Die Handelinge van die Apostels: Saulus in Jerusalem (Hand 9:26-31) – Francois Malan

9:26 
Na sy ontsnapping uit Damaskus gaan Saulus na Jerusalem. In Galasiërs
1:18 sê Paulus dat hy daarheen gegaan het om Sefas te ontmoet, waarskynlik
omdat Sefas die hele tyd saam met Jesus was tydens sy bediening, en leiding
geneem het onder die volgelinge van Jesus. Maar toe Saulus in Jerusalem kom en
by die gemeente wou aansluit, was die dissipels almal bang vir hom omdat
hulle hom nog as hulle kwaaiste vervolger onthou en nog nie kon glo dat hy
waarlik ’n dissipel van Jesus geword het nie. Na die oorlog tussen Herodes en
Aretas was die verbinding tussen Damaskus en Jerusalem nie te goed nie, en het
die gemeente moontlik nog nie gehoor van sy bekering nie.

9:27 Josef, die Leviet uit Siprus, het
by die apostels die bynaam Barnabas (seun van vertroosting) gekry. Hy
was die eerste dissipel wat sy stuk grond verkoop het en die geld na die
apostels gebring het vir die weduwee-versorging (Hand 4:36-37). Hy was Markus
se oom, in wie se huis die gemeente bymekaar gekom het (Hand 12:12). Die
lidmaat Barnabas was dié keer die middelman wat Saulus na die apostels geneem
het (Paulus sê in Gal. 1:18-19 dat hy met dié geleentheid van die apostels
slegs vir Sefas ontmoet het, en by ’n volgende geleentheid met van die ander
kennis gemaak het, Gal 2:9). Barnabas het aan die apostels die hele verhaal van
Saulus se bekering vertel en hoe hy in Damaskus vrymoedig in die Naam van Jesus
gepreek het (parrêsiazomai om openlik en met vrymoedigheid oor iets te
praat). Waar Barnabas aan die kennis van Saulus se bekering gekom het, word nie
gesê nie, maar dit is duidelik dat die Here, wat met hom op die Damaskuspad
gepraat het, Barnabas gebruik het om Saulus te laat opneem in sy gemeente in
Jerusalem. In Galasiërs 1:18 vertel Paulus dat hy vyftien dae by Sefas gebly
het. In dié tyd kon hulle hom inlig oor alles wat Jesus gesê en gedoen het,
maar veral oor Jesus se dood, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die
Heilige Gees. Die lys wat aan Saulus oorgelewer is van persone aan wie Jesus na
sy opstanding verskyn het, het hy waarskynlik met dié geleentheid by Sefas
gehoor (1 Kor 15:5-9).

9:28 Die vers beskryf hoe Saulus saam
met die apostels was en met vrymoedigheid gepraat het in die Naam Jesus,
wat hy vroeër wou uitroei (parrêsiázomai om openlik en met algehele
vertroue te praat).Om in Jerusalem in en uit te gaan, is ’n Hebreeuse
idioom wat sê dat hulle dit dwarsdeur Jerusalem gedoen het, sonder vrees vir
die Joodse Raad, in vertroue op die Here wat van hulle sy getuies gemaak het in
die stad van sy lyding (vgl. Lukas 18:31-33). In die Naam van Jesus beteken dat
hy oor die Jesus wat aan hom verskyn het vertel het, uit die Ou Testament bewys
het dat Jesus die beloofde Messias van die Ou Testament is, en dat hy waarlik
God is wat aan die regterhand van die Vader oor alles en almal heers (soos Dan
7:14 sê). 

9:29 Soos Stéfanus voor die
Griekssprekende Jode uit die verstrooiing geredeneer het (suzêtéō Hand
6:9), so het Saulus ook met die Helleniste (Griekssprekende Jode) in
Jerusalem gepraat en geredeneer. Hulle het, soos met Stefanus, steeds
probeer/gesoek (epicheiréō imperfektum) om Saulus dood te maak. Saulus,
wat Stefanus se dood goedgekeur het (Hand 8:1), neem nou sy plek in as Jesus se
getuie en sendeling onder die Helleniste.

