Die leuens wat die kerk vertel (2)

The greatest missionary is the Bible in the mother tongue. It needs no furlough and is never considered a foreigner. —William Cameron Townsend

Die leuens wat die kerk vertel  (2)

Steve Hill (Spiritual Avalanche) beskryf hoe hy in ‘n whiteout beland het. Dit is waar die sigbaarheid skielik verminder as gevolg van sneeu. Hy voel dit is wat vandag in die kerk gebeur. Die verwysingspunte – die antieke landmerke – is bedek en ons sien hulle nie meer nie. Dwaalleer en waarhede word vermeng en lidmate word gedisoriënteerd – selfs blind.

Ons begin vandag met die eerste van Hill se sewe leuens.

  • Oorbeklemtoning van voorspoed

Vir sommige predikers (dink maar aan die Amerikaanse TV predikers) is die motivering om te preek geld. Paulus het reeds hierteen gewaarsku: Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak (1 Timoteus 6:5). Maar opregte gelowiges aanvaar ook hierdie boodskap van voorspoed – en haal die Skrif aan om hulle saak te ondersteun. Hulle verwys na die verbondseëninge wat God aan Israel belowe as hulle gehoorsaam bly (Deuteronomium 28:1 – 13). Hulle haal verse uit Spreuke en die Psalms aan waar  voorspoed aan vrygewigheid, harde werk, ‘n goddelike leefwyse en geloof  verbind word (byvoorbeeld Psalm 112). Hulle haal Lukas 6:38 aan: Gee, en vir julle sal gegee word. Hulle haal Paulus aan wat oor die finansiële beginsels van saai en oes geskryf het. Die probleem is nie as jy geld het nie, maar as die geld jou het. Daar is dinge wat hierdie voorspoedsteoloë nie noem nie:

  • Jesus het teen gierigheid gewaarsku: Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie (Lukas 12:15).
  • In sy bergrede waarsku Jesus teen skatte op aarde bymekaarmaak (Matteus 6:19 – 24) waar ons onder andere lees: Julle kan nie God en Mammon dien nie.
  • Jesus beklemtoon die versorging van die armes (Matteus 25:31 – 46).
  • Johannes waarsku teen die mens se liefde vir wêreldse dinge –  alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besittings (1 Johannes 2:15 – 17).
  • Jesus het nie geleef en gesterf om ons voorspoedig te maak nie, maar om ons te verlos (Matteus 1:21).
  • God kies die armes om ryk in geloof te wees – erfgename van sy koninkryk: Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is , om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? (Jakobus 2:5).

Voorspoedspredikers ignoreer Paulus se kragtige waarskuwing aan Timoteus: Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid (1 Timoteus 6:9 – 11).

Voorspoedspredikers moedig God se mense aan om rykdom na te jaag – hulle bepaal selfs jou geestelikheid volgens die motorkar wat jy ry. Wat het dit nou met die evangelie van Jesus Christus te doen?

Volgende keer kyk ons na die tweede leuen: ‘n oordrewe siening van genade.