Die kerk as familie

To be honest is to confront the truth. However unplesant and inconvenient the truth may be, I believe we must expose and face it – Martin Luther

 

Die kerk as familie

‘n Baie algemene beeld wat van die kerk in die Bybel gebruik word, is die van ‘n familie. Watter implikasies het dit? Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Die lede versorg mekaar

In ‘n disfunksionele familie is die lede selfsugtig, onafhanklik en individualisties. Hulle probeer nie om mekaar beter te leer ken nie; hulle versorg nie mekaar nie. Maar wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (Jakobus 2:14 – 17).

Ware geloof word uitgedruk in liefde vir jou medegelowiges. Jakobus praat nie hier oor Bybelstudie nie, maar oor liefdesdae. Ons omgee vir medegelowiges is meer as net geestelik – ons moet ook in hulle fisiese behoeftes voorsien.

 

  • Die lede spandeer tyd saam

Lede van ‘n familie spandeer tyd saam – tyd om mekaar beter te leer ken. Dit beteken nie net tyd tydens die geskeduleerde byeenkomste nie, maar ook buite hierdie byeenkomste. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede … Hulle het elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in eenvoud geëet (Handelinge 2:42, 46). Die moderne mens is egter bang vir intimiteit – ons wil nie weet wat in mekaar se lewens aangaan nie.

 

  • Die lede het mekaar lief

Groet al die medegelowiges met ‘n soen van Christelike broederskap (1 Tessalonisense 5:26). Wat hierdie vers basies sê, is dat ons ons liefde vir medegelowiges sigbaar moet uitdruk.

 

  • Die familie groei

Die getalle neem toe of deur natuurlike aanwas (nuwe kinders) of deur die uitgebreide familie. Net so in die kerk. Daar moet gedurig nuwe bekeerlinge bygevoeg word, maar daar is ook gelowiges wat van ander kerke kom.

 

  • Die lede deel die verantwoordelikhede

Elke lid van die familie het ‘n spesifieke rol wat hy/sy moet vervul. In 1 Johannes 2:13 – 14 skryf Johannes aan die vaders, die jongmense en die kinders en wys elke groep op hulle verantwoordelikhede

 

  • Die lede weerspieël die drie-enige God in hulle verhoudings

In 1 Johannes 1:1 – 3 lees ons:

Van die begin af was Hy daar.  Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak.  Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom;  ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê.  En die gemeenskap waarvan ons deel het, is dié met die Vader en sy Seun, Jesus Christus.

Hierdie gemeenskap van gelowiges is die lewensbron van die kerk.

 

Kyk ons na hierdie implikasies is dit duidelik dat baie gemeentes maar disfunksionele families is.