jesus aan hulle voorstel. Die Here trek die lyn wat Hy met Kornelius begin het en die lyn wat hy met Petrus begin het, bymekaar deur altwee se gehoorsaamheid aan sy opdragte.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...