Die Handelinge van die Apostels: Saulus se bekering (Hand 9:1-9) – Francois Malan

9:1-2 Saulus
se dringende versoek (aiteō) aan die hoëpriester om vir hom lasbriewe
aan die sinagoges te gee vir die vervolging van ‘aanhangers van die Weg,’  Jesus se volgelinge in Damaskus, skep die
indruk dat hy die gelowiges in Jerusalem genoegsaam bang gemaak het met sy
doodsdreigemente (letterlik om ernstige doodsdreigemente uit te blaas: ‘hy het
dreiging en moord uitgeblaas’ of: ‘hy het dreiging en moord ingeasem,’empneō
word gebruik vir uit- en inasem). Maar sy ywer om hulle uit te roei het nie
bedaar nie, en hy wil as offisiële gesant van die hoëpriester ook in die
hoofstad van Sirië voortgaan om sy haat en moordlus teen die gelowiges te stil.
Volgens Hand 26:10-11 is daar gelowiges met Paulus se instemming vermoor, het
hy ook teen hulle gestem (letterlik: sy klippie teen hulle gebring) en was hy
rasend van woede teenoor hulle. Die teenwoordigheid van volgelinge van Jesus in
Damaskus getuig daarvan dat die Here reeds besig is om deur sy volgelinge die
evangelie daar te versprei – en Saulus wil dit ook daar probeer uitroei. 

Jesus het gesê
Hy is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14:6). ‘Die Weg’ word in
Handelinge figuurlike gebruik vir die Jesus-beweging se gedrag volgens die
beginsels en optredes wat Christus geleer het. In Hand 18:25 word verwys na die
Weg van die Here; 16:17: die weg van verlossing; 13:10: die reguit paaie van
die Here; 18:26: die Weg van God; 1 Kor 4:17: my weë in Christus;  2 Petr. 2:2: die weg van die waarheid; 2 Petr
2:21: die weg van die waarheid. Met ‘die Weg’ verwys die ongelowiges na die
gelowiges (Hand 19:9 die Weg beswadder; 19:23 oproer in Efese oor die Weg;
24:14 hulle noem die Weg ’n sekte; 24:22: Feliks was goed bekend met die feite
van die Weg). Ook gelowiges verwys daarna – Paulus verwys na sy vroeëre
vervolging van die Weg in Hand 22:4.

Daar was
verskeie sinagoges van die Jode in Damaskus, en Saulus wil Joodse gelowiges
daar gaan uitsnuffel en geboeid na Jerusalem toe bring, met ’n groep van die
tempelwagte saam met hom (9:7; vgl. 4:1; 5:26). Hy voorsien dat hy mans en
vroue sal vasbind/arresteer en na Jerusalem toe bring vir verhoor en straf.

9:3 Terwyl
Saulus en sy manne op pad is na Damaskus om sy plan uit te voer met die
toestemming van die hoëpriester, gryp Christus self in. Skielik (soos die
engele in Luk 2:13) het daar ’n lig uit die hemel die gebied rondom Saulus en
sy reisgenote verblindend helder verlig (amper soos ’n weerligstraal wat net
aanhou skyn). Volgens Hand 22:9 en 26:13 het die mense by hom ook die lig gesien
en volgens 26:13 was dit helder oordag en was die lig helderder as die son.

9:4 Terwyl
Saulus in die verblindende lig op die grond val hoor hy ’n stem wat vir hom sê:
‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ Die stem gebruik die Hebreeuse naam ‘Saul’
(‘geleen,’ die Latynse vorm daarvan is Saulus). Dit is die naam van die eerste
koning van Israel (1 Samuel 9:2). Dat hy op sy Hebreeuse naam genoem is
veronderstel dat die Here met hom in sy moedertaal gepraat het. Dat sy naam
tweemaal uitgeroep word, wys op die dringendheid van die roep en gee
uitdrukking aan die Here se verwyt. Dat Saulus die volgelinge van Christus
vervolg het en nou op pad is om daarmee voort te woed, word deur die stem
gesien as ’n direkte vervolging uit haat vir Christus self. Christus is besig
om sy evangelie oor die wêreld te versprei en gebruik sy volgelinge as sy
mondstuk en voorbeeld van die nuwe soort lewe in liefde wat Hy vir mense
moontlik gemaak het. Saulus se hele optrede en strewe word as ‘n vervolging van
Christus self gesien. Saulus het gedink hy beywer hom geheel en al vir die God
en godsdiens van Israel. Nou hoor hy uit die hemel dat hy teen die Here self
optree. Saulus is duidelik bewus dat ’n Persoon uit die hemel met hom praat.
Wie ’n Christen vervolg, vervolg vir Christus (vgl. Luk 10:16!)

9:5 Saulus
spreek Hom as Here aan. Kurios is ’n respekvolle aanspreekvorm vir
meneer, of eienaar, of heerser, en word ook gebruik vir ’n godheid, ’n
bonatuurlike wese wat gesag uitoefen oor mense. Met die hemelse lig en die stem
uit die hemel gebruik Saulus ‘Here’ hier respekvol vir ’n hemelse wese. Jesus
se antwoord: ‘Ek, Ek is (ego eimi) Jesus, wat jy vervolg – jou
doodsvyand wat jy wil uitdelg. Die beklemtoning van ‘Ek’ by die eerste
persoonsvorm van die werkwoord ‘Ek is’ eggo die ‘Ek is wat Ek is’ waarmee die
Here hom aan Moses bekendgemaak het in Eksodus 3:14-15, en Jesus Homself genoem
het in Johannes 8:58: Ek sê vir julle, ‘Ek is’ al van voordat Abraham gebore
is.  In 1 Korinthiërs 9:1 verwys Paulus
na hierdie ontmoeting en sê dat hy Jesus, ons Here, gesien het.

