Die Jode weier om te glo (5:41-47)

Die Jode weier om te glo (5:41-47) – Francois Malan

 

 

 

 

Terugblik oor hoofstukke 1-5 .

 

Die overture het Jesus aangekondig as God, die Skeppingswoord, die enigste Seun van die Vader, wat uit genade mens geword het en met die waarheid oor God se wet onder ons kom woon het (1:1-18) – die Jode moes leer die enigste Here van Deutr.6:4 is ‘n Vader met ‘n enigste Seun as medeskepper.

Die eerste dissipels volg die Lam van God as die verwagte Messias, die Seun van God, die Koning van Israel (1:29-51) – Hy kom Ou-Testamentiese offers vervul en die Joodse offerkultus vervang.

Hy verander die Joodse reinigingswater in goeie wyn en reinig die tempel, wat Hy vervang met sy opgestane liggaam vir toegang tot God (2:21) – Hy vervang die Joodse reinigingsgebruike en bring vir die Jode ‘n  ‘n nuwe manier om God te dien. 

            Uit liefde vir die wêreld stuur God Hom om die ewige lewe oop te maak vir die mense wat deur die Gees van God van Bo af weer gebore word en tot geloof gelei word in die enigste Seun van die Vader (3:1-36) – kindskap van God word bewerk deur God die Heilige Gees.

Die heidense Samaritane luister na Hom en glo dat Hy waarlik die Messias is, die Verlosser van die wêreld; ‘n heidense regeringsamptenaar met sy hele huisgesin kom tot geloof in Jesus, wat deur sy woord die lewe gee aan ‘n sterwende kind (4:1-54) – God se doel met Israel is steeds: ‘in jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Gen.12:3).

Die genesing van ‘n jarelange lamme op die sabbat lei tot ‘n diepgaande gesprek met die ongelowige Jode oor die eenheid tussen die Vader en die Seun (5:1-47). Die Seun doen niks sonder die Vader nie, en alles wat Hy doen, is werke van die Vader. Dit sluit in die opwekking van die mensdom en die oordeel, wat aan die gelowiges die ewige lewe gee. Die Seun is geheel en al gehoorsaam aan die Vader, maar ook een met die Vader. God se rus op die sewende dag beteken nie ledigheid nie, maar voortgang van die onderhouding van die skepping. Die versorging van die skepping op die sabbat is nie ‘n skending van die sabbat nie, so ook Jesus se genesing van lydendes, sy bevryding van dié wat deur die sonde gebind is, sy herskepping van die hele skepping. As die Lig in die wêreld skyn Hy oor elke dag en nag. As beeld van die werkende God is die mens geskep om te werk, vir liefdesdiens aan God en medemense – Jesus verander die Joodse opvatting oor die sabbat, en verlos die arbeid van die vloek van Gen 3:17-19.   

 

Skrywer:Prof Francois Malan