Die interpretasie van die Skrif (2)

image_pdfimage_print

A mighty flame followeth a tiny spark” – Dante Alighieri

Die interpretasie van die Skrif (2)

Ons is besig om na ‘n eenvoudiger manier om die Skrif te interpreteer te kyk. Dit begin met die lees van ‘n langer gedeelte om die groter prentjie te verstaan. Daarna gaan ons na die korter stukkie wat ons wil interpreteer. Die eerste vraag waarvoor ons te staan kom, is: Wat het hierdie teks vir sy oorspronklike gehoor beteken? Om hierdie vraag te beantwoord moet ons na twee sake kyk: konteks en inhoud.

 

  • Konteks

Daar is twee tipes kontekste wat ons moet oorweeg: literêr en histories-kultureel. Literêre konteks sluit in die literêre vorm (verhaal, wet, profesie, gedig, evangelie, brief, ens) en die omliggende konteks (wat kom voor en na die gedeelte). [In al die blogs gaan ons Hebreërs 12:1 – 3 as voorbeeld gebruik.] Hierdie gedeelte is deel van ‘n Nuwe Testamentiese brief en daarom benader ons hierdie gedeelte met die reëls vir interpretasie van briewe.

Nou kyk ons na die omliggende konteks. Hoofstuk 11 is ‘n galery van geloofshelde – ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons (12:1). As ons na hulle kyk, word ons aangemoedig om soos hulle vas te staan in die geloof. Hebreërs 12:4 – 13 praat van die Here se tug Ons verduur die Here se liefdevolle tug/dissipline  wetende dat Hy dit toelaat vir ons beswil. Later besef ons dat ons daardeur gevorm word (vers 11). Uit die konteks kan ons aflei dat 12:1 – 3 te doen het met hoe om moeilike omstandighede in geloof te verdra.

Histories-kulturele of agtergrondskonteks – hier kyk ons nou buite die teks na agtergrondinligting wat ons nodig het om sin van die gedeelte te maak. Ons wil weet van die skrywer van die boek, sy verhouding met die gehoor en hoekom hy hierdie brief geskryf het. Ons wil ook meer weet van die sake wat in hierdie gedeelte genoem word. In hierdie geval weet ons nie wie die skrywer is nie, maar ons weet hoekom hy skryf. Die gehoor is waarskynlik ‘n huiskerk in of naby Rome. Hulle oorweeg dit om die Christelike kerk te verlaat en na Judaïsme terug te keer om sodoende vervolging vry te spring. Die boek is geskryf om gelowiges te waarsku oor die gevare van wegdryf van die ware geloof – om hulle aan te moedig om vas te staan in hulle toewyding aan Christus.  Die skrywer gebruik hier die beeld van  ‘n wedloop om sy lesers aan te moedig om te volhard.

 Ons moet die histories-kulturele konteks bestudeer, want God het verkies om eerstens met  antieke mense wat in kulture wat radikaal van ons s’n verskil het, te praat. As ons die oorspronklike konteks verstaan, sal ons die betekenis van die gedeelte verstaan; ons sal in staat wees om die gedeelte op ons lewens toe te pas.

Nadat ons die konteks van die gedeelte vasgestel het, moet ons na die inhoud kyk. Daarna gaan ons volgende keer kyk.

image_pdfimage_print