Die invloed van die Fariseërs in die kerk

 

No matter when or where preached, the Word of God is infinitely more powerful than the preacher – Albert Mohler

 

Die invloed van die Fariseërs in die kerk

Die Fariseërs het dit goed bedoel, maar met elke tree het hulle teen Jesus gestry. Daar was Fariseërs, soos Nikodemus, wat Jesus regtig probeer verstaan het, maar Jesus het hulle steeds in die openbaar oor hulle praktyke en blinde kolle beskuldig. Hy waarsku ons teen die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs, want:

  • Hulle gedrag is ‘n beroepsrisiko vir elke Christen.
  • Soos suurdeeg word net ‘n klein hoeveelheid benodig om ‘n hele klomp deeg te deursuur.

 

Daar is ‘n paar gebiede waar ons baie versigtig moet wees vir die invloed van die Fariseërs:

 

  1. Die Fariseërs het hulle afgeskei van onfatsoenlike mense; Jesus het hierdie mense opgesoek

Vir die Fariseërs was reinheid dit wat hulle van alle onrein dinge – kos en mense – afgeskei het. As die vrou in Lukas 7 Jesus se voete salf, sê Simon dat Hy nie ‘n profeet is nie. As hy ‘n profeet was, sou Hy nie toegelaat het dat so ‘n vrou aan Hom raak nie. Jesus is anders. Hy het nie gekom vir die regverdiges nie, maar vir die sondaars.

 

  1. Die Fariseërs oordeel mense volgens hulle geselskap; Jesus oordeel mense volgens die individue wat hulle ignoreer

Kyk net na die reputasie wat Jesus gekry het omdat Hy ‘n vriend van sondaars en tollenaars was – ‘n dronkaard. Sondaars was nie gereken nie. Daarom het Jesus sy reputasie skade aangedoen deur vriende met hulle te wees. Jesus oordeel mense op grond van wie hulle ignoreer – die armes, die weduwees, die wese, die man wat langs die pad lê en bloei … Dit is die mense wat jou nie vir jou liefde kan terugbetaal nie. In Christus se ekonomie is om spaarsamig lief te hê gevaarliker as om oorvloedig lief te hê. Kyk ons nie ook met afkeur na mense om ons nie? Dit is nie wat Jesus van ons verwag nie.

 

  1. Die Fariseërs stel die wet bo mense; Jesus som die wet op deur liefde

Kyk net hoe ontsteld word die Fariseërs toe Jesus iemand op die sabbatdag genees het. Vir hulle is reëls belangriker as mense. Hoe som Jesus die wet op? Liefde. Liefde vir God en liefde vir jou naaste. Wie is my naaste? Die persoon wat God oor my pad stuur.

 

  1. As die Fariseërs ‘n sondaar sien, sien hulle ‘n maatskaplike saak; as Jesus ‘n sondaar sien, sien Hy ‘n waardevolle mens

Godsdienstige mense sien baie gou die probleme raak, maar vergeet van die mens agter die sonde. Die Fariseërs sien prostitute – nie vrouens nie. Hulle sien ‘n sosiale siekte wat Jerusalem vernietig. Jesus het nooit die prostituut  probleem opgelos nie, want Hy was te besig om die lewens van hierdie vrouens aan te raak. Dit is hoe jy die probleem oplos.

 

  1. Die Fariseërs soek lewe in die Skrif; Jesus verwag dat die Skrif ons na Hom toe sal lei.

Jesus het die Fariseërs daarvan beskuldig dat hulle die Skrif ondersoek omdat hulle glo dat hulle die ewige lewe in die Skrif sal kry. Maar die Skrif getuig juis van Jesus en as hulle na Hom toe kom, sal hulle die ewige lewe hê.

 

  1. Die Fariseërs doen weldade en bid in die openbaar om die aandag op hulle te vestig; Jesus bid op afgesonderde plekke en vra die ontvangers van sy wonderwerke om niemand daarvan te vertel nie.

Vir die Fariseërs was hulle godsdienstige praktyk ‘n vertoning. Jesus genees mense en sê vir hulle om niemand daarvan te vertel nie. Jesus weier om Homself deur wonderwerke te bevorder. Dit is duidelik daar is krag in stil, private aanbidding en diens.

 

  1. Die Fariseërs verwag uniformiteit; Jesus was inklusief

Die Fariseërs het verwag dat almal op dieselfde manier sou optree – glo dieselfde; het dieselfde oortuigings. Dit maak dit maklik om te besluit wie in en wie uit is. Jesus het tollenaars en selote in sy groep ingesluit. Hy verwag dus nie uniformiteit van sy mense nie. Sy volgelinge sluit mense van alle agtergronde in.

 

  1. Die Fariseërs etiketteer mense volgens hulle gedrag; Jesus doen dit op grond van hulle potensiaal.

Jesus het nooit etikette om mense gehang nie. Hy verander Sefas in Petrus, nie as gevolg van Petrus se soliede gedrag nie, maar omdat Hy in hom standvastige potensiaal raaksien. Meeste mense weet wat hulle swakpunte is. Wat hulle nodig het, is mense wat hulle potensiaal kan raaksien.

 

  1. Fariseërs het gedrag wat hulle nie kon verstaan aan Satan toegeskryf; Jesus sê dat wysheid deur optrede bewys word

Die Fariseërs kon nie verstaan waarom Johannes die Doper so afgesonder geleef het nie. Hulle kon nie verstaan hoe Jesus mense genees het nie. Daarom besluit hulle die oorsaak moet Satan wees. As jy voel jy moet onmiddellik oordeel, gaan jy foute maak. Jesus sê dat die resultate die wysheid openbaar. Soms moet ons wag voor ons oordeel – dinge is nie altyd soos ons dink hulle is nie.

 

  1. Die Fariseërs is bereid om dood te maak om hulle kultuur te beskerm; Jesus was bereid om te sterf om sy kultuur te vestig

Die Christelike geloof gaan nie oor wat jy bereid is om te doen om die status quo te handhaaf nie, maar wat jy bereid is om op te offer om God se koninkryk ‘n werklikheid te maak. Jesus se boodskap was dat ons moet bid vir ons vyande en hulle liefhê.

 

Dit is Christus se voorbeeld wat help om  God se plan om die hele wêreld met Homself te versoen, gaan verwesenlik.