Die Jordaanrivier

Die Jordaanrivier – Coen Slabber

Die Jordaanrivier loop van Sirië tot by die golf van Akaba in ’n noord-suid rigting. Jordaan beteken letterlik afdaal – die Jordaanrivier is dus die rivier wat afdaal. Dit verloop in ’n skeurvallei en sak tot laer as seespieël. In die noordelike deel van die Huleh-meer vloei vier strome saam. Hulle word onder andere gevoed deur die sneeu van Berg Hermon wat smelt.

jordaan

Van hierdie meer vloei die rivier na die See van Galilea 32 kilometer verder. [Op die webblad is daar artikels oor die See van Galilea en die Dooie See.] Daarna verloop dit na die Dooie See 105 kilometer suid van die See van Galilea soos die kraai vlieg. Die rivier het baie kronkels en in werklikheid is die afstand 320 kilometer. Die Dooie See is ongeveer 400 meter onder seespieël.

Baie belangrike gebeurtenisse vind by hierdie rivier plaas. Kom ons kyk na ’n paar:

  •  Die eerste vermelding van die Jordaan kry ons in Genesis 13. Abram en Lot moet die land tussen hulle verdeel. Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos ’n tuin van die Here. Lot kies die Jordaanvallei en trek ooswaarts. So skei hy en Abram.
  •  In Genesis 32 lees ons dat Jakob by die Jabbokdrif (die Jabbok was ’n sytak van die Jordaan) met ’n man gestoei het. Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het … Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ’n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.
  •  Die Israeliete moes deur die Jordaan trek om in die beloofde land te kom. Die rivier was vol – oor al sy oewers. Maar dan: Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan (Josua 3).
  •  Nadat Elia vir Agab gesê het dat daar vir ’n paar jaar geen dou of reën sou val nie, trek hy ooswaarts na die Kritspruit net anderkant die Jordaan (1 Konings 17).
  •  Elia het met sy mantel op die water van die Jordaanrivier geslaan: Die water het na links en na regs verdeel. Hy en Elisa is op droë grond deur die rivier. Hulle staan nog en gesels toe kom daar ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in (2 Konings 2).
  •  Naäman, die hoof van die leer van Aram, ontwikkel melaatsheid. Sy vrou se bediende beveel aan dat hy na Elisa moet gaan, want hy sal hom kan genees. Elisa se opdrag is dat Naäman hom sewe maal in die Jordaan moet was. Hy was woedend – hy het iets meer verwag. Uiteindelik oorreed sy amptenare hom om tog vir hom in die Jordaan te was – en sy vel het gesond geword soos dié van ’n klein seuntjie en hy was weer rein (2 Konings 5).
  •  Elisa en die profete wat hy onderrig het trek na die Jordaan. Terwyl hulle besig was om bome af te kap val een man se byl in die water. Nadat die man vir Elisa gewys het waar die byl ingeval het, kap Elisa ’n stuk hout af en gooi dit op daardie plek in. Dit het die byl bo laat dryf (2 Konings 6).
  • Jesus het van Galilea getrek na Johannes die Doper by die Jordaan. Johannes het daar vir Jesus gedoop. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheerlik ek My (Matteus 3:13 – 17).
  • Jesus en sy dissipels was in die streke van Sesarea-Filippi by die Jordaan. Daar vra Jesus vir sy dissipels: Maar julle …. wie, sê julle is Ek? Daarna volg Petrus se belydenis: U is die Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:13 – 20).
  • Jesus is op pad na Jerusalem. Hy reis deur Jerigo wat by die Jordaan was. Daar maak hy twee blindes gesond (Matteus 20:29 – 34)
  • Jerigo was ook waar Jesus en Saggeus, die hooftollenaar, mekaar ontmoet het en waar Jesus by hom tuisgegaan het (Lukas 19:1 – 10).

Uit hierdie kort oorsig is dit duidelik dat die Jordaanrivier ’n belangrike rol in die geskiedenis van Israel gespeel het, maar ook in die lewe van Jesus.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber