Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (5)

 —William Culbertson

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (5)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

 

Ons kyk vandag na die sesde waarneming oor die koninkryk in die Matteus-evangelie.

 

6.Koninkryk vat die gewigtigheid en belofte van Jesus se bediening en verlossingsboodskap saam in Matteus

Die laaste twee verwysings na die koninkryk in Matteus hou verband met die eindtyd. In Matteus 25:31 – 46 kry ons Jesus se beskrywing van die laaste oordeel – die skape word van die bokke geskei.

Die uitspraak oor die skape is positief: Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Hierdie gedeelte beklemtoon ook die etiese eienskappe van koninkryksmense – versorging van dié wat honger en dors is, wat alleen is, wat siek is … En dan die vernietigende oordeel aan die einde: Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

 

‘n Paar dae later maak Jesus sy finale verklaring oor die koninkryk. Jesus en sy dissipels is besig met sy laaste paasmaaltyd. Dit is ook die geleentheid waar die nagmaal ingestel word. Na drie jaar waartydens Hy sy dissipels oor die koninkryk van God onderrig het, sluit Hy af: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink (26:29).

 

Die koninkryk van God is dus ‘n sentrale motief in die nagmaal – soos dit in die seënuitsprake en die Ons Vader gebed is. Jesus se oriëntering en fokus op die koninkryk bly vasstaan al is Hy besig om die kruis te nader.

 

Volgende keer gaan ons kyk hoe die etiek van die koninkryk konvensionele soms wysheid weerspreek.