1

Die leë graf: historiese geloofwaardigheid

 

God promises the Christian heaven after death, not before it. —John Blanchard

Die leë graf: historiese geloofwaardigheid.

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

 

Die mense in Jerusalem het geweet waar Jesus begrawe is – Jode en Christene. Jesus is immers deur ‘n lid van die Joodse Raad begrawe – Josef van Arimatea. Die vroue wat Jesus gevolg het, het sy begrafnis waargeneem. Maar toe die apostels begin verkondig dat Jesus opgestaan het, moes die graf leeg gewees het.

  • Die volgelinge van Jesus sou tog nie geglo het dat Hy opgestaan het as sy lyk nog in die graf gelê het nie. Dit is tog verregaande om te verkondig dat iemand opgestaan het en sy dooie liggaam lê nog in die graf.
  • Al het die volgelinge van Jesus verkondig het dat die graf leeg was, sou niemand anders dit tog geglo het nie. Maar die aantal gelowiges in die stad waar Hy in die openbaar gekruisig is, het vinnig gegroei.
  • Al het die mense geglo dat Jesus opgestaan het, sou die Joodse owerhede die “gerug” vinnig in die kiem gesmoor het. Hulle sou na die graf gewys het of selfs die graf oopgemaak het  om die lyk vir die mense te wys. Geen so ‘n dispuut het plaasgevind nie.

Ons kan nie sê dat die Joodse owerhede nie die Christelike beweging ernstig bejeën het en hulle daarom nie aan die storie van die leë graf gesteur het nie. Hulle het dan juis vir Jesus aan die Romeinse owerhede oorgegee vir teregstelling. Hulle het selfs die Fariseër, Saulus van Tarsus, opdrag gegee om die Joodse Christene te vervolg. Die Joodse owerhede in Jerusalem wou hierdie Jesus-beweging uitroei.

Kritici beweer dat Jesus nie werklik begrawe is nie. Is dit waar? Nee.

  • Jesus se begrafnis word in baie vroeë, onafhanklike bronne beskryf. Markus is die vroegste evangelie en is waarskynlik voor 70 nC geskryf. Baie teoloë glo dat Markus ‘n nog vroeër bron gebruik het toe hy oor Jesus se lyding en dood geskryf het. Paulus in 1 Korintiërs 15:3 – 5 vertel dat die belangrikste wat hy aan die gemeente oorgedra het, het hy ook ontvang. Hy het dit waarskynlik tydens sy besoek aan Jerusalem ontvang. Paulus is in 33 bekeer en sy besoek aan Jerusalem was waarskynlik in 36. Dit is binne vyf jaar na Jesus se dood. In hierdie gedeelte kry ons ‘n opsomming van die sentrale punte van die Christelike geloof:
  1. oChristus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;
  2. oHy is begrawe.
  3. oHy is … op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.
  4. oHy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk.

Hierdie vier stellings van Paulus kry ons ook in die evangelies en in Handelinge. [1 Korintiërs 15:3 – 5; Markus 15:37 – 16:7 en Handelinge 13:28 – 31.] Hierdie merkwaardige ooreenstemming oor die basiese gebeure, is bewys daarvan dat hulle eg is. Daar is dus heelwat vroeë bronne wat getuig dat Jesus wel begrawe is.

  • Josef van Arimatea. Die Bybel beskryf hom as ‘n ryk man, ‘n lid van die Joodse Raad wat Jesus veroordeel het. Die Joodse Raad was ‘n soort van ‘n hoë hof. Die lede was prominente Joodse leiers. Daar was ‘n verstaanbare antagonisme onder die vroeë Christene teenoor hierdie Raad. Christene het die Raad daarvan beskuldig dat hulle Jesus se moord deur die Romeine georganiseer het. God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak (Handelinge 2:36). Dit was deel van Petrus se toespraak op die eerste pinksterdag. Die Christene sou tog nie ‘n storie opmaak van ‘n lid van die Joodse Raad wat aan Jesus ‘n behoorlike begrafnis gegee het nie.

Ons het nou gesien dat Jesus begrawe is. Watter bewyse het ons dat die graf leeg was?