Die kerk vandag (11)

 

Too many are willing to sit at God’s table, but not work in his field. —Vance Havner

Die kerk vandag (11)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Alle bediening is berou

Die verlore seun hardloop huis toe. Sy vader hardloop hom tegemoet. Dit is ‘n pragtige prentjie van berou en vergifnis – dit is versoening. Die hele storie het begin toe die seun vir sy vader gesê het: “Ek weet beter. Gee vir my wat myne is en ek kan dit nou gebruik soos ek wil.” Die vader was bereid om die seun toe te laat om die moeilike les van dinge op jou eie doen, te leer.

Elke dag gee God aan ons ‘n nuwe porsie genade – genoeg om dit wat oor ons pad kom te hanteer. Hy plaas hierdie genade in die oop hande van ons geloof: “Dit is vir jou.” Nou het ons ‘n keuse. Gaan ek sê: “Ek vertrou U, Vader. Gee my die wysheid om te weet hoe om dit reg te gebruik.” Of gaan ek soos hierdie seun sê: “Gee my vandag se genade. Ek sien U weer môre.” Dan gaan ons deur die dag en ons misbruik sy genade – ons gebruik dit op.

 

Daar is meer genade in God as wat daar sonde in ons is. Die punt is nie dat ons sy genade aan ons moet rantsoeneer nie. Ons kan God vertrou vir die genade wat Hy gee en werk asof dit kosbaar is. Of ons kan God se genade aanneem en dit verwring, omdat ons aanvaar dat sy genade ‘n lisensie vir ons is om enigiets te doen.

 

Ons word elke dag getaak om ons kruis op te neem. En elke dag kry ons nuwe genade. Elke dag herbesin ons. Elke dag het ons berou. Wat nodig is, is ‘n terugkeer na God en om ons om Hom te heroriënteer. Die HG roep ons gedurig terug na die Bybelse beeld van die kerk en na parameters vir bediening gesentreer op die evangelie. Ons voorgangers het sekere merkers opgerig: Moenie verder as hierdie punt gaan nie. Maar ons is arrogant; ons weet beter; ons is slimmer en meer verlig. Daarom ignoreer ons die merkers – ons wil net groei.

 

Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en leifde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon (2 Timoteus 1:13 – 14). Laat ons na die evangelie terugkeer.