Die kerk vandag

image_pdfimage_print

 

And though this world with devils fill’d
Should threaten to undo us,
We will not fear, for God hath will’d
His truth to triumph through us.

Martin Luther.

 

Die kerk vandag

Die kerk word vandag deur verskeie interne en eksterne bedreigings gekonfronteer. Ons moet bid dat ons plaaslike gemeentes versterk sal word sodat hulle steeds bakens van lig in ‘n donker wêreld kan wees. Maar wat maak ‘n gemeente sterk? Jy kan dit nie sê deur na die gebou of die aantal mense wat eredienste bywoon, te kyk nie.

 

Hoe kan ons ons plaaslike gemeentes die plekke maak waardeur Christus sy werk kan doen?

  1. Gesonde leer.

Verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie (2 Timoteus 4:1 – 3). Daar is genoeg waarhede in die Bybel wat duidelik is. Stem dit wat ons leer ooreen met God se woord? Oppas vir gevoelens, persepsies, voorkeure en menings.

 

  1. ‘n Sterk gemeente beklemtoon geloof en gebed

Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges (Efesiërs 6:18). As daar lidmate is wat God se woord ken en glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het, word hulle gebede doeltreffend en kragtig.

 

  1. In ‘n sterk gemeente kry ons aanbidding wat God verheerlik

Ons kan privaat aanbid, maar dit is iets spesiaal as gelowiges bymekaar kom en saam aanbid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing (Kolossense 3:16). Ons moet vooraf ons harte voorberei en die erediens met ‘n gesindheid wat bereid is om te leer, bywoon – gereed om te hoor wat die Here vir ons wil sê.

 

  1. In ‘n sterk gemeente dien mense volgens hulle gawes

Die Heilige Gees gee spesiale gawes aan gelowiges om hulle in staat te stel om in die liggaam van Christus te dien. Ons het mekaar nodig as ons werklik wil dien. As ons ons geestelike gawes ontdek en daarvolgens dien, sal ons doeltreffender wees – en meer vreugde ondervind.

 

  1. ‘n Sterk gemeente is verenig

Die liggaam van Christus bestaan uit mense met verskillende voorkeure en oortuigings. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God (Efesiërs 4:13). Ons mag nooit toelaat dat individuele verskille ons verdeel nie.

 

  1. ‘n Sterk gemeente het ‘n visie vir ‘n verlore wêreld

God gee aan sy kinders geleenthede om die boodskap van verlossing met ander te deel en hulle dissipels van Hom te maak.

 

Soos ons nadink oor ons doelwitte vir 2015 moet ons ons gemeentes versterk deur hierdie beginsels na te volg. ‘n Sterk gemeente gebeur nie sommer vanself nie – dit begin by individue soos ek en jy.

 

image_pdfimage_print