Die leer van die hel (4)

image_pdfimage_print

“When God saves you, he doesn’t do it because you gave him permission. He did it because he’s God.” Matt Chandler

Die leer van die hel (4)

J. D. Greear het ‘n blogreeks oor die hel geskryf. Hoekom? Want dit was ‘n onderwerp wat veroorsaak het dat hy amper sy geloof verloor het. Hy sê dat die hel ‘n moeilike werklikheid is, maar dit is iets wat die Bybel ons leer. Ons kan nie vir God en sy wêreld verstaan as ons nie stoei met die leer van die hel nie. Wanneer laas het jy ‘n preek oor die hel gehoor? Daar is soveel verwarring oor hierdie onderwerp dat ek besluit het om na hierdie artikels te kyk.

‘n Algemene vraag is: “As mense net verlos word omdat hulle die evangelie glo, wat word dan van daardie mense wat nooit die evangelie gehoor het nie?” Die idee dat God mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie in die hel gooi, klink onregverdig. Hoe kan jy mense aanspreeklik hou vir iets waarvan hulle nog nooit gehoor het nie?

Meeste mense glo vandag dat aan die einde sal alles uitwerk. Almal kom in die hemel behalwe miskien Sadam Hussein en kindermolesteerders. Maar is dit wat die Bybel – veral Romeine 1 – sê?

 

  • Alle mense het van God gehoor

Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring (Romeine 1:19). Hoe is dit moontlik?

Een: Die mooiheid en skoonheid van die skepping leer vir ons dat daar ‘n Skepper is. Daar is ‘n natuurlike, ingebore sin van wonder en eerbied as ons na die skepping kyk. Ons kyk om ons en instinktief weet ons dit kom nie van nêrens nie. Die skepping roep uit dat ‘n almagtige Skepper teenwoordig is.

Twee: Die teenwoordigheid van ‘n gewete in elkeen van ons wat vir ons sê dat daar ‘n Wetgewer is. Ons weet dat daar reg en verkeerd is. As my gewete vir my sê dat daar iets verkeerds is, is dit ‘n aanduiding dat daar Iemand is aan wie ek eendag verantwoording moet doen.

  • Alle mense het God verwerp

Die mens is sedert Adam se tyd in opstand. Al verwerp ons God se gebooie en stel ons eie standaarde verbreek ons hulle – ons weerstaan wat reg is en het dit wat verkeerd is lief. Ons soek nie God se heerlikheid bo alles nie; ons soek ons eie eer en plesier. Daarom sê Paulus:God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk (Romeine 1:18). Die Skrif laat geen twyfel oor hoe universeel hierdie opstand is nie: Daar is nie een wat goed doen nie.  Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar een verstandige is, een wat na die wil van God vra. Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard, daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie (Psalm 14:1 – 3). Hierdie verwerping van God kom in verskillende vorme: ateïsme, afgodery, wettisisme, ens. Al hierdie dinge het een ding in gemeen: hulle is uitdrukkings van die mens wat die gesag en goedheid van God verwerp.

  • Alle mense is voor God skuldig

Soms onderskat ons die boosheid van ons sonde. Ons doen verkeerde dinge (soos die gebruik van dwelms, buite-huwelikse seks, ens), maar die kern van sonde is dat ons God haat; ons wil ons nie aan Hom onderwerp nie. Dit alles beteken ons is skuldig, nie oor dinge wat ons nooit gehoor het nie, maar oor dit wat ons gehoor het, maar verwerp het. Ons word veroordeel omdat ons die heerskappy van God verwerp het.

  • Net Christus kan ons red

Soos ;n goue draad loop die volgende tema deur die Skrif: daar is geen verlossing moontlik behalwe deur Christus nie. In die Nuwe Testament kry ons verlossing in God deur die werk van Christus – geen ander manier nie. Ons moderne kultuur haat enige vorm van eksklusiwiteit. Die evangelie van Jesus is ‘n ander soort eksklusiwiteit. Die evangelie leer ons dat aanvaarding deur God nie berus op iets wat ons gedoen het nie. God gee verlossing as ‘n gawe aan almal wat hulle bekeer en dit aanvaar. “All religions are exclusive, but Christianity is the most inclusive exclusivity there is.” (Tim Keller)

  • Wat werklik nie regverdig is nie, is dat ons die moontlikheid het om gered te word

Hoe meer ons van ons eie geregtigheid oortuig word, hoe meer pla God se geregtigheid vir ons. As ek eers besef dat die hel my voorland is, eers dan verstaan ek die grootheid van sy genade. As jy steeds bekommerd is oor die leer van die hel eerder as om verbaas te staan oor God se verlossing, moet ons God vra om ons te help om ons eie toestand te help verstaan … en sy groot genade.

  • Dit is onregverdig vir ons wat gehoor het om niks te doen nie

Lees die eerste paar hoofstukke van die Romeine-brief en dan besef ons dat ons almal veroordeel is, maar dat ons deur Christus verlos kan word. Sodra ons dit besef het ons drie keuses: Ek kan dit ontken en dit is wat baie Christene doen – hulle pas die Bybel aan om hulle eie voorkeure te pas; ek kan dit ignoreer – jy mag met die leer van die hel saamstem, maar jy leef asof dit nie ‘n werklikheid is nie; ek kan dit glo en aanvaar – dan kan ek soos Jesaja sê: Hier is ek Here, stuur my. Hulle het vir Charles Spurgeon gevra wat sy mening is oor hierdie mense wat nog nooit van Jesus of die evangelie gehoor het nie. Sy antwoord laat ons dink: “How can they be saved without ever hearing about Jesus? We should rather ask, how can we be saved if we do nothing to take the gospel to them?”

 

image_pdfimage_print

You may also like...