Die huisgesin van God

 

Love is counting someone else’s needs and interests as more important than your own needs or interests or comfort. —Tim Keller

 

Die huisgesin van God

As ‘n geloofsgemeenskap moet die kinders van God mekaar met liefde en respek hanteer – dit sluit in wyse en deernisvolle ondersteuning van weduwees in.

 

Vir baie Christene is die maklik om op ‘n Sondag by ‘n erediens in te stap, ‘n paar liedere te sing, na ‘n preek te luister en reguit huis toe te gaan sonder enige betekenisvolle interaksie met medegelowiges. Ons moet tog mense se privaatheid respekteer! Ons moet ons tog nie met ander se lewens bemoei nie! Maar die mense wat langs ons in die kerkbanke sit, is ons broers en susters. Ons behoort bekommerd te wees oor hulle. Ons moet mekaar liefhê … Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar … Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê (1 Johannes 3:13 – 16). Die manier waarop  ons medegelowiges hanteer is ‘n aanduiding van ons verhouding met Christus.

 

As familie hanteer ons mekaar op ‘n sekere manier. As jy met ouer mense praat, praat jy met die respek wat hulle toekom: Maar vermaan asof hy jou vader is. Ook die jonger mans moet soos broers vermaan word; die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid (1 Timoteus 5:1 – 2).

 

Gemeentes is ‘n huisgesin – ‘n geloofsgesin en daarom moet lidmate se verhouding met mekaar dit weerspieël. As ons in hierdie wêreld wil getuig en die eenheid van die gemeente wil bewaar, sal ons die Skrif gehoorsaam en mekaar met liefde en respek behandel. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:35).