Die Heilige Gees (1)

 

The battle for the Christian life starts with the battle for the Christian mind. —Steven Lawson

 

Die Heilige Gees (1)

David Schrock het ‘n interessante artikel oor die Heilige Gees geskryf. Ek gaan twee blogs daaraan bestee.

In Openbaring praat Johannes van  die sewe Geeste voor sy (God se) troon (1:4, 3:1, 4:5). Hierdie is ‘n verwysing na die Heilige Gees. Die gebruik van die getal sewe wys dat dit die volmaakte en volkome Gees van God is. Dit verwys nie na sewe geeste wat God verteenwoordig nie. Die getal sewe verwys, soos elders in Openbaring, na die volheid van die Gees in God se troonkamer en wat in die gemeentes woon. Ongelooflik: dieselfde Gees wat  in God se troonkamer is, is ook na die plaaslike gemeentes gestuur.

 

Hierdie sewevoudige Gees mag ook na Jesaja 11 verwys: ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: Die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. Hy sal die armes billik verhoor en die ootmoediges in die land regverdig oordeel. Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring. Hy sal regverdig en betroubaar regeer (11:1 – 5)

 

In vers 2 kry ons die sewe beskrywings van die Gees. Die Gees is:

  • Van die Here;
  • Die Gees gee wysheid;
  • Die Gees gee insig;
  • Die Gees gee raad;
  • Die Gees gee sterkte;
  • Die Gees verleen kennis; en
  • Die Gees gee eerbied vir die Here.

Hierdie sewevoudige beskrywing lokaliseer die werk van die Gees in die ruimte van wysheid en kennis. Die Here en sterkte word genoem, maar die primêre klem val op die kognitiewe. Ons sien die werk van die Gees nie primêr in sigbare optredes van bonatuurlike krag nie, maar die Gees gee vir ons ‘n geestelike lewe en maak ons denke ontvanklik vir God se verlossingswerk. Die Gees werk primêr deur vir ons geestelike insig te gee.

 

In die volgende blog gaan ons na sewe waarhede aangaande die Heilige Gees in 1 Korintiërs 2 kyk.