Die koste van dissipelskap

The tragedy of modern man is not that he knows less and less about the meaning of his own life, but that it bothers him less and less – Vaclav Havel

Die koste van dissipelskap

As Jesus Christus my roep om ‘n dissipel van Hom te wees, staan ek voor ‘n groot uitdaging: ek moet myself versaak en my met Jesus Christus se lyding, verwerping en dood identifiseer. Die probleem is dat ons dikwels God se wysheid as dwaasheid beskou.

Baie van die profete se optrede kom vir ons dwaas voor:

 

  • Jesaja loop vir drie jaar lank naak en kaalvoet rond.
  • Jeremia dra ‘n swaar houtjuk om sy nek.
  • Esegiël moes in die openbaar ontlasting eet.
  • Hosea moes met ‘n prostituut trou.

Hoekom word Christene as dwaas beskou?

  • Die ideaal van die wêreld is om in beheer te wees. Die Christelike geloof beteken dat ek my beheer afstaan en totaal van die Here afhanklik word – ek gee myself op om sy kruis op te neem; dit is die begrafnis van my eie afhanklikheid. Om lyding te aanvaar is nie normaal nie – om die waarheid te sê ons doen alles in ons vermoë om lyding te vermy of ten minste te verlig. Enigeen wat vrywillig pyn kies, word gesien as dwaas. Die evangelies is egter baie duidelik dat dissipelskap met koste gepaard gaan. As Jesus Christus my roep duld Hy geen mededingers nie. Die bekende Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, wat deur Hitler tereggestel is, het gesê: When Christ calls a man, he bids him come and die.
  • Die oomblik as jy ‘n dissipel van Jesus Christus word, posisioneer jy jou as teen die bestaande kultuur van die wêreld. Dit is nie so maklik nie, want almal, ook die kerk, wil graag relevant wees.
  • Die manier waarop ‘n dissipel op swaarkry reageer. Die normale reaksie is om so gou as moontlik van die swaarkry ontslae te raak. Die Christen, daarenteen, besef dat hy God se agenda moet uitleef. Hierdie agenda sluit dinge in wat die wêreld as dwaas beskou: Jy moet jou vyande liefhê; jy moet diegene wat jou vervloek seën … Dit is ‘n siening wat die wêreld verwerp.

Volgelinge van Jesus Christus sal baie name genoem word – meeste afbrekend. Maar ons identiteit word nie bepaal deur die name wat die mense vir ons geen nie, maar ons identiteit kry ons van die Here.