Die Kedronspruit

Die Kedronspruit – Francois Malan

Rina vra:

Ek wil graag meer uitvind van die Kedronspruit. Dit blyk dat die bloed van die offerdiere in die spruit afgespoel het en die water donker verkleur het, vandaar die naam?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Hebreeus beteken kidron ‘troebel’, afgelei van die werkwoord kadar ‘troebel word’ of ‘vuil wees’. Dit is die naam wat vir die vallei en spruit gegee is waar Jerusalem se vullis weggegooi is. Gaan lees in:

1 Konings 15:13 waar koning Asa sy ouma Maäka se afskuwelike Asjerabeeld laat verbrand het (2 Kronieke 15:16 sê: waar hy dit in die vuur gegooi het, die vuur wat op die ashoop gebrand het).

2 Konings 23:4,6,12 waar koning Josia al die puin van die afgodsaltare wat hy afgebreek het in die Kedronvallei weggegooi het.

2 Kronieke 29:16 waar koning Hiskia alle onreinhede uit die tempel in die Kedrondal laat weggooi het, en 30:14 waar die volk die altare afgebreek het en in die Kedrondal gegooi het.

Die spruit is waarskynlik so genoem vanweë die vuil afvalwater. Dit is ‘n spruit tussen die ou stad Jerusalem en die Olyfberg wat gewoonlik slegs in die winter water gehad het – Israel kry winterreën soos die Boland by ons. Die vallei was ook die begraafplaas van die armes, vgl.

2 Konings 23:6 waar hulle die as op die grafte van die gewone mense moes strooi.

Die Kedronvallei was die grens van die stad Jerusalem. Toe Dawid moes vlug vir Absalom het hy en sy volgelinge die stad verlaat, deur die Kedronspruit getrek en die woestyn in gevlug (2 Samuel 15:23). So het Jesus, die afstammeling van Dawid, die stad Jerusalem verlaat en in Getsemane teen die Olyfberg sy worstelstryd in gebed gaan stry, waar Judas met die soldate en tempelwagte Hom gevange geneem het (Johannes 18:1).

Sedert die 4e eeu n.C.  het die kerk die Kedronvallei gesien as die plek waar God oor die wêreld sal oordeel, deurdat hulle die Kedronvallei met die Josafatlaagte van Joël 3:2,12 geïdentifiseer het (hoewel daar in Hebreeus ‘n verskil is tussen ‘n vallei en ‘n breë laagte). Die naam Josafatlaagte is nêrens elders bekend nie as net in Joël wat die naam waarskynlik self gevorm het om die oordeelsplek aan te dui, want Josafat beteken ‘die Here oordeel’.

Kedronspruit loop in die Hinnomdal en word daarna Vuurdal (Wadi en Nar) genoem. Waar die Vuurdal in die Stadsdal loop word dit Tofet genoem, waar kinders in die vuurwarm arms van die afgodsbeeld Molek geoffer is (2 Konings 23:10; 2 Kron 28:3). In die wintertyd loop die spruite se water na die Dooie See toe. Volgens Jeremia 7:32; 19:6,11 sal Tofet Moorddal genoem word waar die lyke sal ophoop. In Jesaja 30:30 word verwys na die Here se gloeiende toorn van sy oordeel. Daarom het die Targoem, dit is die Aramese vertaling van die Ou Testament, die Hinnomdal (ge Hinnom) vertaal as ‘die hel’, wat Gehenna geword het in Matteus 5:22 (NAV vertaal Gehenna as ‘helse vuur’).

Ek betwyfel die afspoel van die offerdiere se bloed in die spruit. Die bloed van offerdiere is juis op die altare verbrand (vgl. Eks. 29:12; Lev 4:18; ens.). Die as van die altare en die mis van die diere kon wel op Jerusalem se ashoop weggegooi word.

 

Skrywer: Prof Francois Malan