9:30 Toe die gelowiges (hier ‘broers’
genoem) hoor van die planne van die Helleniste om Saulus te vermoor, het hulle
hom van Jerusalem bo in die Efraimsberge na Sesarea aan die kus afgebring.
Daarvandaan het hulle hom na Tarsus weggestuur. Paulus se weergawe van die
gebeure voor die volk in Hand 22:17-21 voeg by dat die Here vir hom in die
tempel gesê het om haastig uit Jerusalem pad te gee omdat hulle sy getuienis
oor Hom nie sal aanvaar nie. Hy moet weggaan omdat die Here hom ver weg wil
stuur na die heidene. Tarsus, Paulus se geboortedorp, was ’n welvarende
stad aan die Taurusgebergte in die huidige Turkye. Destyds was daar ’n beroemde
universiteit wat meegeding het met die universiteite van Athene en Alexandrië.
In Hand 21:39 verdedig Paulus hom voor die Romeinse hoofman wat vra of hy dan
Grieks ken: ‘Ek is ’n Joodse man, afkomstig uit Tarsus in Silisië, ’n burger
van ’n nie te onbelangrike stad nie (Paulus was ’n gebore Romeinse burger met
die regte van Romeinse burgerskap, vgl. Hand. 16:27; 22:25-29; die Romeine het
die ou stad Tarsus, wat sedert 833 v.C. bekend was, in 64 v.C. die hoofstad van
hulle nuwe provinsie Silisië gemaak).

Handelinge 11:25 tel weer die
geskiedenis van Saulus op nadat hy vir ongeveer 10 jaar in Tarsus, in die
provinsie Silisië  was. Van die tyd ná sy
vlug uit Jerusalem, skryf hy in Galasiërs 1:21: ‘Later het ek na die streke van
Sirië en Silisië gegaan’ waar hy skynbaar in die ongeveer tien jaar voortgegaan
het met sy prediking van die evangelie (vgl. Gal 1:22).

                Oorsig oor die lewe van die vroegste
gemeentes
(Hand 9:31)

9:31 Die Griekse mèn oun lui ’n
nuwe gedeelte van Handelinge inoor wat verder gebeur, deur op te som
wat vooraf gebeur het, en om verder iets nuuts te beskryf. So vertel dié vers
dat die kerk vrede beleef het – ná die bekering en getuienis van Saulus, die
leier van die vervolging van die Jesus-gelowiges; ‘en opgebou is.’ Die passiewe
werkwoord veronderstel dat die Here sy kerk opgebou het – deur die gelowiges se
verkondiging van sy woord.  ‘En hulle het
met die vrees van die Here gewandel…’ – met ontsag vir die Here geleef, dat sy
woord en wil hulle manier van lewe bepaal het. ‘En met die hulp van die
Heilige Gees is hulle getalle deurlopend baie vermeerder
’ (plêthúneto
om baie uit te brei in getalle en omvang; imperfektum wat voortgang aandui,
passief wys dat dit die Heilige Gees is wat ongelowiges oortuig het om in Jesus
te glo deur die gelowiges se getuienis met woord en lewenswyse; vgl. Joh 16:8;
Matt 5:13-16). Die vredestyd vir die kerk was ook die tyd vir sy innerlike
opbou en uitbreiding. Die tyd van vrede (Hand 9:3-11:30) staan egter tussen
twee gedeeltes van vervolging van die kerk (tussen 8:1-9:2 en hoofstuk 12).

Die Griekse woord ekklêsia vir kerk, was voorheen altyd gebruik vir die onderlinge verbondenheid van die burgers van ’n Griekse stad. Maar in die Nuwe Testament wys dit veral na ’n gemeente van Christene wat die interaksie en gemeenskap van die lidmate impliseer. Hier verwys die enkelvoud na al die gemeentes saam as kerk. Elders in die Nuwe Testament verwys ekklêsia na ’n plaaslike gemeente (bv. 1 Kor 1:2) of ’n byeenkoms van gelowiges (bv Hand 19:39). Die gebied waarin die kerk vrede beleef het en opgebou is, word aangegee as in Judea, Galilea en Samaria. Handelinge 9:32-12:19 handel juis oor wat verder gebeur het in Lidda, die Saronvlakte, Joppe, Sesarea en Jerusalem, wat in die provinsies Judea en Samaria geleë is. Die vers is ook die begin van die tweede reeks oor Petrus in die volgende vier hoofstukke, wat in 11:19-30 onderbreek word om Saulus weer onder die aandag van die leser te bring (die eerste gedeelte oor Petrus het gestrek van Handelinge 1:15-5:42).

Skrywer: Prof Francois Malan