[ Manuskripte
uit die sesde en sewende eeu n.C. het woorde uit Paulus se weergawe van die
gebeure in Hand 26:14 en 22:10 in 9:5-6 ingevoeg, soos in die 1933 en 1953
Afrikaanse vertalings: ‘Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En
terwyl hy bewe en verbaas was sê hy: Here wat wil U hê moet ek doen?’ In die
ouer manuskripte ontbreek die gedeelte hier.]

9:6 Met
hierdie opdrag vanuit die hemel word Saulus se opdrag van die Joodse Raad
heeltemal gekanselleer. Die man wat na Damaskus toe jaag om die mense wat glo
dat Jesus uit die dood opgestaan het te gaan arresteer, gaan na Damaskus as
gearresteerde in opdrag van die opgestane Jesus. Die Jesus wat hy vervolg
beveel hom: ‘Staan op!’ Van nou af is die opgestane Jesus sy opdraggewer wat
hom sal lei: ‘en gaan na die stad en daar sal vir jou gesê word wat jy moet
doen.’ Sonder ’n gespesifiseerde opdrag moes hy gaan om daar sy verdere
opdragte te kry. Voortaan sal Jesus aan hom opdragte gee om uit te voer. Sy
lewe, wat hy tot nou toe self beheer het, sal nou deur Jesus beheer word, die
man wat later kon skryf: ‘So moet julle dan julleself beskou as dood vir die
sonde, maar in Christus Jesus lewend vir God…Julle moet ook nie meer julle
ledemate as wapens (instrumente) van ongeregtigheid tot beskikking van die
sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, moet julle
julleself tot beskikking van God stel, en julle ledemate as wapens van
geregtigheid tot beskikking van God’ (vgl. Rom 6:1-13). So groot is die
liefdesmag van God om ’n mens se lewe om te draai, en so groot sy genade dat Hy
sy kinders beskerm teen hierdie rasende wolf wat sy kudde in Damaskus kom
verskeur, en hom teen homself beskerm om van hierdie woedende leeu ’n gedweë
lam te maak wat aan die hand gelei moet word.

9:7 Saulus se
begeleidingskommando wagte het sprakeloos van skrik en vrees daar gestaan,
want hulle het die stem/geluid gehoor maar niemand gesien nie.  (Die Israeliete het by Sinaiberg toe die Here
met hulle gepraat het die klank van die woorde gehoor, maar niemand gesien nie,
Deutr 4:12; vgl. Eks 20:18-19). Saulus se metgeselle was getuies dat daar iets
groots gebeur het, maar was nie getuies van Jesus vir wie Saulus gesien het en
mee gepraat het nie (in Paulus se weergawe daarvan voor die volk in Hand 22:9
word dit: ‘hulle het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van
Hom wat met my praat nie;’  in sy
weergawe voor koning Agrippa in Hand 26:14 word dit: ‘toe ons almal op die
grond val, hoor ek ’n stem wat vir my in die Hebreeuse dialek sê:’…; Dit
is kleiner besonderhede wat verskil, maar die punt is dat sy metgeselle nie
deel gehad het aan die openbaring van die verheerlikte Messias wat slegs aan
Saulus gegun is nie. Moontlik het hulle slegs Saulus se woorde teenoor Jesus gehoor.
Met Daniël se laaste visioen het die mense by hom dit ook nie gesien nie, maar
was so skrikbevange dat hulle gevlug en weggekruip het (Dan 10:7).

9:8 Saulus
gehoorsaam die bevel van Jesus om op te staan (9:6), maar toe hy sy oë oopmaak
na die verblindende lig om hulle verdwyn het, kon hy niks sien nie. Sy
metgeselle moes hom toe aan die hand Damaskus inlei.  Die leier van die tempelwagte, wat moes help
om Jesus-volgelinge uit te snuffel en uit Damaskus na Jerusalem toe te sleep,
word deur hulle aan die hand die stad ingelei, ’n hulpelose blinde. Saulus se
sending is met geweld uit die hemel beëindig.

9:9 Vir drie dae het die Here Saulus tot stilstand gebring met oë wat nie kan sien nie. Daarby het hy drie dae lank gevas. Die Here het vir hom ’n tyd geskep om die openbaring wat hy ontvang het in sy gesprek met die opgestane en verheerlikte Jesus, te deurdink. Dit het hom tot bekering geruk uit sy verstarde Joodse denke oor God en tot ’n erkenning van sy sonde teen God (vandaar sy drie dae vas voor God). ’n Nuwe wêreld het vir hom oopgegaan in sy ontmoeting met die ware lig wat elke mens verlig (Joh 1:9). Wat hy tot nou toe beskou het as godslastering (Hand 6:11), is toe altyd ’n lastering teen die ware God en sy genade. Stefanus se gesig van Jesus aan die regterhand van God, waarvoor hy sy ore toegedruk het en doodgeskreeu het (Hand 7:56-57), het Saulus nou met sy eie oë gesien! Sy eie denke en geloof oor God en sy stryd teen die Weg was toe altyd ’n veldtog teen God self. Jesus, wat vir hom ’n valse messias was, was toe waarlik die hemelse Here wat nou aan hom in goddelike heerlikheid verskyn het. Jesus van Nasaret het toe waarlik uit die dood opgestaan! Die Here oor alle lewe het hom nie uit die lewe weggeruk nie, maar uit genade aan hom ’n opdrag gegee om op te staan, en wat Jesus van hom verwag sal aan hom verduidelik word. Vir die besinning en omkeer in sy gedagtes en lewe het die Here hom in die lewe gehou.

Skrywer: Prof Francois Malan