Die Here is my herder

 

Every Christian is also an evangelist, who should teach other and publish the glory and praise of God – Martin Luther

 

Die Here is my herder

As iemand een psalm gememoriseer het, is dit waarskynlik Psalm 23. Waarom is hierdie psalm, een van 150 in die Bybel, so gewild? Dit was nie altyd die geval nie. Sy gewildheid het maar gewissel. In die VSA is hierdie psalm gewild omdat  Henry Ward Beecher, prominente prediker, dit in 1858 as die nagtegaal van die psalms beskryf het.

It is small, of a homely feather, singing shyly out of obscurity; But, oh, it has filled the air of the whole world with melodious joy, Greater than the heart can conceive. Blessed is the day on which that psalm was born.

Teen 1916 was die psalm deel van die begrafnisdienste in die Metodiste kerke. Waarskynlik was dit as gevolg van die laaste vers:

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Die feit dat dit ‘n kort psalm is  en dat hy oënskynlik individuele godsdiens beklemtoon, het ook tot die pslm se gewildheid bygedra.

 

Waaroor gaan die psalm? Dit kan as ‘n lied van vertroue geklassifiseer word. (Soos psalm 4, 11, 16, 62 en 131) Hierdie hoop word deur twee sentrale beelde oorgedra:

  • God is die herder wat die psalmis as ‘n skaap wat versorging nodig het, sien (vers 1 – 4).
  • God is ‘n gasheer wat die psalmis as sy gas sien (vers 5 – 6).

 

Wat opvallend is, is God se oorvloedige versorging – as herder en as gasheer. Die dood speel geen rol in hierdie psalm nie, behalwe in die bekende frase: in ‘n dal van doodskaduwee (OAV). Hierdie is ‘n ou vertaling wat sy oorsprong in die Septuagint het. Die Hebreeuse woord beteken waarskynlik nie ‘n dal van doodskaduwee nie. Daarom kry ons in nuwere vertalings eerder frases soos donker dieptes (NAV). As hierdie nuwe vertalings korrek is, vermeld die psalm nooit dood nie – dit gaan eerder oor lewegewende beelde van God wat vertroue inboesem en inspireer.

 

Maar wat dan van tuis wees in die huis van die Here  tot in lengte van dae? Tot in lengte van dae  het ‘n parallelle verhouding met my lewe lank vroeër in die vers. Die psalmis is diep dankbaar vir God se versorging wat hom in staat stel om goedheid en liefde te alle tye te ondervind. Dit stel hom ook in staat om gereeld na God se huis – die tempel – terug te keer.

 

Die boodskap is kragtig: die psalmis sal nie deur vyande nie, maar deur goedheid en liefde agtervolg word. Hy sal aanhou om God se teenwoordigheid in die tempel te ondervind. Dit is hoekom die psalm so gewild is. God se beskermende leiding en gasvryheid beteken dat hierdie psalm in feitlik alle omstandighede gebruik kan word. Dit fokus op God se oorvloedige versorging: my beker loop oor (OAV).