Die Handelinge van die Apostels: Petrus se preek (deel 2; Hand 2:22-28) – Francois Malan

2:22 
‘Israeliete! (letterlik ‘manne Israeliete’) luister na hierdie woorde.’
Dit is met Israel wat die Here die ou verbond gesluit het. Nou moet hulle hoor
oor God se nuwe verbond van genade. Petrus vra sy gehoor ’n tweede keer (v14)
om te luister; hier ná sy verduideliking van Joël se profesie oor tekens en
wonders (v19). Hy pas hierdie profesie toe op Jesus van Nasaret
die naam op die bordjie aan sy kruis volgens Johannes 19:19. Hy was ’n man wat
God aan hulle oortuigend bewys het dat Hy eg is; dat Hy deur God gestuur is (apodedeigmenon
as eg bewys). Die perfektum vorm van die deelwoord beteken dat die kragtige
dade (1:8), wonders en tekens (2:19) wat God in hulle midde deur Hom gedoen het
steeds geld as bewyse dat God deur Jesus gewerk het; soos hulle self weet –
hulle was ooggetuies daarvan. Jesus, van die veragte dorpie Nasaret, is die
einddoel van die profesie. Hy is die gewer van die Gees wat op sy volgelinge
uitgestort is, waarvan Joël geprofeteer het (v18,33). Hy is die Here wat
aangeroep moet word om redding te verseker (2:21).

2:23 Na Petrus se eerste woord oor die
goddelike herkoms van Jesus, stel die tweede Jesus se dood aan die orde. Dit
was lank reeds God se plan vir die redding van die mens (Hand 4:28; Rom
8:32). ‘Julle het hierdie man (Jesus), wat God volgens sy vasbeslote plan en
voorkennis oorgegee het, doodgemaak, deur Hom te laat kruisig deur die hande
van wettelose mense.’  Sy dood is deur God
gewil maar is die Jode en hulle heidense werktuie se skuld. Die Jode het sy
dood gevra en dra daarom die volle verantwoordelikheid vir sy dood. Maar alles
het geskied volgens die raadsplan van God om mense te red (Hand 2:21).

2:24 God se raadsplan hou egter meer
in as net Jesus se dood. God het Hom opgewek en van die erge lyding
(soos van geboortepyne, ōdinas) van die dood bevry (2 Sam 22:6 verwys na
bande van die doderyk en strikke van die dood; Ps 18:5-6 na bande van die dood
en vangstrikke van die dood; Ps 116:3 bande van die dood, angste van die
doderyk). ‘…omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur (deur die dood) vasgehou
word.’ Die rede waarom dit onmoontlik was, is vir Petrus bloot omdat dit in die
woord van God geskryf staan (in Ps 16:8-11 volgens die Griekse vertaling van
die Ou Testament, die Septuaginta).

Psalm 16 as heenwysing na Jesus (Hand 2:25-28)

2:25-28 Die tweede aanhaling in Petrus
se toespraak kom uit Psalm 16:8-11. Hoewel dit hier en daar van die Hebreeuse
teks verskil kom dit woordeliks uit die Griekse vertaling, sonder die laaste
sin van vers 11 in die Septuaginta. Ps 16 is eintlik ’n loflied van ’n vrome
wat die Here dank dat hy bewaar is van ’n vroeë dood en dat die Here aan hom
gewys het hoe ’n opregte mens moet lewe. In Petrus se preek kry die woorde ’n
nuwe betekenis as ’n profesie van Dawid oor die opstanding van die Messias.
Die rabbi’s het reeds die woorde van Ps 16 gesien as ’n profesie van Dawid dat
hy, Dawid, wonderbaarlik nie vroeg sal sterf nie. Die Ou Testament het baie min
oor die lewe ná die dood, en praat meestal net van ’n lang lewe.

2:25 Volgens Petrus het Dawid in Ps 16
oor Christus gesê: ‘Ek (Dawid) het die Here gedurig (letterlik: deur alles)
voor my gesien (prooraō Hom duidelik in my gees gesien), want Hy is aan
my regterkant
sodat ek nie wankel nie (saleuthō heen en weer geskud
word nie).’ ’n Soldaat het sy skild in die linkerhand gedra en was aan sy
regterhand onbeskermd. Die Here was Dawid se skild aan sy regterhand om hom
deurgaans te beskerm en hy was onder alle omstandighede bewus van die Here se
teenwoordigheid. So was Jesus ook tydens sy aardse lewe deurentyd bewus van sy
Vader se teenwoordigheid, vgl. Joh 8:29; 14:10-11; 17:21.

 2:26 Omdat Dawid geborge voel in die
teenwoordigheid van die Here juig hy in sy hart, jubel sy tong, en sal sy
liggaam veilig in hoop bly voortlewe (kataskênoō tent opslaan, nes bou,
tot rus kom), in die hoop op wat God met hom sal doen. Vir die mense van die Ou
Testament het die hoop beteken dat hulle nie gou sal sterf nie. Vir die mense
van die nuwe verbond verwys dié hoop na die opstanding uit die dood, omdat
Jesus uit die dood opgestaan het en die doodstraf van God oor ons sonde, self
gedra het (Rom 6:8-11; 1 Kor 15:3,20-23). Volgens Petrus het Dawid dit van
Jesus gesê, en gebruik Petrus Ps 16 as ’n profesie oor Jesus se opstanding
uit die dood
.

2:27 Vir Dawid het die woorde beteken dat hy nie ’n vroeë dood verwag nie, want die Here sal nie sy lewe aan die doderyk oorlewer nie, en nie toelaat dat sy getroue volgeling die graf sien nie. Die Septuaginta, wat hier aangehaal word, het dit vertaal met oorlaat – sy lewe nie laat agterbly in die doderyk nie, wat ’n opstanding uit die dood suggereer. In plaas van Ps 16 se ‘u getroue volgeling’ het die Septuaginta ‘u heilige.’ Petrus sê dat Dawid oor Jesus gepraat het, en  ‘u heilige’ van die Septuaginta verwys vir Petrus na Jesus as God se Heilige Seun, wat aan die Vader toegewy is. Ps 16 sê ‘U sal nie toelaat dat u getroue volgeling die graf sien nie. In die Septuaginta wat deur Handelinge aangehaal word is dit ‘u sal u Heilige nie ontbinding (diafthoran) laat beleef nie,’ wat ook die moontlikheid van ’n opstanding uit die dood veronderstel. Die Septuaginta, wat ’n Hebreeuse teks sonder vokale vertaal het, het die Hebreeuse sjgt vir sjagat ‘graf,’as sjigeet ‘verderf’ gelees. Die Septuaginta is ongeveer 200 jaar voor Christus uit Hebreeus in Grieks vertaal, maar die Masorete het eers na 500 n.C. die vokale begin byskryf by die Hebreeuse konsonante. 2:28 Die Hebreeus se ‘pad wat tot die lewe lei’ wat die Here aan Dawid bekend gemaak het, verwys na die lewe van sy getroue volgeling wat vir die Here welgevallig is en hom daarom van ’n vroeë dood weghou. Die ‘paaie van die lewe’ van die Septuaginta verwys na die opstandingslewe van Jesus en sy volgelinge. ‘Deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul’ kan verwys na Jesus se blydskap om by sy Vader te wees, maar ook na die vreugde van die gelowiges oor die teenwoordigheid van God die Heilige Gees by hulle en hulle uitsig op die ewige lewe by God.

Skrywer: Prof Francois Malan